“Lankal sat”

Jare gelede werk ek die Saterdag ‘n 7-7. Nou vir die van julle wat nie veel van verpleging af weet nie – dis nou wanneer ‘n nurse van 7 am die oggend, tot 7pm die aand, werk. Oor naweke het ek gewoonlik twee sewe-sewes gewerk, Saterdag en Sondag. En asof dit nie oorgenoeg was nie, sommer die Maandag ‘n 7-1, sodat iemand darem geweet het wat die naweek met die pasiënte gebeur het  en dan kon “oorgee” aan dié wat gerus het en familiebraais gehou het…

Dié betrokke Saterdag, soos baie ander, was die psigiatriese eenheid betreklik stil. Gewoonlik het die psigiaters meeste van die pasiënte op “naweek pas” gestuur. Dit beteken die pasiënt kry Vrydag oggend hul “pas” pille (‘n halwe sak vol drugs…), net genoeg tot Sondag aand toe, wanneer hulle dan weer moet terug rapporteer. Sommige het ‘n vergunning tot Maandag oggend gehad en moes darem net terug wees voor dokter’s rondtes. Die redenasie agter die vergunning van ‘n “pas”, was om die individu die kans te gee om weer gewoond te raak aan hul huislike omstandighede en die lewe buite die beskerming van die psigiatriese eenheid. Nodeloos om te sê, sommige het meer mal en histeries vroeg op ‘n Sondag oggend reeds kom aanmeld – die lewe maar nog net so kak soos voor die 5de selfmoord poging van drie weke terug. Ander het weer goed aangepas en het vroeg in die volgende week gekwalifiseer vir ontslag.

Daar was ook die pasiënte wat nie op pas kon gaan nie, hetsy omdat hul huis te ver was, of omdat hulle nog té suicidal, té angstig, té psigoties of té depressief was.

So het ek dan meeste van my tyd aan diens in die teekamer van die verpleegstaf gespandeer. Dit was ‘n heilige vetrek waar pasiënte en ongeskikte mense nooit welkom was nie. Veral nadat die eenheidsbestuurder, wat bekend was vir haar perfeksionistiese en half obsessiewe-kompulsiewe persoonlikheid, ‘n psigotiese man op die vloer gekry het waar hy besig was om draad te trek. Na dié ontstellende insident het die teekamer hoog heilige status bereik. Ek het gedink dit was baie snaaks en so ook my gewildheid effens verloor. Maar oor naweke het ek die streng reëls so bietjie skiet gegee. Dan het ek die klein groepie pasiënte (dié wat daartoe in staat was), toegelaat om by my in die vertrek van hoogheiligheid te kom sit en gesels.

So gesels ons die dag oor ons reis ervarings, ruil staaltjies uit, oor veral die lang pad Kaap toe. Die een vrou, kom ek noem haar Leen, was nog erg gesedeer. Maar soos dit maar is met mense met bipolêre gemoedsversteurings, onlangs deur ‘n ernstige maniese fase, vat dit ‘n emmer vol sterk drugs om hulle terug te bring nie die realiteit (altyd gewonder wie besluit oor die “korrekte” realiteit – seker dié wat nie kan cope met ‘n vrou wat haar in die openbaar kaal uit trek en Bybel versies uitgil nie?) toe.

Leen, nog steeds manies, ten spyte van die al die drugs, wil net ook so graag haar ervaringe deel. Ontoepaslik, in die middel van ‘n ander se meer bisarre storie, met ‘n afgestompte monotone stem, sonder om asem te haal, begin sy haar storie te vertel. “Ons het almal in my oom se kar afgery Kaap toe – kan nie onthou hoe ons almal in die kar gepas het nie – maar ons het – dit was ‘n Passat – maar hy was nie pas sat nie – hy was lankal sat… “ En net daar, op daai oomblik, terwyl Leen haar storie op die mees verveligste manier aanhou vertel, kyk ons ander, dié van ons in die vertrek van hoogheiligheid, wat ironie verstaan, vir mekaar, glimlag en bars kliphard uit van die lag.

Nou hierdie lang intro bring my eintlik by iets heeltemal anders. Vandag het ek bietjie MyTyD nodig. Gewoonlik werk ek op Vrydae net tot 1pm, dan vat ek bietjie af. Soos my sussie sê, Vrydag is Mydag!  Die afgelope vyf Vrydae kon ek nie MyTyD hê nie, want dié mense wat my betaal vir my dienste, het my nodig gehad op Vrydae. So vandag, al rym dit nie, al is dit in die middel van die week, al het ek baie werk, gaan ek na 1pm MyTyD by myself opeis. Soos ek vir buurman Willie gesê het na ons oggend stappie (ja, ons stap al 2,5km in die oggend) vanoggend, as jy skuldig voel omdat jy MyTyD eis, sê net vir jouself, ek het energie nodig om energie te gee.

Vir my, is MyTyD ‘n vereiste, nie ‘n luukse nie! Ek besef vandag ek is nie pas sat nie, ek is al lankal sat… en ek moet nog baie mense oor hoë brûe en duisende kilometers, na lig en insig toe, aanry…

“Moan”

Nee, dis nou nie dit wat mense doen as hulle hulself of ander seksuele plesier verskaf nie, sorry… Miskien skryf ek later daaroor…

Om te moan, of dan die korrekte afrikaanse woord, kla, is volgens die Verklarende Afrikaanse Woordeboek, 9de  Uitgawe, 2010, “om jou op ‘n droewige of ontevrede manier uit te laat oor iets wat hinder”. Die persoon wat dan kla, word ‘n ‘klaagsieke’ genoem, menende “wat aanhoudend tot vervelens toe kla”. Dan is daar ook die woord ‘klaerig’, wat verduidelik word as “lief om oor alles te kla”.

Verder is daar ook die woorde ‘klakous’ of ‘klaagkous’ beskryf as “’n klaagsieke mens”.

Vandag wil ek bietjie moan oor onse moaners, of dan – kla oor onse klaerige, klaagsieke klakouse.

Behalwe vir die skerp titel, was die nog ‘n rede hoekom ek Larry Winget se boek “Shut up, stop whining, and get a life” onmiddelik gekoop het, omdat ek die boek oopgeslaan het op bladsy 10, waar ek die volgende donker gedrukte letters raakgelees het:

As jy ongelukkig, onsuksesvol, siek of bankrot is – hou dit asseblief vir jouself. Die res van ons wil en hoef nie daarvan te hoor nie, so moenie verplig voel om dit te deel nie.

Eintlik kan ek maar met bogenoemde afsluit, maar tog voel ek verplig om verder te deel, anders kwalifiseer ek nie vir klaagsiek status nie.

Ek glo, om ‘n klaerige, klaagsieke klakous te wees, gaan hand aan hand met die hoeveelheid drama in ‘n individu se lewe. Ja, daar is dié wie se lewe heeltemal te leeg is sonder drama. Om gelukkig en tevrede te wees, veral met die allerdaagse, is nooit goed genoeg nie. Inteendeel, min mense weet wat geluk en tevredenheid regtig beteken. Dit het mos te doen met innerlike vrede en self aanvaarding? Dit is nie naastenby so opwindend soos drama nie. Hier moet ek ook bysê dat ek glo die meeste moaners wat ek ken, salig onbewus is van die drama wat hulle create. Niemand het nog die guts gehad om vir hulle te sê “Shut up, stop whining and get a life” nie!

Snaaks hoe sommige mense drama create net om ‘n sogenaamde rede te hê om te kan kak en kerm, veral as dinge rustig is en die fokus nie op hulle is nie…

En dan is dit veral die individu se geliefde en / of naaste vriende wat gedwonge die (on)gewillige gehoor word (hulle het mos trou gesweer….), wie se ore die meeste suis. Aan die ander kant, omdat moaners mekaar aantrek, is daar dié wat jy sal vind wat heel gewillig is om te luister (nie rêrig nie), net sodat hulle ook só hul eie drama kan deel.

Ek glo ons moet almal ‘n kans gegun word om in veiligheid te moan en bitch oor iets wat irriteer, ontstel kwaad of seer maak. Maar ek glo ook daar is ‘n tyd en plek vir alles in die lewe. Daar is ‘n begin en ‘n einde. Dit is verseker ‘n kuns om so te moan dat niemand weet jy moan nie. Dit is ‘n kuns om op te hou moan op die regte tyd. Want sien, as mens aanhoudend persoonlike klaagliedere vir die wêreld uit spoeg / skree / gil, en niemand het die guts om te sê STOP! nie, of al sê die met guts gereeld STOP! en dit het geen effek nie, gaan die individu nie ophou daarmee nie. En dit gaan ‘n bose kringloop word. En die mens gaan nie by geluk en tevredenheid uitkom nie. En is dit nie net so hartseer nie?!

Dan, om wetend te moan omdat ‘n mens nie WIL ophou nie, omdat dit die individu op een of ander obskure manier vervul, is net eenvoudig slapgat.

My vriendin Riani het altyd gesê die grootste geskenk wat jy vir ‘n geliefde kan gee, is om geestesgesond te wees. ‘n Klaagsieke, wat aanhoudend en tot vervelens toe kla, is volgens my nie geestesgesond nie! Want ironies genoeg, daar is net nooit ‘n oplossing wat die moaner pas nie. Om te moan, word ‘n lewenswyse, die enigste opsie. Ek glo daar is ‘n oplossing vir elke probleem, ‘n pil, ‘n terapeut, ‘n goeie vriend/in, ‘n engel, ‘n beleid, ‘n wet, of ‘n gebed, maar dat moaner nie noodwendig daarvan gaan hou nie. Meeste van die tyd verg die oplossing die individu se bewustheid,  erkenning van die waarheid, toewyding en verantwoordelikheid, wat ongelukkig oorweldig word deur vrese en hul eie verdedigingsmeganismes soos ontkenning, rasionalisering en projektering of in kort – hul ego.

Ek glo vas dat ons aantrek wat ons is, op verskeie vlakke. Miskien sal mense van my verskil, sê dat ek die lewe en sy dramas oorvereenvoudig. Ek gee nie om nie, om só na die lewe te kyk, werk vir my. Ek weet verseker, wanneer ek ‘n klaerige, klaagsieke klakous is, dan trek ek dit ook aan. En meeste van die tyd kom ek dit nie agter voordat ek nie myself en ander vreeslik irriteer nie, of voor iemand nie die guts het om dit vir my te sê of skree nie. Die belangrikste is vir my om dit te besef, al is dit soms te laat, en al het ek reeds ‘n sepie in drie dramatiese episodes veroorsaak. Daar kom ‘n punt wat ek my bek moet hou, moet ophou kerm en ‘n lewe moet kry.

Per slot van sake, wanneer ‘n mens kla, sê dit baie meer van die klakous self, as van dit waaroor gekla word, nie waar nie? (Stik ek so half in my eie waarheid…)

“Vrydag, 11 Augustus 2006, 12h30”

Daar is soveel stories wat my vandag druk om vertel te word. Die volgende lang ene kom vandag weer en weer terug, net soos die ervaring self my van tyd tot tyd, op die mees ongure tye, kom besoek, nooit sonder ‘n na effek nie. Ek glo dis ge trigger deur Maandag se episode van Gray’s Anatomy, wat ek eers gisteraand gekyk het. In die episode het ‘n jong man by sy skool met ‘n semi automatiese geweer losgetrek en 26 mense getref. Daar was baie bloed.

So word daar van my as professionele verpleegkundige verwag om ‘n glo baie belangrike kursus te doen tydens my weermag dae. Dit sou my glo beter voorberei vir ontplooiing na die DRC of een of ander opgefokte afrika land. Ek kan nie die nagmerrie kurus se korrekte naam onthou nie, maar ons het dit “Battles & Barts” genoem. In kort was dit ‘n 4 dag kursus waar jy moes leer om soldate se lewens te red in uiters ongure toestande. Daar was baie bloed.

Ek onthou hoe ons in die praktiese oefening, op dag 3 of 4, uit ‘n hawerende helikopter moes spring, gegear met ‘n battlejacket met baie sakke vol drips en drukverbande ens. Die staal pispot op my kop en my dubbelken het mekaar nié positief aangevul nie, drukking van bo en onder… Op die vloer van die heli het ons ingeryg gesit, intiem, soos sardientjies in ‘n blik, maar eerder gevoel soos lammers ter slagting. Met ons bene om mekaar gevou, sit ons in mekaar se bene bakkies. Die paramedic agter my het dié Majoor omtrent styf vasgehou. Ek het hom begaan. Daar het ek besef as hy so bang is, en hy was half gewoond aan die scenario, dan moet ek myself eintlik beskyt. Op daardie stadium was ek reeds amper 6 jaar uit die praktyk. En boonop het ek psigiatrie gedoseer. Selfs toe ek in die praktyk was, het ek in psigiatrie gewerk. Daar sien mens selde soveel bloed…

Ons spring uit die hawerende helikopter.  Ek breek amper my enkel. Ek is net 1.58 m lank. Ek is swaar. Ek is ongemaklik. Ek is onfiks. Ek is kakbang. Ek is vol adrenalien. Ek hou nie van hoe ek voel nie. Skaars myself georienteer, die veld uitgecheck en gesien daar lê verskeie “gewonde soldate”, toe word daar op ons geskiet deur Pongo’s, soldate van die Army, met swart kammofleer strepe op hul gesigte geverf, ‘n aaklige gesig, al was dit fake. Ek dog ek kry net daar ‘n dubbele hartaanval. Toe skree hulle op ons. Dáár is ene! Dáár is nog ene! Gaan help daai ene! Fokken hardloop! Daar was baie bloed.

Ek huil histeries. Probeer deur die trane, bosse en stof ‘n stretcher se agterkant gryp, die medic voor hardloop heeltemal te vinnig, ek verloor my greep, ek verloor beheer, ek verloor die “pasiënt”, ek verloor myself… gaan sit op ‘n pol gras, pluk die pispot met geweld van my kop af en moer dit met meer geweld êrens die veld in en toe, asof ek myself nog nie genoeg verneder het nie, gil ek soos ‘n maer vark. Ek word verwyder met ‘n veld ambulans… Daar was baie bloed.

Behalwe vir die bloed, was daar ook baie snot, trane, stof, geweerskote en geskree. Daar is ‘n rede hoekom ek psigiatrie verkies… Nodeloos om te sê, ek het nie die kursus geslaag nie…

So ‘n paar jare later, Vrydag 11 Augustus 2006, 12h30 om presies te wees, gebeur daar iets met my wat ek nooit, solank ek lewe, sal vergeet nie. Daar word ek toe geforseer om die ondervinding van my gefaalde “Battles & Barts” kursus te gebruik.

Maar, is dit nie snaaks hoe mens presies die details kan onthou van ‘n traumatiese ervaring nie? Soos byvoorbeeld, waar was jy, 10 jaar terug, met die 9/11 event, toe die tweede vliegtuig in die Twin Towers in vas gevlieg het?  Ek onthou. Ek het net van die werk afgekom, die TV in die kamer aangeskakel. Ek kan onthou dat ek net daar in my kamer gestaan en staar het na die TV skerm het, met ‘n oopgeknoopte uniform. Ek het nie op die bed gaan sit nie. Ek het in absolute ongeloof gestaan en staar, seker vir ‘n halfuur lank, toe eers besef ek voel half styf, toe eers verder uitgetrek, toe eers verslae op die bed gaan sit. Ek kon nie glo wat ek sien nie!

Terug by die koel Vrydag 11 Augustus 2006, 12h30. Ek het pas ‘n paar maande vroeër begin werk vir die NGO genaamd OUT, ‘n LGBT hulpverleningsorganisasie. Die kantore was op daardie stadium in ‘n lieflike ou plankvloer huis in Parkstraat, Arcadia geleë. Oral rondom ons was ook besighede wat voorheen as huiswonings gebruik was. Ek onthou ek het ‘n onderhoud gehad met n jong man. Hy wou graag vir die organisasie volunteer.

Skielik, uit die bloute, het skote geklap. Soos mens maar doen, soos dié op TV, val ons plat agter my lessenaar. Ek bel 911. Verduidelik dat daar ‘n geskietery is, nee ek weet nie presies wie, wat en waar nie, KOM NET! Ek hoor my kollega skree: “Oh my God, he is shooting people!”  Hoor ‘n skoot… ‘n vrou gil, hoor my hart klop, stilte… nog ‘n skoot… mense gil… stilte… asemhaling, myne… syne, nog ‘n skoot, stilte…

Net twee dae van te vore, op Nasionale Vrouedag, het ek ‘n klein VCT (Voluntary Counselling & Testing) kliniek by OUT geopen. Regter Edwin Cameron was ons eregas. Ek was só trots, al was daar net ‘n ondersoek bed, weggooibare handskoene en wattebolletjies in die kliniek. Ek gryp ‘n handvol handskoene en druk dit in my gatsak. Ek gee ‘n paar vir die jong man met die woorde “Vandag volunteer jy!”. Hy het glo al die Basiese Ambulans Kursus gedoen.

Ek, die jong man, my kollega, Steve en een van haar vriendinne, stap huiwerig en skytbang na dié toneel wat ek nóóit sal vergeet nie. Teen daai tyd het ons al geweet die geskietery was by on bure, op die hoek. Daar was reeds ‘n reaksie mag, maar hulle het net rondgestaan. Daar was ook ‘n paar bure op die toneel, daar bly nog baie mense in woonstelle in die area. Almal staar na dit wat ons begroet. Niemand dóén iets nie. Maar ons homos staar nie net nie, nee, ons stap dapper by die hek in, ons dóén iets. Daar was baie bloed.

 In die middel van die parkeerarea lê ‘n man, vermoedelik die skieter, in ‘n groot plas bloed, ‘n 9 mm pistool langs hom. Ek scan die situasie binne sekondes, en besef verlig dat ons fisies veilig is. Net daar triage ek, ja ek, wat nog net getraumatiseer is deur trauma, wat dit nie kan verdra nie, nie eers die kursus kon pass nie!  Ek besluit met beperkte hulp, wie wat waar moet doen. Ek stuur die jong man in die huis in om te gaan kyk of hy kan help.  Ek vra Steve se vriendin om die histeriese vrouens terug te vat na die OUT kantoor en gaan sit op my hurke by ‘n erg gewonde vrou. Die skok vir wat ek sien gaan sit in my siel vas. Nog nooit het ek soveel bloed sien spuit uit ‘n mens nie, en ek het al 15 babas gevang in my student dae. My adrenalien pomp. Een van die histeriese vrouens het voor sy daar weg is, vir my vaddoeke gegee om die bloeding te probeer stop. Binne sekondes was dit deurweek. Al waaraan ek kon dink was die nuwe blou deken van die nuwe ondersoekbed in die nuwe VCT kliniek.

Steeds, niemand anders help nie, almal staar net in ongeloof. Daar was baie bloed.

Ek skree vir Steve om die blou deken vir my te gaan haal in die nuwe kliniek. Daar sit ek toe, in die ongemaklikste posisie waarin ek nog ooit fisies was, en druk die twee gate sover ek kon met die blou deken toe. Ek onthou hoe ek die vrou aan die lewe gepraat het. Ons het oor haar kinders gepraat. Ek kan nie die gesprek se detail verder onthou nie. Ek het my trane teruggesluk. Haar trane het gemeng met die bloed. Ek het kliphard gebid, geprobeer om te vergeet van die pyn in my toe al stywe lyf, my half dooi bene, geprobeer om nie na die dam bloed te staar nie, die goue oorbel wat daarin gemarineer het, daai tipe wat in die Game advertensies te koop is, nog met ‘n stukkie oor aan, afgeskiet van haar lyf af…

Na 30 minute begin sy onsamehanged praat, sy wou nie meer nie, was moeg gebaklei… Nee! skree ek vir haar, jy sal nie nou doodgaan nie! Ek gil half histeries “Where the fuck is the ambulance?!” Nog ‘n paar minute later besef ek ek is besig om haar te verloor. En nog ‘n paar minute later hoor ek die ambulans se sirenes, hulp is naby. Ek vra vir Steve om by my oor te neem, te druk en aan te hou praat in Setswana, haar moedertaal, tot ‘n paramedic by haar sal oorneem.

Intussen het die jong man vroeër uit die huis gestorm. “Ek kan nie meer nie” sê hy half histeries met ‘n spierwit gesig en trane wat oor sy wange rol. Ek stap huiwerig maar vinnig die huis binne. In die boardroom sien ek twee mans wat in weird posisies lê, in groot plasse bloed, en leeg voor hulle uitstaar. Dis toe ek vinnig en verslae daar uitstap dat ek gewonder het wat my besiel het om die onskuldige jong man daar in te stuur. Hy het toe nooit vir OUT gevolunteer nie…

Sy leef. Die blou deken het hulle gebruik in haar terapie, in die maande daarna tydens haar lang pad na fisiese en emosionele herstel. Dit nadat ‘n onvergenoegde medewerker haar twee manskollegas voor haar doodgeskiet het, haar om die huis gejaag het, van agter in die linkerskouer en toe oomblikke later, reg van voor, in die gesig geskiet het, en toe selfmoord gepleeg het, op net nog ‘n dag, Vrydag, 11 Augustus 2006,  12h30.

Daar was so baie bloed, onthou ek, jare later, steeds met trane…

言葉は十分なされていない場 “Woorde is nie genoeg nie”

Sommige facebook gebruikers is ware emosionele ekshibisioniste. Van brag gatte, moaners tot motiveerders. Dit verbaas my dat mense die guts, of soms beperkte persoonlike grense, het om dit wat hulle dink, voel en baie belangrik, op daai oomblik doen, soos stryk of kinders voer, met die wye wêreld te deel.

 

Ek is niks beter nie! Getrou lees ek die drama en dwepery op ander se sosiale netwerk mure. Ek is die voyeur, meestal. My stille reaksie wissel dikwels tussen “ag fok tog” en “ag shame tog”. Erens tussen-in gebruik ek soms self die geleentheid om te brag, te moan of te motiveer. Ek verbaas myself. Ja, ek is niks beter nie…

 

Ek volg interessante debatte, soms in tale wat ek glad nie verstaan nie, maar goed kan aanvoel. Soms verstaan ek die woorde, maar voel niks nie.

 

So kry ek dan eerstehandse inligting van byvoorbeeld die tragedie wat in Japan gebeur, van Azusa. So bietjie langer as ‘n jaar terug het ek ‘n hotelkamer in Buenos Aires gedeel met dié saggeaarde Japanese girl. Ek onthou nog hoe ons aande om gesels het oor ons eie lande. Ek het met trots ‘n gebalanseerde weergawe van my sonskyn land probeer gee, reguit gepraat oor die uitdagings en ook ons pynlike verlede. Ek het verduidelik dat die internasionale media nie altyd ‘n ware weergawe gee van SA nie, dat sensasie en drama, veral toe voor die Sokker Wêreld Beker, beter verkoop. Sy het trots, maar nederig, vertel hoe Japan een van die mees tegnologiese gevorderde lande ter wêreld, maar veral in die Ooste, is. ‘n Land wat leiding kan neem, by wie ander kan leer. Selfs trotser het sy vertel hoe goed voorbereid Japan is vir aardbewings.

 

Ons het nie van tsunami’s gepraat nie… Ons het nie gepraat van hoe vinnig beheer en leiding in pyn en lyding kan verander nie.

 

Haar laaste facebook boodskap, ‘n paar minute terug, los my half woordeloos vanoggend. Van haar naastes is dood, ander nog nie gevind nie.

 

Wat sê mens? Is enige woorde regtig toepaslik? Facebook of nie.

 

Ek weet nie, maar…

 

はあなたの愛と光の多くを送信する、あなたのあずさを考えている。

Ek dink aan jou Azusa, stuur vir jou baie Lig en Liefde.

 

“Lekkerste lekkerte”

Hier sit ek nou in my hotel kamer in Roodevallei. Dit reën saggies. Reën is mos blessings. Ek drink ‘n lekker koppie soet tee en luister na die Eat Pray Love soundtrack op my getroue reismaat, my Ipod. Ek het ‘n oop tydjie voor ek nou nou, tydens aandete, ‘n nuwe uitdagende proses fasiliteer, tot Vrydag toe. Ek voel ek moet vandag skryf, want ek is so dankbaar – vir al die blessings.

Dis nou ‘n maand en ‘n week van F@K VET af… En was dit nie ‘n journey nie?! Nooit sou ek kon dink dat daar soveel amazing stuff uit hierdie blog gaan kom nie. En nooit sou ek kon raai dat ek soveel ongelooflike support van julle, my lesers, my mede belewers, sou kry nie.

Nou die groot vraag op almal se lippe is heel moontlik, “So het sy darem ligter geword?”

Kom ek deel met julle die afgelope 5 weke se “lig en ligter”:

Ek het ‘n volle kilogram afgeskud.

Ek, en liewe buurman Willie, het meer as 40km gestap.

Ek het 50 liter water gedrink.

Die enigste brood wat ek geëet het, was Low GI.

Ryk kos maak my siek.

Ek dink nie so baie aan kos nie.

My lyf is nie meer so styf nie.

Ek voel meer energiek.

Ek slaap o! so lekker.

Ek is kreatiewer as ooit.

Ek het net 2x op die “onder-die-bed-weggesteekte-vol-stof-verraaier” geklim.

‘n Broek van laas seisoen knyp nie meer só seer nie.

Ek het vir ‘n hele maand lank geen Take Aways gehad nie.

My sinusitis is 80% beter.

Ek het minder getob oor vet en drama, en meer gewonder oor stories om te vertel.

Ek het baie meer gelag as huil.

Ek het gehuil vir die regte rede.

Ek het wonderlike interessante mense ontmoet, soos Gav op die vliegtuig.

Twee baie opwindende werks geleenthede het my pad gekruis.

Na vandag, is delenewordlig ‘n duisend, ja, ‘n DUISEND keer besoek.

Ek het 18 postings, 19 bladsye vol stories en dinge.

Ek is ‘n kolom, Kies jou Tong, aangebied in ‘n nuwe tydskrif, ALICE.

En… God voel naby.

Dit  was ‘n baie besige maand – ek het baie getravel, tog voel ek meer geanker as ooit. Die donker oomblikke was daar verseker, ek was nie altyd ok nie. Maar ek verstaan waar dit vandaan kom.  Ek was nie so hard op myself nie soos in die verlede nie.  

Ek voel ligter, en dis al wat belangrik is.

Dankie, Jy! Ek wil nog baie stories met jou deel. Solank jy lees, gesels ek – dis nou een van my lekkerste lekkerte!

As jy verveeld is, vat ‘n kans – dit doen wondere!

“Skuld & Skaamte II”

Ek het my laptop teruggekry en uiteindelik kan ek die storie oor aktivisme herroep. Wat ook ironies is, is dat ek die hele week wat vir my voorlê, saam met aktiviste, op verskeie vlakke, gaan spandeer. Dalk kom daar nog iets interessants na vore, ons sal maar moet wag en sien.

So om en by 60 mense het die werkswinkel voor verlede week in Kaapstad bygewoon. Meestal aktiviste uit aller oorde. Lesbian aktiviste, gay aktiviste, transgender aktiviste, vroueregte aktiviste, menseregte aktiviste en AIDS aktiviste. Dan was daar ook feministe en ‘n hele paar chauviniste. Daar was ‘n klein groepie funders en soos gewoontlik, niemand van die goewerment nie.

‘n Ativis is ‘n persoon wat aktief, met die intensie om sosiale en politiese verandering te weeg te bring, vir meestal kontroversiële sake, baklei. Meeste van die tyd gaan dit oor gelyke regte. Ek glo ek is ‘n aktivis, maar die woord “baklei” het my nog nooit heeltemal aangestaan nie. Miskien is dit die Weegskaal en vredemaker in my, maar dit herinner my aan “Fighting for peace is like fucking for virginity!”  Hoe werk dit dan nou? Ek weet nie! Maar ek weet ook daar is plek vir verskillende tipe aktiviste…

Wanneer so ‘n groep verontregtes by mekaar kom, is dit, sonder uitsondering, ‘n bom kombinasie vir konflik. Maak nie saak wie wat doen om dinge beter te maak vir mekaar of vir die minderheidsgroep binne-in die minderheidsgroep, en of dit goed of reg is nie, dis net nooit goed GENOEG nie. Die kompleksiteit van identiteite het weer sterk na vore gekom. Dit is nou gender sowel as seksuele identiteite. Dis asof die een identiteit vir die ander identiteit, baie beheersd, wil sê (eintlik half histeries gil…) “Jy verstaan my nie, jy doen nie moeite om my te verstaan nie, ek is nie soos jy nie, jy kom my te na al vir jare en jou identiteit kry al die befondsing, daarom is jy kak!” Dit is in kort die gesprekke wat vir ‘n groot gedeelte van die werkswinkel oor die vertrek gevlieg het, ook gemarineer in sarkasme met ‘n groot ondertoon van skuld en skaamte. Hoewel pynlik en frustrerend om na te luister, weet ek al lankal dat dit ‘n ware refleksie is van die werklikheid van baie. Ons het nog ‘n ver pad om te stap wanneer minderheidsgroepe bedreig voel deur ander minderheidsgroepe… Ook geen wonder die patriargale heteronormatiewe homofobiese sisteem daarbuite het nog soveel mag nie…

 Maar belangriker vir my as wat in die bogenoemde gebroke LGBTI sektor gebeur, is hoekom ek ‘n aktivis is? Ek onthou duidelik ses jaar terug toe ek myself in die veld begewe het, hoe bang ek vir onder andere homofobiese mense was. Toe ek dit vir ‘n kollega sê, antwoord sy “Don’t worry darling, they are more afraid of you!”.

(Dankie Pienk Gevaar!)

 Als is maar net angst…

So, solank gays en lesbians, bisexsuals trans en iterseks mense…

deur hul ouers en gemeeskappe verwerp word,

verkrag word,

vermoor word,

dienste ontsê word,

gemarginaliseer word,

geignoreer word,

gediagnoseer word,

bespot word,

omdat hulle lief is vir dieselfde,

of ‘n lyf gekry het wat nie by hul gender identiteit pas nie,

sal ek praat daaroor!

Solank jong meisies en vroue…

van agterstraat aborsies moet gebruik maak, want daar is nie ‘n beter keuse vir haar nie,

deur bekendes en sogenaamde geliefdes verkrag word,

misbruik word,

vermoor word,

stil geslaan word,

saggies seergemaak word,

ontken word,

geignoreer word,

gemarginaliseer word,

verkeerdelik gearresteer word,

al is sy ‘n sekswerker,

sal ek praat daaroor!!

Solank geliefdes mekaar saggies seermaak, en dit word as normaal aanvaar, sal ek daaroor praat!!!

Solank mense dood gaan aan AIDS en daar teen hulle gediskrimineer word, sal ek praat daaroor!!!!

Solank fundamentalistiese Fariseërs hul skuld en skaamte na ander projekteer deur die Bybel te gebruik as wapen, SAL EK DAAROOR PRAAT!!!!!

By troues, baba tees, verjaardag partytjies, begrafnisse, in ‘n tou in die bank, met die persoon langs my op die vliegtuig, deur sensitization trainings, in werkswinkels, op nasionale platforms, deur te blog, oral waar ek kan, oral waar God vir my dit moontlik maak, SAL EK DAAROOR PRAAT!!!!!!

Tot die leeu en die lam bymekaar gaan lê, SAL EK DAAROOR PRAAT!!!!!!!

“tietelloos”

Vandag gaan ek kontroversieel wees. Ek gaan knoppies druk. Dalk joune. So, haal diep asem en lees verder, of drink ‘n pil, bid en gaan bak iets.

Van gisteraand af volg ek ‘n interessante debat op Facebook nadat ‘n liewe gay vriend sy ongeloof en ek glo, sy hartseer, gedeel het. Gemengde gevoelens oor ‘n ou vriend van hom wat erken het dat hy nie ‘n problem het met gays nie, solank hulle net nie soen op nasionale TV nie. Onmiddelik het ek my eie hartseer ervaring van skaars ‘n paar maande terug herleef. ‘n Baie goeie vriendin het, sonder om te dink aan die moontlike nagevolge, vir my vertel dat haar sonde, voorhuwelikse seks, nie groter is as myne, gaywees, nie.

Nou, ek glo nie in die konsep van sonde nie, so dis nie die vergelykende sondes wat my ontstel het nie. Dit is die gedagte dat dit wat ek is, met sonde vergelyk word. Vir my is sonde gelyk aan skuld, skaamte, verwerping, hartseer en pyn. Hoekom het sogenaamde gelowiges die behoefte om ander se sogenaamde sondes, volgens hulle, uit te wys? Wat glo hulle bereik hulle daardeur? En in realiteit, wat word bereik? Is dit nie maar die projeksie van die eie ek se skuld, skaamte, verwerping, hartseer en pyn nie?

Maar terug by die soenende gays. Ek onthou nog die dag, lank lank gelede, toe ek my eerste girlfriend gesoen het. Ek het oor haar skouer geloer en in ons refleksie in die spieël vasgekyk. Ek het geskrik, dit was vreemd. Nie vreemd oor wat ek gevoel het nie, maar oor wat ek gesien het. Tot op daardie punt in my lewe het ek nog nooit twee mense van dieselfde geslag in so ‘n intieme omhelsing gesien nie. Die vreemde ervaring was ‘n bietjie van ‘n passion killer, want glo my, niks kan ‘n intieme mood so vinnig opfok soos gevoelens van skuld en skaamte nie! So, al het dit reg gevoel, het die boodskappe van die verlede steeds ‘n groot impak op my gehad. En ek glo meeste homoseksuele mense, wat uit die kas val, ervaar soortgelyke emosies. Dus, wat vir my ‘n wonderlike ervaring van eerste liefde moes wees, was eiehandig my grootste persoonlike krisis. Binne die eerste drie dae van my bloeiende liefde, was ek ‘n pasiënt in die psigiatriese saal waar ek ‘n verpleegkundige was. Selfs toe was ek heel ok met wat ek gevoel het, dit was die stemme van die manne met die wit baarde, die manne wat die sondekonsep gebruik om ander te beheer. Maar dit het ek eers jare later uitgefigure. Vir baie jare het die geinternaliseerde homofobie my siek, ook vet, gemaak. Het ek maar ‘n rolmodel gehad…

Twaalf jaar na ek uit die kas geklim (meer soos gebliksem) het, word ek ‘n aktivis, amptelik. Dit was in dieselfde jaar wat gay huwelike wettig geword het. Een van my take was om by die Departement van Sosiale Ontwikkeling se Nasionale Familie eenheid, te verseker dat die belange van selfde geslag gesinne ingesluit word in hul nasionale beleid, die National Family Policy.

Op hierdie platform was ook ‘n baie bekende doktor wat ‘n bekende NGO in Pretoria het wat te doen het met sogenaamde familie preservering of behoud. Ek kan nie nou sy naam onthou nie, soos ek nie mense se name kan onthou wat my op een of ander vlak te na gekom het nie… Ek is nie kwaad vir hom nie, ek kan net nie sy naam onthou nie!

Anyway, hy was een van die groot teenstaanders van gay huwelike. Volgens hom, is gay huwelike ‘n ernstige bedreiging vir die sogenaamde tradisionele familie eenheid. Hy, en ander soos hy, het duisende rande gespandeer om die wetgewing van gay huwelike teen te staan. Hy het vir my probeer verduidelik dat die huwelike (en die lewe) soos ‘n verkeerslig is,  rooi beten stop en groen beteken jy kan maar voortry. Vir hom was gay huwelike ‘n rooi lig. Hy kon my nie antwoord toe ek vir hom vra wat die oranje lig in die metafoor sou beteken nie…

Maar, ek kan verstaan dat die bogenoemde patriarg vasklou aan die gedagte van ‘n tradisionele familie. Dit gee hom die mag en ek glo hy het dit nodig om in in beheer te voel. Ek glo ook dis ‘n vals form van beheer, ook maar net ‘n projeksie en refleksie van die inner turmoil. Daar is baie mag in die geloof in die heteronormatiewe model, veral die mag om mense daaraan te herinner dat dit die enigste form van familie of ‘n intieme eenheid is en behoort te wees. Want dan bly die pappa in beheer, die mamma probeer en die 2,4 kinders, die hond en kat en die wit picket fence maak die prentjie mooi. Dis net op die oog af…

Ironies genoeg, dis die patriargie en matriargie, heteronormatiwiteit, oordeel, kondisionele liefde, saggies seermaak, alkohol misbruik, gender based violence, armoede, geheime, verwagtinge, skuld en skaamte wat die familie eenheid meer bedreig as twee mense van dieselfde geslag wat hul liefdesband wil verewig en beskerm met ‘n huwelik. Gee eerder aandag, tyd, geld en energie dááraan, wou ek destyds vir hom sê (skree).

Ja ek glo nie in sonde nie! Vir dié wat verder gelees het en nog nie iets gaan bak het nie, en nou die urge het om vir my te bid, vrees nie! Ek glo dalk net bietjie anders as jy, maar ek GLO steeds.

Ek glo in liefde sonder kondisie.

Ek glo in die beskerming van mense regte, ALLE mense s’n.

Ek glo hemel en hel is hier op aarde.

Ek glo dat as God ‘n mens was, sou Hy lang trane gestort het oor dit wat mense in Sy naam doen.

Ek glo die grootste probleme het begin toe die wêreld na God begin verwys het as ‘n manlike entiteit, ‘n HY.

Ek glo die Bybel, die Boek van Liefde, is nie ‘n wapen nie, al gebruik baie dit as een.

Ek glo die penis (en patriargie) het net soveel mag soos wat dit gegee word.

Ek glo 90% van mense lieg hulleself happy.

Ek glo mense met ‘n goeie sin vir humor lewe langer.

Ek glo mense wat vir hulself kan lag, leef nog langer.

Ek glo ‘n eks roker is net so sterk soos sy / haar volgende groot krisis.

Ek glo mense dink nie rêrig aan “Wat sou Jesus doen” nie, al dra hulle die armbandjie.

Ek glo mense sukkel om hul naaste lief te hê soos hulself, want hulle is nie lief vir hulself nie.

Ek glo niemand is spesiaal nie, maar elkeen is uniek.

Ek glo die probleem lê nie by homoseksualiteit nie, maar mense se onvermoë om menslike seksualitieit in geheel te verstaan.

Ek glo daaraan om nooit te lieg vir iemand wat ek vertrou nie en om nooit iemand te vertrou wat vir my lieg nie.

Ek glo as iemand vir my sê dat dit wat ek doen, hulle seermaak, ek om verskoning moet vra en dan om op te hou daarmee, al dink ek dis nie so erg nie.

Ek glo as ek ander seermaak, raak dit myself meer as die ander.

Ek glo geloofs fundamentalisme is niks anders as ‘n form van georganiseerde misdaad nie.

Ek glo elke mens het ‘n lig en donker kant.

Ek glo aan die Anderkant.

Ek glo in reinkarnasie, een lewe is net nie genoeg vir my siel om al die lewenslesse te ervaar en te leer op hierdie planeet aarde nie.

Ek glo in Karma, wat ek saai sal ek maai.

Ek glo in energie.

Ek glo ek lewe my lewensdoel uit in opdrag van God.

Ek glo in my gut feeling, my intuisie, die stem van die Heilige Gees.

Ek glo ek is beskerm.

Ek glo ek is net hier op aarde om God se Lig te laat skyn.

Ek glo ek kan glo soos ek wil, solank ek nie myself of ander te na kom nie.

Ek glo in God en Sy Engele.

Ek glo, en dis die belangrikste.

Vandag is ek moeg om die punt van projeksie van ander se skuld en skaamte te wees.

Vandag, wees bewus daarvan dat dit wat jy dink jy ‘n reg het om te sê, selfs kan staaf uit die ou testament, nie brûe bou nie, nie Jesus se liefde versprei nie, maar eerder die lig in ander dof maak, of soms, heeltemal blus.

Ek sê dit als met liefde, want soms, soos nou op Gauteng se paaie, moet sommige brûe eers afgebreek word, om plek te maak vir groter breër brûe, wat soveel meer mense en karre kan akkommodeer…

“Die 3 redes”

Ek glo daar is net 3 redes hoekom ‘n mens nie suksesvol is in ‘n gegewe area van jou lewe nie.

1. Jy is stupid.

2. Jy is lui.

3. Jy gee nie ‘n donner om nie.

Larry Winget beaam dit in sy boek “Shut Up, Stop Whining & Get a Life”. Kry dit! Bestel sommer ‘n paar op Kalahari en gee dit elkeen vir wie jy lief is, ook vir dié vir wie jy minder lief is…

Ek het vir 15 jaar lank gerook. Die laaste 10 jaar was daar altyd een of ander doods boodskap op elke pakkie. Steeds het dit 10 jaar vir my gevat om op te hou! Was ek te lui? Nee, ek het elke keer die boodskap gelees. Het ek nie omgegee nie? Miskien. Was ek stupid? Definitief JA! Hoe kon ek “Warning – smoking causes serious illness” elke dag lees vir 10 jaar, en steeds nie besef het wat ek aan my lyf doen nie?! Stupid!

Ek het al in my lewe nie minder nie as ses gym kontrakte gehad. Elke keer was ek verlig as die kontrak geeindig het, of die gym bankrot gespeel het. Dan het ek minder skuldig gevoel elke keer as ek gedink het aan my totale gebrek aan entoesiasme en belangstelling of elke keer as ek verby ‘n gym gery het. Ek kan vandag erken, met effe skaamte, dat ek deur al die jare, meer as 15 jaar, nie meer as 2 maande aktief binne die gym besig was nie. Ek het besef hoe belangrik die oefening vir my was, dus nie stupid nie. Ek het darem so bietjie vir myself omgegee toe, net bietjie, maar darem. Maar, ek was te blêddie lui! Dit was te veel effort en ek was te lui, dis al, geen ander rede! Niks van te min tyd of te moeg of die mense kyk snaaks vir my of ek weet nie hoe nie of wat ookal nie. Nee, ek was net lui!

Na 16 jaar in die SA Weermag, het ek bedank einde 2005. Ja, bedank. Nie pakket gevat soos baie ander slim wit mense nie, nee, net bedank. Ek was definitief nie stupid nie, al het ander so gedink. Ek het presies geweet wat ek doen. Ek het presies geweet wat was die odds. Ek was nie lui nie want ek het dit actually gedoen, ek het die moeilike besluit geneem en dit gedoen. Ek ken myself, ek ken my donker lui kant. Ek was op ‘n punt in my lewe wat ek net nie ‘n donner meer omgegee het nie! Ek kon verseker dubbel soveel geld gekry het, dus kan dit dalk gesien word as ‘n nie-so-suksesvolle deel van my lewe? Miskien, miskien nie?

‘n Jaar terug is ek deur ‘n verskriklike moeilike tyd by die NGO waar ek toe al vir 5 jaar lank werk. Die gevoelens wat dit my by ontlok het, was soortgelyk aan die tyd net voor ek die army verlaat het. Toe reeds het ek myself belowe dat ek myself nooit weer aan sulke negatiewe soul draining energie gaan blootstel nie. Ek moes ‘n plan maak. En ek het. Dit was een van die moeilikste besluite wat ek nog ooit mee gekonfronteer was. My besluit om solo te gaan, het ‘n impak op soveel mense gehad, mense vir wie ek baie omgee. Maar ek kon nie bly nie, ek was emosioneel uitgebrand.

Met behulp van God, my engele en ‘n wonderlike aardsengel, my coach, het ek ‘n finale besluit binne 2 weke geneem, ‘n besluit wat ‘n impak sou hê op die res van my lewe, en dié naby aan my. Was ek stupid? Nee, ek was beredeneerd en het hulp gevra van die regte mense. Was ek lui? Nee, ek was konstruktief besig. En, ek het baie omgegee vir myself, al het dit soveel mense naby aan my geraak. Ek het besef, dat dit ook vir hulle op die lang duur, gaan baat. ‘n Sukses storie – ek glo so!

Intussen, die hele gewig ding… Ek is nie stupid nie, ek weet take aways en ander olierige high carb kosse is sleg vir my, en ek probeer dit vermy. En ek het al meer as 30km gestap. Ek gee om, daarom die effort.

Maar, soms, net soms, is ek nog bietjie lui…

“Wat dan?”

So skryf ek nou al vir 4 dae aanmekaar aan ‘n amazing storie oor aktiviste en hul doen en late. Toe vanoggend, net toe ek die storie wou post op die blog, toe shut down my top of the range skootrekenaar (ek wou sê laptop, maar toe is dit darem net te veel engelse woorde langs mekaar…).  Dieselfde tyd kry ek ‘n oproep van ‘n kollega om te vra waar ek is, ons het ‘n meeting.  Hy impliseer ek is laat.  Gelukkig het hy dit self vir 9h30 geskeduleer, en ek het net 40 minute nodig om van my huis in Centurion tot in Rosebank te ry. Snaaks genoeg, ry 7h00, en jy kom net voor 9 daaraan. Ry net voor 9, en jy kom 9h30  daaraan. Ek kies dat die half dooie rekenaar my nie ontstel nie, verwyder die battery en begin praat met die engele, miskien…

Terug by die huis, met die hoop van ‘n kind, druk ek die “aan” knoppie, maar – niks, fõkõl gebeur.  So deur die daaroplvolgende 5 minute het die hoop in anger en resentment verander en selfs na twee klappe, ‘n ruk en pluk aan ‘n koord, die battery weer uitruk en terug sit, twee keer, steeds – NIKS, FõKõL!

Ek bel die IT dude angstig, hy verseker my dat dit enigiets onder die son kan wees. Ek weet nie of dit my beter laat voel het nie… Blykbaar is dit baie selde dat al die data verlore gaan. Dít is effe beter nuus…

Omdat ons so baie energie deel, ek en my top of the range, wonder ek heimlik of dit ‘n refleksie van my is, miskien wil ek ook net bietjie af skakel, die data is nog daar, maar ek wil dit net nie nou met iemand share nie, wil nie werk as iemand my knoppie druk nie…

Nou, ek het so ‘n bietjie admin wat ek dringend moet  afhandel – vandag nog. Hier is genoeg rekenaars in die huis om ‘n klein plaasskooltjie lank te help google, maar nie een is so nice soos my, nou half permanent afgeskakelde, maar voorheen amazing, top of the range skootrekenaar nie. (Dit klink darem vreeslik pretentious? Ek praat van die woord skootrekenaar…)  

Ek kies Lifi s’n. Dis naby en gekoppel aan dit wat ek nodig het om met die buite wêreld te kan komminkeer. Ek wil nou ook nie ondankbaar klink nie, maar dis nie soos my top of the range nie… Die muis is baie senstitief, en omdat ek so half oor die ding hang, die stoeltjie is ongemaklik laag en dis nie my gewone werkspasie nie, spring die flikkerende curser na ‘n reëltjie wat ek nie self gekies het nie, en verander ek die sin in iets wat my laat klink na iemand wat kontak met die realiteit verloor het . Lifi sê ek lyk koddig. Ek voel koddig.

Maar ek is nog geduldig. Ek kies om nie my humeur heeltemal te verloor nie. Dis lekker om te gil en te skree, te vloek en te skel, maar dis definitief meer rewarding om in beheer te bly. Ek weet ook dat dit ‘n lang dag was en ek is net moeg!

Want al beplan ek my dag perfek, is daar altyd ‘n moontlikheid vir een of ander shut down. En daar is altyd die hoop dat dit van korte duur is, of dat die herstel so gou moontlik sal wees, want wat as dit permanent is? Wat dan? Ek aanvaar dus gelate dinge, mense en goeters in my soms komplekse lewe wat bietjie afskakel…

Aan almal wat ‘n bietjie moet shut down, wie se knoppies oorsensitief is, doen dit… skakel bietjie af, net bietjie, want wat as dit permanent is? Wat dan?

“Oondliggie se switch…”

Terwyl ek hier sit en skryf, wag ek om te hoor hoe laat ek VANDAG moet vlieg Kaapstad toe. Môre dié tyd doen ek ‘n presentation by ‘n SANAC (SA National Aids Council) LGBTI (Lesbian, Gay, Bisexual, Transgender & Intersex) Consultative Meeting.  En kyk, ek ken van sloer tot op die nippertjie, maar hierdie organiseerders wen loshande die 2011 Procrastinator van die Jaar prys, effortless!

Nou luister ek maar Seënbede, brand wierook en kerse, en wag…

My storie vir vandag het niks met bogenoemde te doen nie. Ek het probeer dink aan iets wat link, maar dieselfde storie pop in my kop op, so ek moet dit seker vertel. Dis hoe ek skryf, my stories kom na my toe. Baie selde moet ek sit en dink daaroor. Alhoewel dit ‘n hele nuwe ervaring vir my is, weet ek dan my stories is God se Wil. Soms wonder ek of dit reg of toepaslik is, maar die dringendheid bly daar – vertel, vertel…

Jare terug, kuier ek en my toe lover, by haar swaer. Of laat ek dit so stel, haar toe al amper eks swaer, want die en sy vrou, haar suster, was besig om te skei.  En soos dit maar met enige egskeidingsproses gaan, is die logistieke reëlings een van die vele nagmerries in daai moeilike tyd. So het sy vir tyd en wyl in die hoof slaapkamer gebly, terwyl hy leefkamer toe getrek het. Ook het sy haar gang gegaan, onafhanklik van die res van die gesin se aktiwiteite, soos byvoorbeeld aandete. Nou een ding waarvoor hy bekend is, is ‘n moerby pot vol allerhande blikkies kos met maalvleis as basis. So het ons dan gereëld ingeloer en vir aandete gebly.

Dié betrokke aand was weer so ‘n geval. So terwyl hy by die stoof staan en die kastrol blikkie vir blikkie volmaak, kuier ons lekker intiem om die klein kombuis tafel. As ek reg onthou het ons die een OBS na die ander weggeslaan. So, saam met die heerlike kosreuke, het die joligheid gegroei. Ek kan dink dat ‘n buitestaander sou sê “Dit lyk lekker, hiervan wil ek ook graag deel wees.” Dis nou te sê as die groepie jou daar wou hê!

Die volgende oomblik kom die amper-eks-vrou die knus kombuis binne. Die lag hou skielik op. Met ‘n stywe bekkie, glurende swart skrefies oë en hande in die toe-al-maer-wordende-heupies, lig sy hom in, ontoepaslik vir die oomblik, maar heel toepaslike vir die situasie, dat die oond liggie se switch nog steeds nie werk nie! Heel verstom staar hy haar aan asof sy kontak verloor het met realiteit. Hy kry sy stem terug, of het hy? en snou haar iets sarkasties toe. So weet ons op daai stadium, dat al wat sy blykbaar uit die egskeiding gaan kry, die oond is. Noodeloos om te sê, die atmosfeer het binne sekondes varander van warm en intiem, na koud en hartverskeurend pynlik. Soos ek sê, om iets of iemand te verloor, is moer seer. Hier verloor hy haar en ‘n stoof. Hier verloor sy hom, ‘n huis, ‘n gesin, vriende en die tipe intimiteit.

Stilweg loer ek vir my lover en fluister “Dis nie die oondliggie se switch nie…”

 

Tot vandag toe, wanneer ek sien hoe ‘n grootmens ‘n tantrum gooi, van stille bokbek tot simptome van angs en depressie, dink ek, dis definitief nie die oondliggie se switch nie… Want meeste van die tyd is dit net soveel makliker om te projekteer, of te rassionaliseer, want die realiteit, die verlies, die pyn en hartseer is net té groot, selfs vir ‘n grootmens, om te hanteer…

Previous Older Entries