In die wolke – sonder bagasie

My laaste ALICE “Kies jou Tong” artikel:

Nee, ek ervaar geen gevoel van euforie, manie of selfs verliefdheid nie. Ek is net op ‘n vliegtuig, oppad Kaap toe.

Dit is die begin van die liefdesmaand, sigbaar in die manier waarop Liefde kommersieël en subtiel vir Kersfees van die winkelrakke afboelie.

Om liries te raak oor die liefde sal ek vir Sappho en haar susters los. Dit is nie dat ek sinies is nie. Dit is moeilik om in die wolke te wees as die verliefdheid my sisteem verlaat het. En dit het. Jare terug al. Vandag is ek net lief, die ‘ver’ vêr in die verlede.

Maar ek onthou dit vaagweg. Ek is onlangs herinner toe ‘n deelnemer in een van my werkswinkels my uitdagend vra hoe dit voel om verlief te raak op ‘n vrou. Die plooi op haar voorkop het ‘n frons geword, en toe iets in die vorm van ‘n vraagteken. Verbeel ek my of ruik sy hoendermis? Ek glo nie in sarkasme nie, maar moes die oorweldigende versoeking om iets sarkasties uit te spoeg, erg bedwing. Ek wou graag met my skerp geoefende tong iets terugsteek.

Ek vra “Wanneer was die laaste keer wat jy verlief was, op ‘n man of ‘n vrou, ek maak nie aannames nie?”  Verontwaardig sê sy “Op ‘n man ja – natuurlik!” Vir jou is dit dalk natuurlik, nie vir my nie, dink ek verveeld. Ek vra meer opgewonde “Wat het jy gevoel?” Ek wag vir die glinster in haar oë, die veraf uitdrukking van ‘n oomblik se herinnering en lekkerkry. ‘n Minuut tik-tok verby en niks gebeur nie!

En ek besef, ag shame, sy weet nie hoe dit voel om verlief te wees nie. Sy het dit heel moontlik nog nooit ervaar nie? En al wat sy weet is dat sy iets moet voel, en dat die iets vir ‘n man moet wees.

Begeesterd haak ek af, “Dit is soos om net twee blokkies hoë-GI Weetbix te eet, en nooit deur die dag weer honger te word nie. Dit is wanneer alle breinaktiwiteite geminimaliseer is tot ‘n enkele gedagte aan háár. Dit is om rose te ruik in ‘n vertrek sonder blomme en oop vensters. Dit is daai ongekende geduld wat jy het, selfs met taxidrywers, maar die ongeduld in die tye van afwagting tot die herontmoeting. Dis wanneer niks anders saak maak behalwe om by haar te wees nie. Dit is om “I drove all night” op jou kasset letterlik op te luister, net anderkant Laingsburg al, oppad terug Pretoria toe. Dit is om in die oomblik te leef, sonder ‘n worry oor môre, of wat die mense gaan sê…”

Die dame se gesigsuitdrukking het nie verander nie.

Die vraag wat gay girls my die meeste vra, van toe tot nou, is snaaks genoeg nie hoe het twee girls seks, soos die meeste straights wil weet nie, nee, dis “Waar ontmoet ek ander (nice) gay girls?” En voor ek kan antwoord “Daar waar jy dit die minste verwag”, word ek met die realiteite gebombardeer soos – ek gaan nie na gay clubs toe nie, of – meeste van my vriende is straight, of – ek neem nie deel aan spansport nie…

Ek kyk bietjie anders na die lewe. Ek glo ‘n mens kan ’n geliefde in die supermark ontmoet, terwyl altwee vir dieselfde blikkie baked beans mik.  Maar dié insig en wysheid was my nie altyd beskore nie.

Ek het geleer.

Dit is arrogant van my om ‘n ander toe te laat om intiem lief te word vir my as ek nie lief is vir myself nie.  Dit het ek besef tydens die slapelose nagte van my laaste break-up, toe ek kaalgat myself betraand probeer vind het in die bodem van ‘n bottel rooiwyn, op die bank vir twee, in my leë huis met sy groot paaiement. Na weke se wroeg, trane en honderde druppels Rescue Remedy, was die liggie aan die einde van die tonnel nie net meer dié van die aankomende trein nie.

Ek het geweet.

Ek like nie myself nie. Het ek al ooit, het ek gewonder. Het ek nie maar deur ander, veral my lovers, se oë gekyk en gehoop ek is OK genoeg nie?  Ek het besef ek wou nie meer net OK wees nie. Met die vashou aan daardie vae liggie het my reis van emosionele en spirituele groei begin.

“Sal jy jouself date?” vra my kollega nou die dag. Sewe jaar terug sou ek gesê het “Is jy mal? Nooit!” Vandag is dit ‘n ander storie.  Vandag hou ek van wie ek is, van wie ek myself toegelaat het om te word.  Dié selfliefde is nie ‘n selfsugtige selfbeheptheid, ‘n narsissistiese selfbelang nie.  Dit is eenvoudig ‘n wete. Dit is ‘n geloof. Dit is ‘n bewustheid dat my honger vir die lewe net gestil kan word met dít wat vir my ware energie gee en dat ek net dit kan gee wat ek in oorvloed van het.  In elk geval is daar ‘n geweldige tekort aan liefde in die wêreld.  Hoe meer ek vir myself omgee en my grense in plek het, hoe meer kan ek gee, en hoe minder verwag ek (ook wetend dat dit nie altyd maklik is nie).  Ek trek tog aan dit wat ek is.

Katherine Centre skryf in haar boek, Everyone is Beautiful: People are always beautiful when you love them. Ek glo dit is van toepassing op die self, en dan ‘n ander. Ek glo ook dit is ‘n mooigeit wat verby die fisiese gaan.

Eers toe ek my les geleer het, en besef het wat dit beteken om myself te aanvaar en lief te hê, net soos ek is, het ek my Groot Liefde ontmoet.  Toe nou nie in die winkel by die baked beans blikkie rak nie, nee, by ‘n sokkiejol – nogal. En so, sonder verwagting, oordadige verliefdheid of bagasie, het ons liefdesreis saam begin.

Die Matras

Muiznes, die nuut oorgedoende 31 vierkante meter snoesnes by die see, moet ‘n nuwe bed kry. Die beplanning is dat die nuwe Seally sy opwagting moet maak dieselfde dag as die nuwe opgewonde eienaars. Dus, stap ons twee dames die winkel binne, so om en by 3 weke voor die datum van aflewering.

Ons word arrogant vriendelik ontvang deur ‘n jong blonde man wat lyk of hy eerder op die strand by Surfer’s Corner hoort, as in ‘n stil bed-en-matras-winkel in Centurion op ‘n Saterdag oggend.

Mens kan eintlik bel en ‘n bed bestel, maar hoe weet mens hoe die nuwe duur matras dan voel? Mens moet mos eers bietjie op dit lê? Ons kry een wat ons lywe en sak pas, sommer die eerste bed by die ingang van die winkel.

So spreek Lifi ons behoefte/s selfhandhawend, tog met ‘n tikkie aggressie uit. Surferdude sê hy dink nie die bed kan 1600km verder in die Kaap afgelewer word nie. Lifi strip haar moer en kap hom iets heeltemal aggressiefs toe en eis om met iemand te praat wat weet wat aangaan.

‘n Vriendelike slimmer man sê die aflewering is heeltemal moontlik, hy moet net seker maak dat daar voorraad is in die groot stoor in die Kaap. Lifi grom iets na Surferdude se kant. Ek herinner haar dat dit nie nodig is om ongeskik te wees nie.

Terwyl ons sit en die admin voltooi, help Surferdude ander kliënte van die bed tot op die grond. Hulle verlaat die winkel vinnig.

Twintig minute later is als betaal en gereël. Tevrede stap ons deur se kant toe. Surferdude kom groet. “Geniet die bed” sê hy en glimlag groot.

Heilige Koei Holy Cow

Heilige Koei Holy Cow

Dag 1 van ‘n-foto-elke-dag-vir-30-dae.
Geneem op Vrydag is Mydag – 1 Junie 2012 by Irene Village Mall, of die Koei Plek, soos ek dit meestal noem. Dit is ‘n plek waar ek hervul, graag, soos vandag.
Die foto is een van die pote van die koei wat in die hart van die sentrum op sy rug begrawe is. Jy sien nie bene en uier. Die kinders speel graag op en oor die koper spene. En in die arrogante spuitfonteintjies daarlangs. Vandag geen kinders. Dis die 1ste dag van winter. Goddank.

Image

Koester

Ek is darem nog hier… 

Net soos ek dink ek gaan nou meer aandag gee aan my skryfwerk, dan gebeur die lewe. Ek was so bietjie in ‘n twee maande lange “deep freeze”. Ek werk hard daaraan om nie skuldig daaroor te voel nie. Daarom vra ek ook nie om verskoning omdat ek nie geskryf en geblog het nie. 

Vandag, twee weke terug, was die laaste dag van ‘n besige skryfweek saam met Riana, nege ander woordewoekers en De Compagnie brandewyn. Ek verlang na hulle vandag. So nou reminis ek oor ons kosbare tyd saam. En die stories.

Een van die (honderd) opdragte, was om 5 woorde te kies voor die skryfweek. Elke oggend het ons ‘n minuut gekry om ‘n sin te maak met die gekose woord.  Hier volg my vyf sinne. Kyk of jy kan uitmaak wat was my woord? 

7 Mei – Ek voel jou

8 Mei – Amper verlang ek na jou.

9 Mei – Vandag koester ek ons ongewone oomblik saam.

10 Mei – Ami is mooi, androgeen mooi.

11 Mei – En les-bes, mors mens nie met woorde nie.

Na die diep week het ek besef, ek is die skrywer van die kort kortverhaal. Kort sinne. Met impak. Elke woord het betekenis. En ook die storie in die storie. Dit is wie ek is. Dit is wat ek doen. In meer as net my skryfwerk. So alhoewel ek nie die Hertzog prys vir die week (well done Lizle!) gewen het nie, het ek darem so teen die Donderdag die Eugene Marais, ‘n hele mandjie vol koejawels (dankie Laetitia!) gewen, vir die volgende storie:

KOESTER deur Delene van Dyke – 10 Mei 2012

Ek droog my hande af.

En ruik jou.

Van wanneer af ruik Stasoft nie meer blou nie, eerder na jou?

Sewentien jaar.

Toe, toe ek nie geweet het wat ek vir jou voel nie. Toe, toe ek geweet het ek móét voel.

Ure op die tiekieboks.

Filosofeer tot net voor môre.

Pen en papier briewe, langes.

Nagte vol giggel, drome en begeerte.

Kussinggevegte op my vierdehandse dubbelbed.

Ek voel jou.

Ons skaam liefde so sonder ‘n naam.

Toe gaan trou jy.

 

Nou herinner die vars blou reuk van ‘n pasgewaste handdoek my aan jou.

 

Gedwonge.

 

Ek koester ons.

‘Die Hemel is Rooi’

‘Rieeeeette, Rieeeeette, maak oop! Ek weet jy’s daar binne!’

 

Doef! Doef! Doef! My kop?! Wie skree so?

 

‘Maak oooooop! Ek het amazing nuus!’

 

So die gedonder kom van buite my koshuiskamer? Ek moet seker oopmaak. Lana gaan tog nie ophou of verdwyn nie! Oeps, wat is ek so onvas op my voete? En hoekom is dit skielik so ver na my deur toe? Wat draai als so? Laat ek net weer bietjie sit. Oeps, amper val ek!

 

Ek kom Lana! Sjoe, wat praat ek so moeilik? Haal diep asem Riette.

 

‘Uiteindelik! Wat vat jy so lank? Ek het so baie om te vertel! Voor ek vergeet – Happy Birthday girlfriend! Nou’s jy ook ‘n grootmens!’ Lana lag van lekkerte en druk my vinnig styf vas voor sy my armlengte wegstoot en my  gemaak kwaai in die oë kyk.  ‘Jissie girl, wat’s jy so bleek en natgesweet?! En jy kook?! Het jy griep? Is dít hoekom ons jou nie by die kerk gesien het vanoggend nie?’

 

Al die vrae… watter een moet ek antwoord? Ag dis nie nodig nie, Lana wag blykbaar nie vir ‘n antwoord nie.

 

‘Girlfriend, ek het hom weer by die kerk gesien! Die gorgeous  pa van my drie kinders!

 

Sy sê elke woord stadig, vir groter impak. Ek voel nie lekker nie, haar fantasieë oor Klein Tom Dominee maak my glad nie opgewonde vandag nie.

 

‘Hy het vir my gesmile én hallo gesê by die deurkollekte. Gelukkig het ek nog ‘n Rand by my gehad om in te gooi. Ek sou my doodgeskaam het as ek niks gehad het nie! Ek is maar laag die maand, met almal wat so een en twintig word. Hy’s amazing! Is jy nie excited vir my part nie?

 

Wat? Ekskuus? Nee, ek… is…bly… net bietjie… moeg… en out of it.

 

‘Jy’s nie lekker nie maatjie. Laat jy in die bed kom. Ek moet gaan leer, my semestertoets van Dinsdag gaan nêrens heen nie. Ek weet nie hoe ek gaan konsentreer nie, ek sien net Tom, Tom, Tom! Anyway, kyk mooi na jouself, né? Toodledoo!’ giggel sy by my kamer uit.

 

Wat ‘n verligting, ek het nie krag vir Lana Drama nie.

 

Wat is so nat hier in my bed? Ek kan nie sien nie, dis al donker. Miskien net die swetery. Laat ek twee van daai pynpille drink wat hy Vrydag in ‘n klein bruin koevertjie in my hand gedruk het met ‘n ‘Take one or two if you feel tha pain or tha feva’. Hierdie is verseker ‘n feva, ek was laas so warm toe ek my lyf met die son laat verbrand het. Ek was twaalf en Ma het gewaarsku ‘Smeer julle dik van daai sonbrandroom voor julle see toe gaan’. Ek het gesê jaaaaaa Mamma! soos ek soms gejok het wanneer sy gevra het of ek saans voor slapenstyd my tande geborsel het.

 

Ek was stout Mamma.

 

Ek is naar. Dit is al 2 uur in die oggend, skel my klokradio in bloedrooi. Hoekom is ek so nat? Wat gaan aan met my? Hoekom is die bedliggie so vêr? Hoekom werk die pille nie? Hoekom kry ek nie my arm opgetel nie? Hoekom sit my bobene vas aan mekaar? Hoekom bewe ek so? Iets is nie lekker nie.

 

Haal diep asem. God gee my krag. Liggie is aan. Die lig is skerp, dit vat langer as gewoontlik om gewoond te raak daaraan.

 

Wat?! Liewe Here! Help my asseblief Liewe Jesus. Wat het ek gedoen? Hy het gesê ek gaan net bietjie bloei, soos daai tyd van die maand, niks meer nie. Ek het nie ‘n keuse gehad nie! Hy was al wat ek kon bekostig.

 

God! Help my! Nee, Here, vergewe my eers. Ek is só jammer. Ek wil so graag my studies suksesvol klaarmaak. Almal is so trots op my. En ek het keuring vir Honeurs gekry volgende jaar. Ek wil ook ‘n goeie sielkundige wees, soos Pa en Tannie Anne, en oom Paul.  En soos Oumie was.

 

Ek kan nie beweeg nie! Gaan ek doodgaan? Word ek nou gestraf? Here, waar is jy?

 

Wie gaan my kan help? Ek moet vir Mamma bel, nee, sy sal my doodmaak! Wat van Pa? Ons het nog nooit gegel nie, hy verstaan my nie. Nee, net nie Pa Prof nie! Tannie Anne? Ek het nie krag om haar te Skype in Australië nie. Miskien Sus? Nee, sy gaan vir my preek, want sy sal haar skaam vir my. 

 

Bid! Iemand moet vir my bid! Dominee Daan dalk? Hy’t my gedoop! Nee, hy gaan vir my ma hulle sê.  Die Bybelstudie groep is uit! Net nou die dag het hulle afgegaan oor ‘die moord van die stemlose onskuldiges’.  Angus, Ester, Franco, Beet, Sandra, Chris, Gretha, James? Nee, nee, nee! As julle die waarheid van my moet weet sal ek nooit weer toegelaat word in die elite groep nie! Ag wat maak dit ook nou saak? Ek weet julle almal lieg julleself happy.

 

Met al die bloed moet ek seker ons huisdokter bel. Hy ken my al van doekedae af. Maar, iets aan hom laat my ongemaklik voel. Ek onthou vaagweg toe ek veertien was en ‘n moesie laat uitsny het. Ek wou weet wat is ‘n FL. Hy’t gelag en gesê ek moet hom kom vra as ek een en twintig is. Dokter Ben, ek het gister een en twintig geword… Nou wat nou? Nee! Hy gaan vir my lag.

 

Wat van Lalie? Ons is beste buddies al van Graad Een af. Maar ek het drie maande laas van haar gehoor. Nee, sy gaan dink daar’s iets fout as ek haar uit die bloute bel.

Ek het nie krag vir haar histe…

 

Ek… is… só moe…

 

Aaahhh! Die son het opgekom en dis darem nou lekker warm in my kamer, nie so vrieskoud soos deur die nag nie. Die pyn is weg! Ek voel sommer ligter.  Wie staan daar by die deur? Dis Oumie!

 

Oumie Magriet, jy’t gekom! Ek het altyd geweet ek is meer as jou naamgenoot. Jy was nog altyd die een wat geluister het. Onthou jy die keer toe ek so gehuil het nadat Abel de Jongh ons drie weke kys gebreek het? Jy het my styf vas gehou, oor my hare gevryf, my voorkop gesoen en my gewieg tot die histerie uiteindelik net ‘n snik geword het. Die sagte reuk van jou Youth Dew parfuum was ‘n kalmeerpil. Dit was goed vir my. Jy was goed vir my.

 

Ek is so bly jy is hier. Kom ons gaan stap ‘n entjie. Ek het baie om te vertel.

 

Ek was stout Oumie…

 

*************************************************************************************

 

PS: Die storie stap saam met my die afgelope paar weke al. En toe ek gister met groot skok en hartseer in die Beeld lees van die UJ student wat dood gevind is in haar koshuiskamer na ‘n agterstraat aborsie, het die behoefte om “Die Hemel is Rooi” te skryf, my net oorweldig…

 

God, ek bid vandag dat elke vrou mag kies, sonder vooroordele, met die ondersteuning en die beskikbaarheid van toepaslike seksuele en reproduktiewe gesondheidsdienste. Die onkondisionele liefde van ‘n naaste sal ‘n groot bonus wees, dankie. AMEN.

My hart bewe

Pandora is klaar! Ek gaan sê hallo vir ‘n bekende groep opgewonde ondersteuners buite die teater. Julle groepie stap verby. Ek het nie kans gekry om hallo te sê nie. Ek draai na links, vir ‘n oomblik weg van my geselskap en skree ‘n amper te laat ‘dankie’ in julle rigting. Jy stap nader. “Ek wil jou ‘n druk gee” sê jy. Ek maak my arms oop, en ons hou mekaar styf vas. “Sê my wat’s jou naam” vra ek, effe oorweldig deur die intimiteit van die oomblik. Ek hoor maar ek luister nie. Jy hou my hande styf teen jou breë bors vas. Ons sê niks, kyk diep. Dan fluister jy “Dankie, dankie…”. Jy raak weg in die donker. Net ‘n skielike leemte en die reuk van duur aftershave bly agter. Ek sluk swaar en ek weet, God weet – my show het ek vir jou gehou.

Pandora se Doos, English version

Image

 

Just another week before Pandora is back on Stage at the Centurion Theater. Come and share in 2 hours of sextalk with a kink….!

Oor ‘n week is Pandora is terug op die planke by Centurion Teater, die keer in Engels. Kom en deel in 2 ure se gesels oor seksualiteit, met ‘n kinkel…!

‘Dankbaar’

10 Februarie

‘n Jaar later

365 dae word

lig en ligter.

6kg.

Verligting

verlies.

42 734 woorde

van my lyf af.

3700 besoeke.

Ingelig.

Ligter en Lig

word Delene.

“Onverwags”

Ek is nie bang om dood te gaan nie. Ek was. Ek is bang vir pyn, fisiese pyn en ongemak. Gee my depressie, gee my angs, gee my manie, gee my hartseer, gee my verlies, gee my stres – ek het goed geleer om dit te hanteer.

Pyn, bly weg!

Ek weet dit al vir baie jare. Ek kan geen fisiese trauma uit my kinderjare onthou nie. Dit is asof, so gou dit gebeur, so gou die fisiese healing, so gou ontken ek die gebeurtenis.

Ek onthou wel hoe my vriendinne my vasgedruk het op my armybed, toe ons nog studente was. Dalk was die vernedering groter as die pyn?

Hulle het, terwyl ek plat op my maag vasgedruk is, en in trane na asem, ‘n engel en ‘n einde aan die marteling gesmag het, my aanhoudend op my bene gekap, met die kante van hul hande, soos ‘n onervare sport masseuse sou doen met ‘n sportman se seer oorwerkte bene. Tussendeur my histeriese gille, en iets soos ‘Stoppit, fok julle!’ en hul sarkastiese gelag het ek net die woord ‘Sissie!’ gehoor.

Vandag, kyk ek langer as gewoonlik vir myself in die spieël. My gelaat is steeds witgrys.

Drie dae vantevore:

Dis ‘n Parotis Tumor. Onder my linker oor in my nek. Nie-kwaadaardig. Goddank. Sê almal.

Dis toe my oë pieringgrootte bereik en wasig raak dat hy my probeer gerusstel. Moenie worry nie, mense kyk vir jou van voor af. Fokkit.

‘n Sny so lank soos ‘n lineaal en ‘mense kyk vir jou van voor af?!’ Ek is nie gepla oor wat mense sien nie. Ek word al vir jare aangegluur, van voor, die kante en agter af.

Daar is ‘n moontlike komplikasie van die sjirurgie. Net soos as die tumor gelos word om te groei, hoe stadig ook al, is daar ‘n moontlikheid dat ‘n gedeelte van my gesig kan lam kan word. En hy trek sy gesig op verskillende maniere skeef, so asof ek moet lag vir sy grappie.

Ek neem aan ek moet oorslaap, sêvra ek. Hy lag sinies. Of was dit sarkasties? Twee tot drie dae. Jy gaan wakker word met ‘n drein. Hoe lank voor ek weer kan werk? So twee weke. Gee jouself genoeg tyd om te herstel. Dis ‘n groot operasie… Blah blah blah. Ek kan nie veel van sy oppervlakkige gerusstelling verder onthou nie. Net êrens dat hy darem nou nie ‘n cowboy is nie… Hy sal mooi sny…

Ek het dit nie verwag nie.

Ek is skaars uit die 6 minuut 30 sekondes lewensveranderende konsultasie toe ek my trane skaars kon keer. My asem weg, maar die trane wil hardloop.

By sy ontvangsdame, wat ‘n paar dae vantevore my ongeduldig probeer oortuig het dat die dokter my sou bel as daar iets fout was, moet ek aan die toonbank vasklou om nie in ‘n hopie op die grond te val en histeries te huil nie.

Sy verduidelik geduldig drie keer wat ek met al die vorms moet doen. Dit nadat ons ‘n datum vasgemaak het vir die Groot Sny. Sy verduidelik een keer wat ek die oggend voor ses moet eet. Dit sal ek onthou, want dis nie veel nie.

Ek het dit nie verwag nie.

Nog voordat ek die dokter se oorvol spreekkamer se deur agter my kon toeslaan, kan ek nie meer ordentlik sien nie. My bril is opgewasem en ek gee ‘n onvroulike snik, darem so saam met die swaaiskree van die deur.

Ek is op die tweede vloer van baie geneeshere se tweede huis. Ek wil by die trappe af, maar kan nie ‘n tree voor my sien nie. Ek weier om die hysbak te vat. Ek wil nie nou stil staan nie en het nie krag vir ander se ongemaklike kyke nie.
Ek hang vir ‘n diep-asem-oog-droog oomblik oor die trap se reëling.
By die hospitaal meld ek aan. Vul die vorm in, sê ‘n baie vriendelike dame. Ek sê niks. Knik net. Gaan sit sommer daar, wys sy na die naaste stoel toe ek verslae met die clipboard net daar bly staan en voor my uitstaar.

Dit neem langer as gewoonlik vir my om ‘n standaard hospitaal vorm te voltooi. So asof ek twee keer moet dink aan die antwoord. Voor my vul ‘n vêr swanger ma ook ‘n vorm in. Is sy opgewonde of ook bang, wonder ek stadig. Ek voel nie so helder nie.

Kopieë van my ID boek en mediese kaart word gemaak. Gelukkig is die foto van voor. Ek sal steeds herken word as die rekening nie betaal word nie, al is die sny Frankensteinagtig groot en net aan die kant van my gesig, oor, nek en ken.

Die foyer van die hospitaal is wasig donker vir 11h00 in die oggend. Ek het nooit my sonbril met my gewone bril geruil nie. Ek los dit sommer so. Mense sien nie watervalle agter donker lense raak nie. Mense sien nie nat wange raak nie.

Oppad kar toe klim ek die trappe af, totaal intuitief. Ek sien niks. Voel oorweldig en skuldig. Dis dan nie kwaadaardig nie?! Hoekom voel ek nie verlig nie?

Ek los ‘n boodskap vir my geliefde. Gelukkig antwoord sy nie onmiddelik nie. Ek wil nie hê sy moet dink ek is ‘n sissie nie…
Ek huil huis toe teen 100km per uur. Intuitief. Ek sit vir 10 minute in my garage, met geen idee wat om te doen nie. My geliefde bel, ek huil soos ‘n sissie…

Ek het dit nie verwag nie.

Ek is vir die volgende drie dae plat in die bed, met die grootste kopverkoue wat ek nog ooit in Februarie gehad het. Genoeg tyd om tussen snot, trane en koorssweet tot die slotsom te kom – ek het dit nie verwag nie.

Ek is sterk. Ek weet ek is. En om te erken dat ek nie van fisiese pyn en ongemak hou nie, maak nie van my ‘n swakkeling nie. En ek is bang vir pyn.

Dit weet ek.

Vandag vrees ek, klam, koorsig en witgrys, die onverwagte.

Ter verwagte.

“Saggies Seermaak”

Bongani* bly langs die begraafplaas, in ‘n grashut, buite ‘n ‘village’ (stat) in Malawi. Hy is die enigste in sy bedryf in die area, al sedert 1953. Volgens die hoofman, is hy ook die beste. Sy twee vroue ondersteun hom reeds jare – dit help wanneer hy moeg raak. Maar hy is trots en gaan slaap nooit honger nie. Sy dienste is in aanvraag.

Hy is besig om die hut voor te berei vir sy volgende kliënt, Sophia*. Sy het haar man twee weke gelede verloor na ‘n lang siekbed. Sophia is 26 en haar jong lyf maak moeg en geboë haar opwagting, so voor sononder, met ‘n hoender onder die arm. Die stof op haar blink bruin sagte wange het harde grys modderstrepe geword. Sy sê nie ‘n woord nie, skree deur haar kykers.

So vanaf sononder tot sonsopkoms, het Bongani verkskeie kere afwisselend seks met Sophia en sy twee vrouens. Sonder gevoel, insig of kondoom. Dit is wat die reëls sê. Bongani is die ‘village cleanser’. Teen betaling – ‘n dônnerse hoender – ‘verlos’ hy, al vir meer as 60 jaar, weduwees van die moontlikheid van kranksinnigheid en ‘n vloek op haar, haar man se familie en die hele verstokte gemeenskap. Dit laat ook dan die siel van die dooie toe om te gaan rus aan die anderkant.

Dit is die senario wat in my gedagtes afspeel terwyl ek sit en luister na die terugvoer van verskeie Afrika lande by ‘n streekskonferensie. Hulle het programme implementeer om gender-gebasseerde geweld in onder andere Malawi, Zambië, Zimbabwe, Mosambiek en Suid Afrika, te bekamp. Dit is ‘n warm dag, glo die warmste in 50 jaar. Gelukkig word die bywoners se lywe en gemoedere afgekoel deur goeie lugverkoeling. In die res van die vyf ster hotel is dit maar net so ‘n louoond soos daar buite. Die hitte het so saam met my in Zimbabwe geland. Ek sou graag wou glo dis my warm persoonlikheid, maar helaas toe nou nie.

My gemoed kook.

Die gesprekke draai om die uitdagings wat veral vrouens ervaar binne die konteks van gender-gebaseerde geweld, gefokus op kulturele praktyke wat dié vrouens in gevaar stel vir MIV oordrag. Hier, in Harare, besef ek weereens, hoe bevoorreg ek is om ‘n wit Afrikaner vrou te wees. Alhoewel die wit Afrikaner ook bekend is vir jare se kwetsende vorms van geweld teen vroue, is die praktyk tans onder bespreking, ‘widow cleansing’, nie iets wat bekend is aan my nie.

‘Widow cleansing’ – daar is nie eers ‘n toepaslike Afrikaanse woord daarvoor nie, (miskien ‘weduwee reiniging’?), is ‘n kulturele praktyk wat oor eeue heen in verskeie Afrika lande gepraktiseer, aanvaar en afgedwing word. Die vrou van die oorlede man moet seksueel ‘gereinig’ word deur (gedwonge) seks te hê met een van haar man se manlike familielede, of die village cleanser soos Bongani.

Waag die Sophies om teen hierdie gruwelike (mis)daad te skop, word hulle verwerp deur die gemeenskap en veral die man se manlike familielede, die met die mag. Daar is ook ander Sophies wat glo dat ‘widow cleansing’ nodig is, want hulle het al weduwees sien mal raak wat dit gewyer het.

Nodeloos om te sê, die weduwee het ‘n keuse van hoe en met wie hy ‘gereining’ wil word.

Hierdie lewensgevaarlike kulturele praktyk maak glad nie sin nie. Geen sogenaamde beskerming van kultuur of (vals) geloof kan dié nihilistiese praktyk en totale verontregting van vroue se regte regverdig nie!

So ‘n paar jaar terug ondersteun ek vir Hantie*. Sy is nog nie heeltemal uit die kas nie. Ook eensaam. Werk maar vir ‘n paar maande in ‘n biblioteek in Pretoria en verlang baie na Klerksdorp en haar mense. Haar ma, bewus van haar kind se amper kluistenaars bestaan, stuur vir Gert*, verlangs familie, om haar uit haar dop te trek. Hy bly darem ook êrens in Pretoria.

Een van die beklemmende kuier aande, erken sy, in die hoop dat hy sal ophou met sy gesoenery, dat sy eintlik meer vir vrouens voel, Toe gebeur die onverwagte. Hy verander in ‘n monster. Terwyl hy haar herhaaldelik verkrag, fluister hy in haar oor dat sy en mense soos sy, walglik is en dat God haar haat. Omdat hy ‘n geloofsman is, sal hy dit op homself neem om haar te ‘reinig’.

So het ek ‘n hele paar Hanties deur die jare ondersteun. Meeste was van townships. Ook ‘n hele paar wit girls, getraumatiseer deur verkragting, om hulle te ‘korrigeer’, of te ‘red’, of te laat voel hoe dit nou eintlik moet voel, of om hulle te straf. Sover ek weet het slegs een van die gevalle die binnekant van ‘n hof gesien. Die slagoffers is geknak gelaat, die oortreders steeds oortuig van hul ‘goeie’ daad.

Soos die woord en daad widow cleansing, maak die woord en daad ‘korrektiewe verkragting’ geen sin nie. Verkragting op grond van seksuele oriëntasie is nog ‘n gruwelike en nihilistiese vorm van gender-gebaseerde geweld en moet as sulks erken en voorkom word!

Jare terug kuier ek by ‘n verjaarsdagpartytjie. Ek ken nie die gasvroue of gaste nie. ‘n Paar vreemde vriendinne het my saamgesleep. Ek het toe nog nie geweet van ‘nee’ sê nie, en was vars uit die kas en ‘n bietjie desperaat. En daar sien ek iets wat ek toe nie verstaan het nie, maar vandag van beter weet. Ek het altyd gedink selfde geslag paartjies se liefde vir mekaar word nie met misbruik versuur nie.

Ek het nie veel te sê gehad nie, het maar net vanaf die stoepmuurtjie vir die mense gekyk en geluister. Ek doen dit al van 3 jarige ouderdom af, kyk vir mense en luister. Ek onthou hoe ek as ‘n kleuter vir die mense om my gekyk en gedink het – julle hoort nie in my wêreld nie! Snaaks genoeg, ek het nooit gedink ék hoort nie in júlle wêreld nie!

Vera*, die butch is besig met die vuur, vleisbraai en vertel van vervelige grappies. Sy lag lelik en hard en vergruis haar leë koeldrank blikkie met een druk. Vera gebruik geen alkohol nie, maar is so luidrugtig soos ‘n dronk hoender. Die ander butches kloek om haar. Sy is ‘n bekende Pretoria Dyke en ‘n ‘rolmodel’ vir baie.

Selma* is die femme. Sy is stil, soet, skugter en maak slaai. Vera skree “Sella, bring nog bier vir my tjommas en roer jou gat!” Die butches lag lekker saam, die femmes rol hul oë. Iets is nie lekker hier nie… Verbeel ek my of was Vera ernstig? En verbeel ek my verder of ignoreer Selma die opdrag? Ek voel iets aan wat my ongemak-radar aktiveer, maar niemand anders lyk gepla nie. Skielik staan Vera op die kombuis se drumpel. Die femmes verdwyn. Terwyl sy Selma se oor liefdevol soen, sis sy saggies “As ek praat, luister jy… bitch!” Selma steier terug en stoot angstig haar hemp se langmoue effe op. Voor Vera dit vinnig afpluk, sien ek die bloupersgroen kolle op die dun wit polse. Hulle het van my vergeet waar ek buite die kombuis op die tuinmuurtjie sit.

Oppad huistoe dink ek terug aan die dag. Die ander in die kar is dronkerig gelukkig. Ek is stil en peinsend. Vera en Selma is al 12 jaar gelukkig bymekaar, die perfekte paartjie. Daar het ek vir die eerste keer besef, meeste mense lieg hulself happy.

Ek was eens in ‘n verhouding waar ek eers in retrospek, na maande se introspeksie, my aandeel in die verbrokkeling daarvan besef het. Dit is dan ook in daardie maande wat ek besef het dat ek nie so nice is soos ek gedink het ek is nie. Ek wou graag al die skuld vir my emosionele tsunami op my eks pak. Sy het dan die nee-woord gegee, so sonder waarskuwing haarself met ‘n verwoestende golf uit ons verhouding uit genavigeer. Ek glo dat ek in daai tyd van stukkend wees, deur genade, myself kon sien soos ek nou verseker weet ek wil nooit weer wees nie.

Ek was nie gelukkig nie. Ek was ook toe een van die miljoene wat myself happy gelieg het. Maar ek het dit nie besef nie. Ek het vas geglo my partner moet my gelukkig maak. Ek sou dit nooit erken nie, maar ek weet, dit is wat ek wou hê. Sy kon nie in my verwagtinge voldoen nie, niemand kon nie. In die proses het ek meer en meer ongelukkig geraak, en meer en meer verwag, en meer en meer geprojekteer. Sy het my meer en meer verwyt, meer en meer in haar dop gekruip, eers kwaad gereageer op my kritiese beskuldigings, later haar alie aan my afgevee. Dit het ‘n ongenadige kringloop geword. Hoe meer ek buite beheer gevoel het, hoe skerper het my bek geraak. Niks wat sy gedoen het was meer goed genoeg nie.

Ek weet vandag, dat alhoewel dit nie overte misbruik is nie, maak konstante kritiek ‘saggies seer’. Wanneer die saggies seermaak oor maande en jare subtiel gebeur, veroorsaak dit op ‘n dag ‘n emosionele seismiese reaksie, ‘n kraak in die eens koesterende kors van ‘n verhouding, met onomkeerbare en pynlike gevolge. Vandag is ek bewus van die abuser in my. Ek, en net ek, is verantwoordelik vir my eie geluk. Wanneer ek verwytend en krities raak, is dit ‘n indikasie dat ek nie ok is nie. Dan het ek geen reg om dit op ander, veral my geliefde, te projekteer nie, nie eers in die vorm van gerasionaliseerde subtiele seermaak woorde nie.

Ek sê dit alles met ‘n raspertong, want 16 Dae van Aktivisme teen die Geweld teenoor Vroue en Kinders is om die draai. Geen geweld teenoor enige mens, veral vroumense en kinders (ook tussen vroumense), maak sin nie.

Ja, die realiteit en statistieke is oorweldigend en soms verlammend. So wat kan elkeen van ons daaraan doen? Kom ons druk ons skaamte terug in die kas. Kom ons erken die seermaak en seergemaakte self. Kom ons genees. Kom ons help mekaar genees. Kom ons práát hieroor. Ten minste.

Miskien dan is daar ‘n kans op vrede en sin in die lewe.

*Skuilname

Bogenoemde is gepubliseer in die Jan/Feb 2012 uitgawe ALICE, die Gay Girl’s Glossy, in my kolom, Kies Jou Tong. Gaan loer gerus aanlyn by http://www.alicemagazine.co.za/Alice/Free_Online_Editions.html of kry haar in jou hand by Exclusive Books.

Previous Older Entries