Pandora se Doos

Pandora se Doos

Pandora se Doos - Delene se 1ste 1-vrou-show!

Kom gesels en kuier saam (in Afrikaans), oor seksualiteit, mites, menswees
en al die verskillende S-woorde van toepassing – dis Delene se 1ste 1
Vrou Show!

Donderdag, 10 November 2011, 19h00, Centurion Teater, R120,00 per persoon.
SLEGS VOLWASSENES!

Bespreek by die teater: 012 664 7859

Hoop om julle almal daar te sien en dankie vir al die ondersteuning sover.

Vir meer inligting, kontak my gerus by 083 253 5122 of delene@2ndsight.co.za

“R10, 80”

Dit was ‘n maand en ‘n bietjie terug. Voor my gym buddy Willie sy voet half gebreek het en ek snot, slym en pyn van ‘n oorafskyding van histamien, vir baie langer as nodig, genereer het. So uit ons roetine gaan gym ons na middagete. Ons besluit om na die tyd by ‘n winteruitverkoping ‘n bargain te gaan soek.

Ek krap ‘n duifgrys driekwart broek uit ‘n honderd-hande-deurgesoekte rak en gaan pas dit aan. Eerste ene werk nie, kry ‘n nommer groter. Dit pas vir my, vollengte, presies die regte lengte, geen nodigheid om 20cm aftesny nie. Die broek was R230,00, afgemerk na R12,00. Ja, jy lees reg – TWAALF RAND! Natuurlik weet ek dis ‘n vingerfoutjie, nee, ‘n groot fout.

Willie por my aan om my luck te try, en gaan staan saam met my in die tou vir betaling. Ek het nog ammunisie. Net ‘n maand van tevore het die Consumer Protection Act in werking getree. Ek weet net genoeg daarvan om gevaarlik te wees.

By die till kyk ek regs – Willie is weg.

Die dame kyk na die broek se prys. R12,00 sê ek trots, so asof ek iets gewen het. Verbeel ek my of word sy dieselfde duifgrys kleur as die broek? Dis verkeerd gemerk sê sy. Dit moet R120,00 wees. Ja, sê ek, ek het so gedink, maar dis nou jammer, want volgens die nuwe Consumer Protection Act, kry ek, die consumer, die produk teen die geadverteerde prys, van R12,00. Ek is so opgewonde toe sy ongewillig toestem, en giggel, so half van opgewondenheid en so half omdat die vernedering toe nie so erg was nie. Skielik is Willie langs my, omdat ek gelag het – sê hy. ‘n Teken van ‘n witvlag… Met ‘n skelm glimlag sê hy, jy gaan nog 10% afkry met jou kaart. Dit was dan ook so. Vir elke aankoop op die winteruitverkoping, bied die winkel ‘n verdere 10% af aan dié kliënte met ‘n kaart. Ek het ‘n kaart.

R10,80. Dis wat ek toe op die ou end betaal.

Terwyl sy my bargainbroek in ‘n sak bêre, vertel sy dat sy weet dat daar ‘n paar broeke verkeerdelik gemerk is vir R12,00. Dan het ek ‘n groot present gekry , sê ek, en stap weg met vierkant skouers en ‘n krismisgevoel (omdat jy nie jou werk gedoen het nie, dink ek…)

Saam met my bargainbroek, koop ek ‘n hemp wat nog nie vir my pas nie. Ek doen dit nooit, om klere te koop wat te klein is en te glo ek gaan nog gewig afskud en een van die dae daarin pas nie. Maar, weereens , met Willie se aanmoediging, koop ek dit. Met ‘n kamisool, bietjie oopgeknoop, sal dit werk vir eers, sê hy, totdat die gym sy werk doen.

En so, laas week, knoop ek die hemp toe, sonder die nodigheid vir ‘n kamisool. Ja, Delene het ligter geword. My klere sit losser. Ek weier steeds om op die onder-die-bed-weggesteekte-vol-stof-verraaier te klim. My klere sit mos losser. Hoekom die behoefte om ‘n hoeveelheid gewig afname in gramme of verkieslik kilogramme te wil sien? Ek wil bewustelik wegbreek daarvan. Ek wil dit eerder voel as sien, al weet ek die ego-instink oorlog is ‘n konstante.

Maar R10,80 – dié nommers sien ek graag.

My lewe is nie net ‘n bargain nie, dis ‘n wonderwerk!