“Saggies Seermaak”

Bongani* bly langs die begraafplaas, in ‘n grashut, buite ‘n ‘village’ (stat) in Malawi. Hy is die enigste in sy bedryf in die area, al sedert 1953. Volgens die hoofman, is hy ook die beste. Sy twee vroue ondersteun hom reeds jare – dit help wanneer hy moeg raak. Maar hy is trots en gaan slaap nooit honger nie. Sy dienste is in aanvraag.

Hy is besig om die hut voor te berei vir sy volgende kliënt, Sophia*. Sy het haar man twee weke gelede verloor na ‘n lang siekbed. Sophia is 26 en haar jong lyf maak moeg en geboë haar opwagting, so voor sononder, met ‘n hoender onder die arm. Die stof op haar blink bruin sagte wange het harde grys modderstrepe geword. Sy sê nie ‘n woord nie, skree deur haar kykers.

So vanaf sononder tot sonsopkoms, het Bongani verkskeie kere afwisselend seks met Sophia en sy twee vrouens. Sonder gevoel, insig of kondoom. Dit is wat die reëls sê. Bongani is die ‘village cleanser’. Teen betaling – ‘n dônnerse hoender – ‘verlos’ hy, al vir meer as 60 jaar, weduwees van die moontlikheid van kranksinnigheid en ‘n vloek op haar, haar man se familie en die hele verstokte gemeenskap. Dit laat ook dan die siel van die dooie toe om te gaan rus aan die anderkant.

Dit is die senario wat in my gedagtes afspeel terwyl ek sit en luister na die terugvoer van verskeie Afrika lande by ‘n streekskonferensie. Hulle het programme implementeer om gender-gebasseerde geweld in onder andere Malawi, Zambië, Zimbabwe, Mosambiek en Suid Afrika, te bekamp. Dit is ‘n warm dag, glo die warmste in 50 jaar. Gelukkig word die bywoners se lywe en gemoedere afgekoel deur goeie lugverkoeling. In die res van die vyf ster hotel is dit maar net so ‘n louoond soos daar buite. Die hitte het so saam met my in Zimbabwe geland. Ek sou graag wou glo dis my warm persoonlikheid, maar helaas toe nou nie.

My gemoed kook.

Die gesprekke draai om die uitdagings wat veral vrouens ervaar binne die konteks van gender-gebaseerde geweld, gefokus op kulturele praktyke wat dié vrouens in gevaar stel vir MIV oordrag. Hier, in Harare, besef ek weereens, hoe bevoorreg ek is om ‘n wit Afrikaner vrou te wees. Alhoewel die wit Afrikaner ook bekend is vir jare se kwetsende vorms van geweld teen vroue, is die praktyk tans onder bespreking, ‘widow cleansing’, nie iets wat bekend is aan my nie.

‘Widow cleansing’ – daar is nie eers ‘n toepaslike Afrikaanse woord daarvoor nie, (miskien ‘weduwee reiniging’?), is ‘n kulturele praktyk wat oor eeue heen in verskeie Afrika lande gepraktiseer, aanvaar en afgedwing word. Die vrou van die oorlede man moet seksueel ‘gereinig’ word deur (gedwonge) seks te hê met een van haar man se manlike familielede, of die village cleanser soos Bongani.

Waag die Sophies om teen hierdie gruwelike (mis)daad te skop, word hulle verwerp deur die gemeenskap en veral die man se manlike familielede, die met die mag. Daar is ook ander Sophies wat glo dat ‘widow cleansing’ nodig is, want hulle het al weduwees sien mal raak wat dit gewyer het.

Nodeloos om te sê, die weduwee het ‘n keuse van hoe en met wie hy ‘gereining’ wil word.

Hierdie lewensgevaarlike kulturele praktyk maak glad nie sin nie. Geen sogenaamde beskerming van kultuur of (vals) geloof kan dié nihilistiese praktyk en totale verontregting van vroue se regte regverdig nie!

So ‘n paar jaar terug ondersteun ek vir Hantie*. Sy is nog nie heeltemal uit die kas nie. Ook eensaam. Werk maar vir ‘n paar maande in ‘n biblioteek in Pretoria en verlang baie na Klerksdorp en haar mense. Haar ma, bewus van haar kind se amper kluistenaars bestaan, stuur vir Gert*, verlangs familie, om haar uit haar dop te trek. Hy bly darem ook êrens in Pretoria.

Een van die beklemmende kuier aande, erken sy, in die hoop dat hy sal ophou met sy gesoenery, dat sy eintlik meer vir vrouens voel, Toe gebeur die onverwagte. Hy verander in ‘n monster. Terwyl hy haar herhaaldelik verkrag, fluister hy in haar oor dat sy en mense soos sy, walglik is en dat God haar haat. Omdat hy ‘n geloofsman is, sal hy dit op homself neem om haar te ‘reinig’.

So het ek ‘n hele paar Hanties deur die jare ondersteun. Meeste was van townships. Ook ‘n hele paar wit girls, getraumatiseer deur verkragting, om hulle te ‘korrigeer’, of te ‘red’, of te laat voel hoe dit nou eintlik moet voel, of om hulle te straf. Sover ek weet het slegs een van die gevalle die binnekant van ‘n hof gesien. Die slagoffers is geknak gelaat, die oortreders steeds oortuig van hul ‘goeie’ daad.

Soos die woord en daad widow cleansing, maak die woord en daad ‘korrektiewe verkragting’ geen sin nie. Verkragting op grond van seksuele oriëntasie is nog ‘n gruwelike en nihilistiese vorm van gender-gebaseerde geweld en moet as sulks erken en voorkom word!

Jare terug kuier ek by ‘n verjaarsdagpartytjie. Ek ken nie die gasvroue of gaste nie. ‘n Paar vreemde vriendinne het my saamgesleep. Ek het toe nog nie geweet van ‘nee’ sê nie, en was vars uit die kas en ‘n bietjie desperaat. En daar sien ek iets wat ek toe nie verstaan het nie, maar vandag van beter weet. Ek het altyd gedink selfde geslag paartjies se liefde vir mekaar word nie met misbruik versuur nie.

Ek het nie veel te sê gehad nie, het maar net vanaf die stoepmuurtjie vir die mense gekyk en geluister. Ek doen dit al van 3 jarige ouderdom af, kyk vir mense en luister. Ek onthou hoe ek as ‘n kleuter vir die mense om my gekyk en gedink het – julle hoort nie in my wêreld nie! Snaaks genoeg, ek het nooit gedink ék hoort nie in júlle wêreld nie!

Vera*, die butch is besig met die vuur, vleisbraai en vertel van vervelige grappies. Sy lag lelik en hard en vergruis haar leë koeldrank blikkie met een druk. Vera gebruik geen alkohol nie, maar is so luidrugtig soos ‘n dronk hoender. Die ander butches kloek om haar. Sy is ‘n bekende Pretoria Dyke en ‘n ‘rolmodel’ vir baie.

Selma* is die femme. Sy is stil, soet, skugter en maak slaai. Vera skree “Sella, bring nog bier vir my tjommas en roer jou gat!” Die butches lag lekker saam, die femmes rol hul oë. Iets is nie lekker hier nie… Verbeel ek my of was Vera ernstig? En verbeel ek my verder of ignoreer Selma die opdrag? Ek voel iets aan wat my ongemak-radar aktiveer, maar niemand anders lyk gepla nie. Skielik staan Vera op die kombuis se drumpel. Die femmes verdwyn. Terwyl sy Selma se oor liefdevol soen, sis sy saggies “As ek praat, luister jy… bitch!” Selma steier terug en stoot angstig haar hemp se langmoue effe op. Voor Vera dit vinnig afpluk, sien ek die bloupersgroen kolle op die dun wit polse. Hulle het van my vergeet waar ek buite die kombuis op die tuinmuurtjie sit.

Oppad huistoe dink ek terug aan die dag. Die ander in die kar is dronkerig gelukkig. Ek is stil en peinsend. Vera en Selma is al 12 jaar gelukkig bymekaar, die perfekte paartjie. Daar het ek vir die eerste keer besef, meeste mense lieg hulself happy.

Ek was eens in ‘n verhouding waar ek eers in retrospek, na maande se introspeksie, my aandeel in die verbrokkeling daarvan besef het. Dit is dan ook in daardie maande wat ek besef het dat ek nie so nice is soos ek gedink het ek is nie. Ek wou graag al die skuld vir my emosionele tsunami op my eks pak. Sy het dan die nee-woord gegee, so sonder waarskuwing haarself met ‘n verwoestende golf uit ons verhouding uit genavigeer. Ek glo dat ek in daai tyd van stukkend wees, deur genade, myself kon sien soos ek nou verseker weet ek wil nooit weer wees nie.

Ek was nie gelukkig nie. Ek was ook toe een van die miljoene wat myself happy gelieg het. Maar ek het dit nie besef nie. Ek het vas geglo my partner moet my gelukkig maak. Ek sou dit nooit erken nie, maar ek weet, dit is wat ek wou hê. Sy kon nie in my verwagtinge voldoen nie, niemand kon nie. In die proses het ek meer en meer ongelukkig geraak, en meer en meer verwag, en meer en meer geprojekteer. Sy het my meer en meer verwyt, meer en meer in haar dop gekruip, eers kwaad gereageer op my kritiese beskuldigings, later haar alie aan my afgevee. Dit het ‘n ongenadige kringloop geword. Hoe meer ek buite beheer gevoel het, hoe skerper het my bek geraak. Niks wat sy gedoen het was meer goed genoeg nie.

Ek weet vandag, dat alhoewel dit nie overte misbruik is nie, maak konstante kritiek ‘saggies seer’. Wanneer die saggies seermaak oor maande en jare subtiel gebeur, veroorsaak dit op ‘n dag ‘n emosionele seismiese reaksie, ‘n kraak in die eens koesterende kors van ‘n verhouding, met onomkeerbare en pynlike gevolge. Vandag is ek bewus van die abuser in my. Ek, en net ek, is verantwoordelik vir my eie geluk. Wanneer ek verwytend en krities raak, is dit ‘n indikasie dat ek nie ok is nie. Dan het ek geen reg om dit op ander, veral my geliefde, te projekteer nie, nie eers in die vorm van gerasionaliseerde subtiele seermaak woorde nie.

Ek sê dit alles met ‘n raspertong, want 16 Dae van Aktivisme teen die Geweld teenoor Vroue en Kinders is om die draai. Geen geweld teenoor enige mens, veral vroumense en kinders (ook tussen vroumense), maak sin nie.

Ja, die realiteit en statistieke is oorweldigend en soms verlammend. So wat kan elkeen van ons daaraan doen? Kom ons druk ons skaamte terug in die kas. Kom ons erken die seermaak en seergemaakte self. Kom ons genees. Kom ons help mekaar genees. Kom ons práát hieroor. Ten minste.

Miskien dan is daar ‘n kans op vrede en sin in die lewe.

*Skuilname

Bogenoemde is gepubliseer in die Jan/Feb 2012 uitgawe ALICE, die Gay Girl’s Glossy, in my kolom, Kies Jou Tong. Gaan loer gerus aanlyn by http://www.alicemagazine.co.za/Alice/Free_Online_Editions.html of kry haar in jou hand by Exclusive Books.

‘n Brief vir jou daar in die Anderkant

Liefste Lizelief

Vandag is jy 41. Ek verlang nie, maar jy het kom hallo sê.

Ek skryf gou vir jou ‘n briefie, voor ek vergeet. Ek sien jou so min deesdae. Ek wil dankie sê. By jou het ek begin word wie ek is vandag. Maar eers het ek ‘n begeerte om die tyd terug te draai…

Ek onthou so goed hoe jy een aand, vroeg in die Januarie van 1995, met my kom flirt het, “Daar’s ‘n fliek vir jou op TV, dis nie eintlik my tipe nie…” Daardie aand verloor ek my verstand, my hart en my etiese grense.

Ek het uit die kas geval, half manies, half geskok, heeltemal opgefok, tot binne in Kamer-een-bed-een. Die ekstase groter as die vernedering. So het ek gedwonge geleer hoe dit voel om aan die ander kant van die bed te staan. Na 4mg Ativan en agtenveertig uur se slaap was ek reg vir die liefde. Min het ek geweet wat vir my vir die volgende vyf jaar voorgelê het. Ook maar goed so.

Tye saam met jou was so op-en-af soos jy, so swart-of-wit. Geen grys area nie. Ongelukkig onthou ek vandag meestal die af-swart dae. Ek onthou wel dat jy my eerste anders-liefde was. Dít was my high.

En ek onthou jou lag…

By jou het ek geleer hoe seer liefhê kan wees. Jy het gereeld jou kop, hart en grense verloor. Dan het die skuld en skaamte jou malhuis toe gestuur, met my seer in die skadu van jou grenslyn-histerie. Ek het myself probeer wysmaak dat dit liefde is. Jy was dan die één – vir altyd.

Maar die liefde maak nie seer nie. En jou seer was te veel vir dié lewe. Ek kon jou nie red nie, al het ek sewe keer probeer.

So vir oulaas, dankie, veral omdat jy my gespaar het.

Happy Birthday daar aan die Anderkant.

Met baie Lig en Liefde
D.

“Boelie Biefs”

Ek glo nie in ‘n Nuwejaar’s voorneme nie. Dit bevorder skuld, skaamte en psigose. Maar as daar nou een ding is waaraan ek my energie gaan belê in 2012, is dit om boelies van hul ontgogelde mag te ontneem. Of ten minste te probeer. Ek sal saggies maar seker my sê sê.

Per definisie is ‘n boelie ‘n persoon wat sy / haar mag of krag misbruik om ‘n swakker andere te probeer intimideer of seermaak. Ook is dit ‘n persoon wat ‘n gewoonte daarvan maak om wreed en dominerend te wees.

Ons ry Kaap toe net voor Krismis. As ek meer van my eie testosteroon gehad het, en ‘n AK47 op die volgepakte agterste sitplek, sou ek verseker van sekere lorrie drywers ontslae geraak het. Ek dink ook dis maklik om van ‘n boelie bief in die Karoo ontslae te raak. Dit is mos meer skaapwêreld?

Ek is tot nou toe oortuig, dat die agtien-wiel-slaggat-makende-weier-om-net-‘n-bietjie-uit-die-pad-te-beweeg-oorlaaide-80km-per-huur-entitled boelies die grootste oorsaak is van die té veel kop-aan-kop botsings op die N1.

Êrens na Beaufort Wes ry ek rustig teen 129km per uur op speed control. Mens kan myle vêr sien. Meeste van die tyd. Nee, nie vir die afgelope halfuur nie. Twee trokke ry agter mekaar, direk gevolg deur drie Uno’s, twee Mazda Midges en ‘n volgepakte Ford bakkie met ‘n karavaan, maak die veilige verbysteek soveel groter ‘n frustrasie en uitdaging. Ook stuur dit my moermeter eksponensieël die hoogtes in. Toe ek uiteindelik, ‘n minuut na een van die Mazdatjies se suksesvolle poging, ‘n selfmoordagtige verbyjaagkans waag, teen 170km per uur, en die angs van my geliefde langs my die suurstof in die kar opsuig, gebeur dit.

Amper verby, steeds in die pad van die aankomende verkeer, kyk ek links op deur die voorruit en vang die drywer se oog. Ek gil woorde wat menigte Kalvyn afstammelinge onmiddelik ‘n gebedsketting sal laat inisieër. Ek gebruik ook die toepaslike vingertaal om my boodskap nog duideliker te maak. Ek moet erken dat ek vir ‘n oomblik my oog van die pad voor my en die bruinbrons Mazdatjie afgehaal het. Dit is ook op daai oomblik dat die koolstofdioksied in die kajuit ‘n toksiese vlak bereik het. Ek kon aanvoel dat, as dit nie vir die gevoel van ‘n naderende dood was nie, my partner my net daar vir ‘n egskeiding sal dagvaar.

Want, wat ek nie besef het nie, maar die bol vrees langs my wel, is dat terug in die linkerbaan, die naderende Mazdatjie se drywer se suurstof ook op was, veral na ‘n ongekende 170km per uur haarself! Afgelei uit die feit dat ons visie (skielik) gevul is met ‘n blok bruinbrons yster reg van voor, moes sy haar voet heeltemal van die versneller afgehaal het. Teen daai tyd was die bol langs my se gelaat effe pers en haar oë soos groot en grys soos die Karoo om ons se vlaktes.

Met genade, Duitse motorvervaardigde presisie en my uitmundtende bestuursvernuf, swaai ek, teen 180km per uur, regsom die Mazda en besorg ons veilig terug – so vêr vorentoe dat die afgelope 30 sekondes se nagmerrie net ‘n veraf gedagte word. Die suurstof is terug. Om ‘n drygende egskeiding te vermy, handig ek in Laingsburg gelate die stuur oor aan die kar se eienaar. Ek het vir die volgende twee vakansie weke nie bestuur nie.

Voor jy jouself met depressie of ‘n swak selfbeeld diagnoseer, moet jy eers seker moet maak of jy nie net deur poepolle omring is nie sê ene William Gibson. Ek word omkring deur boelies. So om te verhoed dat ek kronies kla (die woord ‘moan’ het in dié geval meer oemf), het ek besluit om iets daadwerklik te doen aan elke bullebak boelie wat ek teëkom.

Vroeër die week het ek ‘n klagte ingedien oor ‘n radio advertensie van ‘n versekeringsmaatskappy genaamd frank.net (wie de donner is frank?), wat onsensitief was teenoor Interseks persone. Beide die Broadcasting Complaints Commission en die Advertising Standards Authority het bo verwagting vinnig op my klagte gereageer. Ek is beïndruk. Ek het ook vir frank laat weet ek het klagtes ingedien. Soos verwag, het hy (wie de donner is frank?) glad nie na my teruggekom nie.

Na my gym sessie gisteroggend, merk ek ‘n plakaat op die ingangsmuur van die damesbadkamer. Dit is deel van ‘n interessante veldtog oor hoe elke mens hulle eie ‘stuff’ het, oor wat ons terughou en wat ons dink ons moet verander. Die leser word dan so aangemoedig om hul ‘stuff’ te deel. Daar is plakate oral teen die gym se mure, met mense (glo Virgin Active werknemers) met ‘n wit T-hemp en woorde wat in rooi skree OCD, of procrastination, of chubby cheecks, of sweet tooth.

Nou wat dink jy sal die mees gepaste plakaat wees vir die damesbadkamer? Ek is seker meeste sal saamstem dat dit dié is van ‘n vrou wat glimlaggend wys dat sy ook ‘n soet tand het, obsessief-kompulsief is of mollige wange het (die ander vertaling vir chubby is poeselig, ek dink nie ‘poeseligte wange’ gaan werk nie…) Maar nee, wat is die plakaat wat jy eerste sien in die vrouebadkamer? ‘n Maer donker borselkop man met ‘n vyfdagbaard wat skaam lyk omdat daar ‘can’t swim’ op sy T-hemp staan. Hoe op aarde identifiseer ‘n vrou daarmee? Ek het die banaliteit daarvan by ontvangs aangemeld.

So, met my inklok vir gym vanoggend groet ‘n vriendelike dame my. Sy is ‘n kop korter as ek. Dit gebeur selde. Ek kyk af in haar lewendige vriendelike oë toe sy vra of sy my met iets kan help. In my gym gebeur dít nog meer selde. Sy moet ‘n nuwe besem wees. Ja, sê ek selfhandhawend, het julle al die ontoepaslike plakaat in die damesbadkamer verwyder? Sy lyk effe verward, het seker eerder verwag ek gaan die kilojoule inhoud van ‘n medium grootte piesang vra. Sy volg my, badkamer toe. Ek is bewus van haar oë op my speenvarkie heupe, nie omdat dit so enorm is nie, eerder omdat sy so kort is. En wragtag, daar loer die Jood met die donker baard weer skaam vir my! Sien! sê ek entoesiasties, daai gesiggie werk nie vir my nie. Sy sal werk maak daarvan, verseker sy my. Ek sal maar môre sien.

Ook het ek gister ‘n klagte gelê by Checkers nadat een van hul drywers, met ‘n gemerkte trok, registrasie nommer BB26HS GP om 8h40 die oggend blatant oor ‘n pas rooi verkeerslig gejaag het, met hoë spoed en ‘n benoude regs draai in die Ou Jhb pad in. Hulle sal glo binne 48 uur aandag gee aan my pyn. Indien nie, sal ek vir Nataniël in kennis stel, dis nou maar wors!

Ek wil nie meer gatvol wees nie. Ek wil nie meer moan nie. Moan is aansteeklik. Voor jy sê pes, is almal in die gesprek oortrek daarmee. Daar is ook beperkte entstof daarteen.

Ek weet ek trek aan wat ek is. Boelies? So word ek ook bewus van hoe ek myself boelie. En as ek nie ok is nie, dan is jy definitief ook nie ok nie, OK?!
My lyf rebeleer en ek kry infeksies.
Ek voel styf en word rigied.
Ek is op my hoede.
Ek soek kak.
Ek sukkel met sukkel.
Ek is ongeduldig en word binne 0.5 sekondes moerig.
Ek voel entitled (geen goeie afrikaanse beskrywing beskikbaar).
Ek soek konstante gerusstelling, en ek boelie tot ek dit kry. Dan boelie ek myself omdat ek weet ek boelie dié vir wie ek lief is. En so herhaal die kring van self intimidasie en sabotasie.

Wel, dit stop nou! Of so spoedig moontlik, wanneer ek verstaan wat ek moet leer. Miskien sal ek dan ook ophou moan oor die boelies, of hulle sal net subtiel verdwyn?

Ek dink ek weet waar en wanneer my knoppies gedruk is. Ek sal graag wil sê dis die agtien-wiel-slaggat-makende-weier-om-net-‘n-bietjie-uit-die-pad-te-beweeg-oorlaaide-80km-per-huur-entitled boelies wat deur die Karoo kruip.

Maar helaas toe nou nie.