Koester

Ek is darem nog hier… 

Net soos ek dink ek gaan nou meer aandag gee aan my skryfwerk, dan gebeur die lewe. Ek was so bietjie in ‘n twee maande lange “deep freeze”. Ek werk hard daaraan om nie skuldig daaroor te voel nie. Daarom vra ek ook nie om verskoning omdat ek nie geskryf en geblog het nie. 

Vandag, twee weke terug, was die laaste dag van ‘n besige skryfweek saam met Riana, nege ander woordewoekers en De Compagnie brandewyn. Ek verlang na hulle vandag. So nou reminis ek oor ons kosbare tyd saam. En die stories.

Een van die (honderd) opdragte, was om 5 woorde te kies voor die skryfweek. Elke oggend het ons ‘n minuut gekry om ‘n sin te maak met die gekose woord.  Hier volg my vyf sinne. Kyk of jy kan uitmaak wat was my woord? 

7 Mei – Ek voel jou

8 Mei – Amper verlang ek na jou.

9 Mei – Vandag koester ek ons ongewone oomblik saam.

10 Mei – Ami is mooi, androgeen mooi.

11 Mei – En les-bes, mors mens nie met woorde nie.

Na die diep week het ek besef, ek is die skrywer van die kort kortverhaal. Kort sinne. Met impak. Elke woord het betekenis. En ook die storie in die storie. Dit is wie ek is. Dit is wat ek doen. In meer as net my skryfwerk. So alhoewel ek nie die Hertzog prys vir die week (well done Lizle!) gewen het nie, het ek darem so teen die Donderdag die Eugene Marais, ‘n hele mandjie vol koejawels (dankie Laetitia!) gewen, vir die volgende storie:

KOESTER deur Delene van Dyke – 10 Mei 2012

Ek droog my hande af.

En ruik jou.

Van wanneer af ruik Stasoft nie meer blou nie, eerder na jou?

Sewentien jaar.

Toe, toe ek nie geweet het wat ek vir jou voel nie. Toe, toe ek geweet het ek móét voel.

Ure op die tiekieboks.

Filosofeer tot net voor môre.

Pen en papier briewe, langes.

Nagte vol giggel, drome en begeerte.

Kussinggevegte op my vierdehandse dubbelbed.

Ek voel jou.

Ons skaam liefde so sonder ‘n naam.

Toe gaan trou jy.

 

Nou herinner die vars blou reuk van ‘n pasgewaste handdoek my aan jou.

 

Gedwonge.

 

Ek koester ons.