Lekker Plekkie

Ek skryf al sedert die 1ste Desember aan die posting. Dis nou meer as twee weke terug! Wel, ek is amptelik met verlof, of seker maar hoe ‘n konsultant hul eie verlof kan toe eien…. Nou kan ek bietjie skryf.
Dis was ‘n groot en warm jaar vir my (selfs deur die winter), en ‘n bietjie oorweldigend, net soos die moerse bottel Tabasco sous wat die kelner nou net voor my kom neersit het. Laat ek maar net verslag gee van die laaste dol 6 weke…

Ek het meer as ‘n maand terug van die VSA af teruggekom, was glad nie uitgerus nie, maar het gelukkig nie besef hoe hectic die volgende maand sou wees nie.

Drie dae later, nog besig om van my jetlag te herstel (ek hoor nou die dag dit neem ‘n dag om te herstel vir elke uur wat mens terug vlieg in tyd, ek het dus 6 dae nodig gehad…) toe land ek binne in ‘n hittegolf in die middel van Harare. Dit was glo die ergste hittegolf in 50 jaar. 3 dae vroeër het ons New York verlaat tydens ‘n ysige reënbui. Die Harare hotel (5 ster, in 1983), se lugversorging werk nie. Ek was nie in ‘n goeie space nie. Nog meer ironies was die gat in die grond wat ek (net een keer) besoek het in Seke Village (so ‘n uur se ry uit Harare) om van die twee-liter-gedihidreerd-tot-twintig-mililiter piepie ontslae te raak. 3 dae van te vore het die toilet in New York automaties agter my geflush. Nog meer ironies, is die prys van die 1983 vyf ster hotel versus die Gershwin Hotel in New York. My kamer, vir een persoon, was amper dubbel die prys van dié vir twee mense in NY se Gershwin!

Ek moes ‘n praatjie lewer “Looking at everything through the eye of the P…. Can service providers change?” Ek het nie die topic gekies nie… Dis nou juis die ding, hoe op aarde praat ons oor seksualiteit in Zimbabwe as mens nie eers PENIS mag sê nie?! Steeds, nadat die konferensie gangers ingelig is dat dit oor gay en lesbian issues gaan, het 35 mense opgedaag by die sessie. En ek het nie op die brandstapel geëindig nie, inteendeel! Die respons was baie positief.

‘n Maand tevore het ek gaan opleiding doen in Zimbabwe. (Ek het destyds drie bladsye lank daaroor geblog, maar vir een of ander ?bose rede, dit nie gesave nie, en verloor, sorry, het nie kans gesien om dit weer te skryf nie) Tydens die intense 2 dae, was daar ‘n hoofman, ek noem hom Chief Handsome, wat met my leiding en baie genade, ‘n totale ‘mindchange’ gehad het oor homoseksualiteit. Hy was selfs bereid om terug in sy village daaroor te gaan praat. ‘n Maand later, by die nie-meer-so-vyf-ster-eerder-een-ster hotel loop ons mekaar raak, die aand voor die verrigtinge begin het. As dit nie was vir die gedragskode van ‘n Zimbabwese Chief nie, sou ons sowaar mekaar ‘n soen en ‘n stywe druk gegee het. Hy was só bly om my te sien, en ek vir hom. Wat ek doen en wie ek is, maak ‘n verskil!

Tydens training verduidelik ek die anatomie van die anus en die ligging van die prostaat van die man, maak nie saak wat sy seksuele oriëntasie is nie. Ek verduidelik gewoontlik verder, dat wanneer die prostaat gekielie of gestimuleer word, hetsy met ‘n vinger, penis, dildo, wortel of komkommer, dit ‘n “lekker plekkie” is. Nou maak nie saak waar ek in Afrika werk nie, dis asof die gehoor presies verstaan wat ek bedoel. Daar is altyd, sonder uitsondring, ‘n groot gegiggel, en dit neem gewoonlik ‘n tydjie vir almal om te bedaar. Meer en meer besef ek hoeveel impak daardie woorde het.

Tydens die hittige besoek aan Seke Villiage, het ek ‘n energie spike ervaar, stadig uit die bus geseil en by die oorvol bedompige tent, opgewonde mense, en vreemde gesprekke (Shona as spreektaal) gaan aansluit. ‘n Dame wat ook die training ‘n maand vantevore bygewoon het, herken my en haar gesig verander in ‘n pas aangesteekte kerfeesboom. “Lekka Plekka!” glimlag sy trots, en haar lyf skud van lekkerkry, so asof ons ‘n geheim deel.

So het Pandora toe ook uiteindelik haar opwagting gemaak die aand van 10 November, net so ‘n paar minute voor volmaan. Na maande se gewag, het ek op die Centurion Teater se verhoog gestaan en vir amper 2 ure, voor omtrent 50 mense, my passie vir die verstaan van menslike seksualiteit gedeel. “Lekker Plekkie” het weer aandag getrek. Dat Pandora gebeur het, glo ek, is ‘n wonderwerk. Ek is dankbaar en gemotiveerd. Ek en Pandora is nog lank nie klaar gepraat nie. Die volgende (engelse) Pandora sal op 29 Februarie 2012 deur die Centurion Teater verhoog se swaar donker gordyn klim.

Skaars twee weke na Pandora, doen ek en liewe Jay ‘n 2 dae training in Pietermaritzburg. Opvallend lyk die dorp (of is dit ‘n stad?) soos ‘n dorpie êrens in Afrika, naby aan die bedompige ewenaar, met moskees, moerse potholes en mosserige mure.
Die eerte dag is tipies, baie warm, baie bedompig met reën later die middag. Die waaiers het so geraas in die klaskamer dat ek soms gewonder het of die deelnemers die boodskap regtig gekry het. Dit was in ‘n skool ja, want die bywoners was onderwysers. Die training is bewerkstellig deur ‘n bekende Onderwysers Unie (definitief NIE deur Departement Onderwys nie!).
Die tweede dag was koud, soos die respons van een van die middeljarige mans. Hy is ‘n onderwyser in ‘n diep plattelandse area in KZN. Eerlik antwoord hy dat hy nie wou terugkom nie, dat dit waaroor ons die vorige dag gepraat het, hom nie net uit die slaap gehou het nie, maar oortuig het om NIE terug te kom nie. Maar hy is hier vandag, bedonnerd, maar hier…

Oppad lughawe toe erken die 40-jarige organiseerder, dat sy baie geleer het, van haarself en ander en sê koebaai met ‘n sug en “nou moet ek nog net vir my ma sê”.

Twee dae later vlieg ek Kaap toe. Die opdrag: om vir 400 soldate binne ‘n uur te vertel van seksualiteit en veilige seks. ‘n Amper onmoontlike taak… Dít ter viering van Wêreld VIGS Dag, net om die draai. Die gay en lesbian organisasie OUT, gee vir my 400 ‘Play Safe’ pakkies, informasie, kondome, lubrikeermiddel ens, natuurlik gerig op gays en lesbians, om vir die soldate te gee. Daarvoor betaal ek nog ‘n ekstra R200,00 oorgewig by die lughawe. Die Pro Bono trip kos my al by die R2000,00, maar soos ek vir my ma gesê het, as dit net een van die 400 verhoed om MIV of enige ander seksueel oordraagbare siekte te kry, dan is dit die geld, tyd en energie werd.
Deurgaans, met my voordrag, was daar honderde ooohs, aaahs, urghs en ‘n gegiggel.
Deurgaans het ek vir God gevra vir leiding, dit was die grootste groep met wie ek nog direk oor seksualiteit en al die stereotipes, stigma and versmorende mites gepraat het.
Deurgaans het ek die boodskap gekry – focus op die “lekker plekkie”. Dít het die meeste ooohs, aaahs, urghs en giggels uitgelok.
Daar was nie tyd vir vrae nie, al glo ek daar was baie. ‘n Man in die agterste geledere wou wel, volgens hom, ‘n baie belangrike opmerking maak “Yes but we should not promote these things!” Hy was moerig. Ek eindig toe maar net rustig met “I’m not promoting anything, I’m talking about it – people are dying!”
Alle eer aan die Kolonel in beheer wat my die geleentheid gegee het. Hy is duidelik oopkop en ‘n ‘visionary’, al het hy ‘n paar keer self sy kop laat sak en net in ?ongeloof geskud. Hy het ‘n kans gewaag, het baie teenkanting en briewe van ontevredenheid ontvang na die naweek (heel moontlik toe die fundamentaliste tyd gehad het om boosagtig in die inhoud te marineer). Van die mans was glo ontsteld oor die info blaadjie binne in die “Play Safe” pakkie , oor die foto van die twee mans wat soen. “Wel, ten minste het hulle het nie genaai nie” was my respons.
Later die dag kry ek ‘n Tweet, “You rocked our world today, thank u”.
Nog ‘n wonderwerk…

Alhoewel die laaste 2 maande van my jaar vol hoogtepunte en wonderwerke was, was als nie Lindt tjoklits en ‘n sagte lugballon vaart nie. Die Vrydag voor my Pandora show, moes ek hoor my grootste kontrak is finaal gekanselleer. Ook dat slegs 20 kaartjies vir Pandora verkoop is. Terwyl ek steierend probeer regop kom, slaat die grootste brander van dié tsunami my voete onder my uit en rol my uitasem op die vol strand uit – die Groot K het sy pynlike verskyning in ons familie kom maak.

In een dag word ek herinner hoe broos ek is, die mens is, en dat daar nie plek is vir arrogansie nie.

Ek onthou hoe, toe ek op Kollege was, die stadige derde jaar die tiekieboks geantwoord het, en die verdraaide boodskap van my ma af vir my, die tweede jaar, gegee het. Dit na ‘n lang uitputtende sewe-sewe. “Tannie Christa van die kerk is dood”. Nou wie de donner is tannie Christa van die kerk? wonder ek moeg. Toe die click – tannie Christa van Niekerk! En toe die trane… Sy was een van die grootste redes hoekom ek wou verpleeg, nie omdat sy op 42 dood is nie, maar omdat ek soos sy wou wees. Ek het haar geken as ‘n verpleegkundige, maar meer, as die engeltannie met die groot mooi mond wat so lekker kon lag, so lekker geruik het en my laat voel het oor myself.

Ook is ek weer herinner aan die pyn van verlies van my blondekop-blou-oog-vriendin…

…en dat die lewe nie altyd ‘n lekker plekkie is nie.