“Liefde só Dierbaar”

Hallo Julle… Hieronder is my laaste gepubliseerde ALICE artikel, geniet dit!

Ek ken ‘n kat. Of ek dink ek ken haar. Sy sal van my verskil. Sy het my gekies. In die middel van ‘n opgebreekte verhouding. Met “in die middel” verwys ek na die eerste drie jaar van ‘n 6 jaar en 6 maande lange verhouding. Die ses maande tel nie. Dit was die tyd toe sy ‘n paar boyfriends gehad het en ek net gewag het. Dit is in dié wagtyd wat Nushu my lewe kom voller maak het. Die betekenis van haar naam het vandag meer betekenis vir my. Min het ek toé geweet dat ek vandag ‘n aktivis vir verdruktes sou wees.

Nu Shu is ‘n taal wat Chinese vroue in die Hunan provinsie in die geheim gebruik het om met mekaar te kommunikeer. Vroue was toe nie toegelaat om te leer en te kommunikeer nie. Daar word beweer dat die taal in die derde eeu A.D. ontstaan het. Nu Shu het geskrewe kontak tussen, “boesemvriendinne”, gefasiliteer. So het vriendinne trou gesweer aan mekaar, om verewig lojaal te bly. Dit het ook gehelp om hul hartseer en verlange ná hul troudag en geforseerde wegtrek, in die geheim te deel. Daar was die bekende gesegde, “Langs ‘n put sal jy nie dors word nie, en langs ‘n boesemvriendin sal jy nie wanhopig raak nie”. Nu Shu is ook gebruik om dagboek te hou oor die private gevoelens teenoor die nuwe eggenoot. Dié was salig onbewus van die vorm van taal en kommunikasie. Die taal is eers in 1960 ontdek.

10 jaar later is my halfbloed blougrys Nushu steeds spesiaal. En dit is nie net ek wat so sê nie! Madame Nushu eis spesiale behandeling. Sy kry net die beste kos. Dié soort wat mens nie kry in enige supermark nie, nee, dié wat jy ten duurste koop by spesialis winkels wat weet hoe spesiaal Nushus vir mense is. Die spesiale kos help haar ook om die ongenooide ‘fur balls’ te verteer. Ek is half jaloers. Ek wens daar was vir my spesiale kos om die menslewe se fur balls te help verteer. Nou kou ek maar Rennies.

Haar belangrikheid in ons lewe word bevestig wanneer ons so nou en dan weggaan vir ‘n paar dae. Dan word daar van die dienste van ‘n sorgvulgig gekeurde Nushu-oppasser gebruik gemaak. Na twee dae op haar eie, loop sy weg en gaan soek mense.

Verder, het Nushu haar eie designer bed. Dit staan egter leeg. Sy lê waar sy wil. Dit is orals waar die son skyn of waar dit sag en warm is, veral op die skoot van ‘n allergiese mens. Nushu is ‘n ‘healer’, altyd gereed om my of my geliefde (of kuiergaste) se fisiese pyn te troetel met haar sagte blougrys lyf. Altyd saggies, altyd naby. Ek kan nie my lewe voorstel sonder my (s)kattekind nie.

Ek ken ook ‘n hond. Maar hy sal vir jou sê, as hy kon, dat hy nie ‘n hond is nie, maar eerder ‘n wese van adelstand. Ek het hom ontmoet nog voor ek hom gesien het. So het ek, ‘n paar maande na die einde van my 6 jaar en 6 maande verhouding, vir heldersiende Peter gaan sien. Hy kon nie bevestig of daar ‘n volgende liefie, die keer buite ‘n donker kas, staan en wag nie. Ek was effe teleurgesteld. Hy het wel iets ‘gehoor’, nogal by ‘n hond uit my verlede. Daar ‘n nuwe hondjie wat op my liefde wag! Nooit! Ek het hom probeer oortuig (wie het ek nou probeer bluf?), dat ek glad nie in honde belangstel nie. Hulle is heeltemal te needy en onderdanig. Hul asems ruik bedompig. Peter het net, wetend, gelag, “Dit kan dalk ‘n rondloper brakkie wees, op wie jy jou hart gaan verloor!” Nee sê ek weer, dié vat ek eerder SPCA toe.

So stap Sy Edele Asterix, ‘n wit Maltees, my lewe ongeërg, saam met sy ma, binne. Moenie dat die naam jou verwar nie. Sy Edele kry elke aand opgekookte Woollies hoender, geen sout en vel. Hy word ook gevat vir ‘n stappie, om en by 21h30. Hy dring aan op dié stappie, bliksemstrale, Augustus winde of menslike weiering ten spyt. Gedurende werksure verwyl Sy Edele sy tyd by Ouma en Oupa Centurion. “Kom sit bietjie hier by Mamma”, sê my geliefde wanneer sy afgeskeep voel, veral nadat hy saam met Ouma en Oupa gaan vakansie hou het in die kothuis op Memel. Dan tel sy hom op soos ‘n baba en lê hy sonder protes, met sy kop skuins oor haar skouer, en nat neus in haar nek, sy stewige spierwit boude in haar skoot, gekoester. En ja, net soos die heldersiende dit voorspel het, besit ‘n wit needy brak met hondehalitose nou ‘n stukkie van my hart.

Wat is dit dan, die ding met lesbians en diere? Madame Nushu en Sy Edele Asterix is nie die enigste bedorwenes in die lewens van gay girls nie? Ek vra myself soms of dit die behoefte is om te versorg? Of die behoefte om te behoort aan? As dit dan nie iemand is nie, wel iets met ‘n asem (al is dit ‘n stink ene)? Of is dit dalk die feit dat daar vir jare verkeerdelike geglo is dat selfde-geslag verhoudings ‘n negatiewe invloed op die lewe van ‘n kind kan hê?

Ja selfs nog ‘n jaar terug het ‘n paar gay girls aan my erken dat hulle nie hul liefde in die openbaar aan mekaar kan wys nie, veral nie voor klein kinders nie. Deur hierdie kwalitatiewe studie het ek bepaal dat daar nog verskeie gay girls is wat aan geinternaliseerde homofobie ly. Dít is wanneer die skaamte, haat en minagting wat aan homoseksuele mense en verhoudings gekoppel word, deur ‘n grotendeels homofobiese heteroseksistiese samelewing, eie gemaak word. Dit is ‘n meestal ‘n onbewuste sielkundige proses, maar kan geidentifiseer word in die persoon se gedrag. Ek sien dit gereeld. Soos om na sekere gay girls te verwys as té butch. Of om te weier om hande vas te hou in die openbaar, want “die kinders is nog nie reg daarvoor nie”. Of om saam met oningeligte kollegas grappies te maak. Oor lesbians. En dit terwyl hulle nie hulle eie selfde-geslag aantrekking of verhouding wil erken nie. Of deur neutral na ‘n geliefde te verwys, sonder dat haar gender duidelik is. Dus dan eerder diere hê?

Selfde-geslag paartjies kan reeds sedert 2002 ‘n kind gesamentlik aanneem. Baie het ook kinders uit vorige verhoudings. Daar waar voorheen ‘n penis en vagina, sperms en eierselle by betrokke was. Ek onthou goed hoe ek my dinges in ‘n krul geruk het ‘n paar jaar gelede. ‘n 2de jaar vroulike Maatskaplike Werk student het my met haar totale onkunde gekonfronteer. Met ‘n groot arrogante vraagteken op haar gesig, vra sy, “Hoe kan ‘n lesbian ‘n ma wees?” Dit was nie net onkunde rondom die fisiologiese tekortkoming van die penis nie, maar ‘n totale ongeloof dat ‘n gay vrou enigsins die vermoë het om ‘n kind groot te maak. Sy het nie geluister na my antwoord nie, en verder geboelie, “Hoekom sal ‘n lesbian dan wil kinders hê?” Toe was ek nog nie so gewoond aan die seermaak vrae wat uit onkunde gebore is nie. Toe was die gedagte aan my eie moederskap ten tye van my vorige 6 jaar en 6 maande verhouding, en die verlies aan ‘n blondekop-blouoog wat ek nie self gebaar het nie, maar wat myne was, nog nie so vêr weggebêre nie. Na ‘n minuut van suurseer stilte, antwoord my kollega, wat my verwyt kon aanvoel, haar eerder. En ek dink, “Ek wás ‘n goeie ma en jy is net ‘n klein stupid idioot!” Vandag weet ek beter en probeer ek verstaan hoekom mense seermaak vrae vra. Ook weet ek – seer mense maak mense seer. En as ongeligtes sulke vrae vra, gaan dit nie oor my nie, maar omdat die regte inligting nog bereik is nie en indien wel, nog nie sin maak nie.

Die verlies van ‘n dierekind kan dieselfde impak hê as die verlies aan ‘n geliefde. Wanneer ons vakansietye met die familie in die Kaap deel, gryp almal saam na die “kleinkoerantjie” van die Burger. Dit is om die “hatch, match en dispatch”, soos my swaer dit noem, eerste te lees. Ons Gautengers ken nie hierdie intieme vorm van deel van liefde, geluk en hartseer nie. Dit is soos ‘n outydse vorm van Facebook of Twitter. Maar daar is iets spesiaal daaraan. Dit raak my. En meer as een keer het die “dispatch” boodskappe my van ‘n knop in die keel tot nat wange gedryf. En meer as een keer, ‘n boodskap soos, Vir Cleo (met foto): “Vir 15 jaar is jy vir ons geleen… ons gaan jou baie verlang… met liefde van jou mammas, Sandra en René”. Ek onderskat geen verlies nie.

Om ‘n ma te wees is ‘n groot voorreg en ‘n groot verantwoordelikheid. Dit maak nie saak of die kind terug praat, blaf, miaau of blaas nie. Om lief te hê, te versorg en liefgehê te word, deur mens óf dier, sonder kondisie, is basiese behoeftes. Elkeen in ons samelewing verdien die bevrediging daarvan.

En dít is die belangrikste.

Ek het nie antwoorde vir al die ‘hoekoms’ van die liefde vir mens en dier nie. Al wat ek weet is dat ek in my volgende lewe ‘n gay girl se Yorkie, Maltees, Worsie of kattekind wil wees…

Tot volgende keer, kyk mooi na jou geliefdes, dier en mens, en die belangrikste, jouself.

5-dag-40-word-fees

Dis amper half agt op ‘n Sondag oggend in Disney.
Ons het die 24 uur se reis oorkleef! 16 ure hoog in die lug, van Jhb na New York. Toe ‘n baie deurmekaar 5 ure op JFK lughawe, gevolg deur ‘n 2 uur 43 minute vlug na Orlando, Florida. Die lugwaardin, (Sexy)Sarah, het darem vir ons ‘n komplintere glas wyn gegee toe sy hoor ek word 40!
Nou sit ek op die stoep van ons hotelkamer, en van 9 verdiepings in die lug, kyk ek oor ‘n nog-nie-heeltemal-lig Orlando. Dit is groen sover ek kan sien. Duisende bome, palms en denne en iets wat ek nie herken nie, hou mekaar styf vas. En dan is hier water, baie water. Net soos in CSI Miami. Ek kon nie glo toe ek gister uit die vliegtuig die massas moerasse, damme, poele en plasse sien nie! En die groen, ‘n diep groen. Saam met groen en moeras, gaan humiditeit, 55% daarvan. In die verte sien ek Epcot, Magic Kindom en Hollywood Studios.
Vandag is die begin van my 5 dag 40ste partytjie. Hollywood studios wink. Ons hoop dit sal vandag minder besig wees as Magic Kingdom. Dis Sondag en Disney gaan, soos gister, oorkook. Hier is baie mense en snaaks genoeg (of nie?), meer grootmense as kinders.
Dit het ons gisteraand gesien in Downtown Disney. Ons het na ‘n lekker bad (ek het nuwe respek gekry vir my “48 hour protection” roll on), die ‘net’ een en ‘n half km aangepak af in die straat na die Marketplace. Daar’s ‘n halwe histerie in die lug, dit maak mens moeg as jy net daarna kyk, wat nog te se in die middel daarvan wees. Dis net mense, stootwaentjies en adrenalien. En winkels. Winkels met Disney goeters. Duur goeters.
So teen 6pm gaan staan ons in ‘n 100m lange ry (wat darem vinnig beweeg – take aways beteken ook ‘vinnig’ hier, anders as in SA) om ‘n broodjie by Earle of Sandwich te koop. Hy het glo die toebroodjie ontdek. Teen ‘n magtige $6 per broodjie, kry ons toe elk ‘n ete wat ons eintlik kon deel. Dis groot, soos die karre wat die mense hier ry. Als is groot, ook die koffie en koeldrank. Nou weet ons, ons kan net een van iets bestel, en dit sal genoeg wees vir albei. So al is eetgoed baie duur, is dit ook HUGE!
Toe is ek skielik op! My lyf en veral voete protesteer oor die kruis van kontinente, min slaap en kilometers se stappery. Ons verstaan nog nie hoe die busse loop nie en stap toe die ‘lang’ 1,5km terug hotel toe. Ek was nie ‘n gelukkige baba nie…
Maar nou is ek uitgerus, reg vir die dag!
Tot later…

“Harare Engel”

Die dag toe ek my lewensdoel uit gefigure het, het ek nie besef hoeveel verantwoordelikheid dit van my sou eis nie. En alhoewel dit nie meer oor my gaan nie, is ek die “geleier”, die brugbouer, en móét ek OK wees. Eintlik meer as OK – ek moet skerp wees, vars wees, ingelig wees, LIG wees…

Dit is my verantwoordelikheid, om gesond te wees, grounded te wees, gebalanseerd te wees, dramavry te wees. God sorg vir die res. Ek skat die afgelope maand het my ego bietjie oorgeneem. Ek het gereeld oorweldig gevoel. My lyf het vir my die waarheid probeer gil deur ‘n erge brongitis, erge sinusitis, erge lae rugpyn, stywe spiere en sommer enige klein kakkerige fisiese irritasie wat nie noodwendig in die Merck Manual opgeskryf is nie.

So was dit dan ook ‘n lightbulb moment toe ek besef ek MOET gaan gym, nie om gewig af te skud nie, maar omdat dit my help om fikser (so fiks soos ek kan wees op dié stadium), skerper, varser en ligter te wees.

Want sien, in my werk, kan ek nie styf, moeg of dof wees nie! Ek mag ook nie kwaad en resentful wees nie, want dan verloor ek my gehoor…

En my werk is belangrik, ek is geroep.

Ek werk met mense wat meestal taamlik opgfok is deur die samelewing se verwagtinge. En hulle besef dit nie. Dus druk ek hulle knoppies, nie omdat ek wil nie, maar omdat dit is wat ek moet doen en dit deel van die proses is. As ek dan nie OK is nie, en hulle is nie OK nie, dan is dit ‘n bomkombinasie vir konflik, afgevuur deur projeksies om die self te verdedig en beskerm.

Omdat menslike seksualiteit so gemarineer is in skuld en skaamte, sit ek meestal met grootmense vol vrees in ‘n workshop / training. Ek kan mos nie vir hulle kwaad wees nie?! Al vra hulle die mees ongevoeligste vrae, dié soort wat menige lesbian en gay na hul bokshandskoene sal laat gryp. Maar ek laat hulle toe, sodat hulle kan leer, leer om te verstaan waar daai homofobiese heteroseksistiese vraag vandaan kom, sodat hulle nie weer nodig gaan hê om dit in die toekoms te vra nie. Ek is gewoond aan al die vrae. Nadat ek meer as 2000 mense opgelei het, is ek al half immuun teen die impak. Net half, want ek moet erken, dat soms, net soms, slaan daai vraag my steeds binne-in my solar plexus, dat ek voel ek wil letterlik agteroor steier. En dan kan ek nie sê “fokof jou oningeligte doos!” nie. Ek dink dit soms wel. Want dit is juis dit, die persoon is oninglig, of ek hou meer van die engelse woord – ignorant. En mens het nie ‘n graad in onderwys nodig om te verstaan dat niemand niks leer as daar op hulle gevloek en geskel word nie, of as die juffrou / fasiliteerder sarkasties is nie. Ek moet brûe bou met liefde…

Om OK te wees, moet ek, behalwe gym, ook speel. Indien ek nie speel nie, verdrink ek in my gevoel van oorweldigheid. Want dis gewoonlik in my kop. Dan kan ek nie skryf nie, want vir my is dit nie speel nie. Dit is deel van my lewensdoel, dit is ‘n ernstige storie. Maar ek moet speel, sodat ek kan skryf. Ek speel deur engeltjies te maak van krale, baie van hulle. Dis dan ook nog deel van die speel om dit weg te gee… Dan mosaïek ek en maak kaartjies en hartjies van felt, al is dit baie effort om al die verskillende houers vol goeterjies uit die kas te haal.

Dan gaan speel ek ook graag by Monte Casino se Planet Kids (ek dink dis die naam, ek is gewoonlik te opgewonde om op te kyk na wat die naam van die plek is). Sommer so op ‘n werksdag in die middel van die week. Daar gaan slaan, klap, gooi en skiet ek graag ‘n R100,00 se silwer munte uit. Ek vang ook graag die goedkoop soft toys met die meganiese hak. Dit is my favourite. Ek vang so drie met elke besoek. Dit gee my ongekende energie. Ek kry snaakse kyke, veral van grootmense, maar ek gee nie om nie! Die kleintjies kyk my aan met bewondering… Dan ruil ek die baie kaartjies in wat ek gewen het, en kry sommer nog ‘n presentjie. My laaste ene was ‘n Hello Kitty waslap…

My lewe (en dus my lewensdoel) is so blêddie ernstig, en moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is mal oor my werk, maar dis só grootmensgoed. Vir my om die beste te wees in wat ek doen, mag ek nie vergeet om te speel nie, om te gym nie, om te mediteer nie. Ek het sekere rituele wat ek moet doen om veilig te voel in ‘n grootmenswêreld waar grootmense so seer het, dat hulle ander seer maak, en dit die meeste van die tyd nie weet nie.

Ek is oppad Zimbabwe toe. Ek gaan oor menslike seksualiteit praat in ‘n diep homofobiese en diep seergemaakte (Mugabe opgefokte) gemeenskap, vir twee dae aanmekaar. Alhoewel ek baie daarna uitsien, en ek weet God en die Heelal beskerm my, en dat alles is soos dit moet wees, kan ek nie anders as om ‘n bietjie oorweldig te voel nie.

Dit is darem ‘n groot ding dié?!

Ek is gesond, ek is vars, ek is grounded, maar dit sal vir my baie beteken as jy, die leser, vir my Lig, Liefde en Engele kan stuur, of bid, of wat jy ookal doen, uit watter spirituele oogpunt ookal! Dit sal nie oorbodig wees nie, dit weet ek verseker.