‘Die Hemel is Rooi’

‘Rieeeeette, Rieeeeette, maak oop! Ek weet jy’s daar binne!’

 

Doef! Doef! Doef! My kop?! Wie skree so?

 

‘Maak oooooop! Ek het amazing nuus!’

 

So die gedonder kom van buite my koshuiskamer? Ek moet seker oopmaak. Lana gaan tog nie ophou of verdwyn nie! Oeps, wat is ek so onvas op my voete? En hoekom is dit skielik so ver na my deur toe? Wat draai als so? Laat ek net weer bietjie sit. Oeps, amper val ek!

 

Ek kom Lana! Sjoe, wat praat ek so moeilik? Haal diep asem Riette.

 

‘Uiteindelik! Wat vat jy so lank? Ek het so baie om te vertel! Voor ek vergeet – Happy Birthday girlfriend! Nou’s jy ook ‘n grootmens!’ Lana lag van lekkerte en druk my vinnig styf vas voor sy my armlengte wegstoot en my  gemaak kwaai in die oë kyk.  ‘Jissie girl, wat’s jy so bleek en natgesweet?! En jy kook?! Het jy griep? Is dít hoekom ons jou nie by die kerk gesien het vanoggend nie?’

 

Al die vrae… watter een moet ek antwoord? Ag dis nie nodig nie, Lana wag blykbaar nie vir ‘n antwoord nie.

 

‘Girlfriend, ek het hom weer by die kerk gesien! Die gorgeous  pa van my drie kinders!

 

Sy sê elke woord stadig, vir groter impak. Ek voel nie lekker nie, haar fantasieë oor Klein Tom Dominee maak my glad nie opgewonde vandag nie.

 

‘Hy het vir my gesmile én hallo gesê by die deurkollekte. Gelukkig het ek nog ‘n Rand by my gehad om in te gooi. Ek sou my doodgeskaam het as ek niks gehad het nie! Ek is maar laag die maand, met almal wat so een en twintig word. Hy’s amazing! Is jy nie excited vir my part nie?

 

Wat? Ekskuus? Nee, ek… is…bly… net bietjie… moeg… en out of it.

 

‘Jy’s nie lekker nie maatjie. Laat jy in die bed kom. Ek moet gaan leer, my semestertoets van Dinsdag gaan nêrens heen nie. Ek weet nie hoe ek gaan konsentreer nie, ek sien net Tom, Tom, Tom! Anyway, kyk mooi na jouself, né? Toodledoo!’ giggel sy by my kamer uit.

 

Wat ‘n verligting, ek het nie krag vir Lana Drama nie.

 

Wat is so nat hier in my bed? Ek kan nie sien nie, dis al donker. Miskien net die swetery. Laat ek twee van daai pynpille drink wat hy Vrydag in ‘n klein bruin koevertjie in my hand gedruk het met ‘n ‘Take one or two if you feel tha pain or tha feva’. Hierdie is verseker ‘n feva, ek was laas so warm toe ek my lyf met die son laat verbrand het. Ek was twaalf en Ma het gewaarsku ‘Smeer julle dik van daai sonbrandroom voor julle see toe gaan’. Ek het gesê jaaaaaa Mamma! soos ek soms gejok het wanneer sy gevra het of ek saans voor slapenstyd my tande geborsel het.

 

Ek was stout Mamma.

 

Ek is naar. Dit is al 2 uur in die oggend, skel my klokradio in bloedrooi. Hoekom is ek so nat? Wat gaan aan met my? Hoekom is die bedliggie so vêr? Hoekom werk die pille nie? Hoekom kry ek nie my arm opgetel nie? Hoekom sit my bobene vas aan mekaar? Hoekom bewe ek so? Iets is nie lekker nie.

 

Haal diep asem. God gee my krag. Liggie is aan. Die lig is skerp, dit vat langer as gewoontlik om gewoond te raak daaraan.

 

Wat?! Liewe Here! Help my asseblief Liewe Jesus. Wat het ek gedoen? Hy het gesê ek gaan net bietjie bloei, soos daai tyd van die maand, niks meer nie. Ek het nie ‘n keuse gehad nie! Hy was al wat ek kon bekostig.

 

God! Help my! Nee, Here, vergewe my eers. Ek is só jammer. Ek wil so graag my studies suksesvol klaarmaak. Almal is so trots op my. En ek het keuring vir Honeurs gekry volgende jaar. Ek wil ook ‘n goeie sielkundige wees, soos Pa en Tannie Anne, en oom Paul.  En soos Oumie was.

 

Ek kan nie beweeg nie! Gaan ek doodgaan? Word ek nou gestraf? Here, waar is jy?

 

Wie gaan my kan help? Ek moet vir Mamma bel, nee, sy sal my doodmaak! Wat van Pa? Ons het nog nooit gegel nie, hy verstaan my nie. Nee, net nie Pa Prof nie! Tannie Anne? Ek het nie krag om haar te Skype in Australië nie. Miskien Sus? Nee, sy gaan vir my preek, want sy sal haar skaam vir my. 

 

Bid! Iemand moet vir my bid! Dominee Daan dalk? Hy’t my gedoop! Nee, hy gaan vir my ma hulle sê.  Die Bybelstudie groep is uit! Net nou die dag het hulle afgegaan oor ‘die moord van die stemlose onskuldiges’.  Angus, Ester, Franco, Beet, Sandra, Chris, Gretha, James? Nee, nee, nee! As julle die waarheid van my moet weet sal ek nooit weer toegelaat word in die elite groep nie! Ag wat maak dit ook nou saak? Ek weet julle almal lieg julleself happy.

 

Met al die bloed moet ek seker ons huisdokter bel. Hy ken my al van doekedae af. Maar, iets aan hom laat my ongemaklik voel. Ek onthou vaagweg toe ek veertien was en ‘n moesie laat uitsny het. Ek wou weet wat is ‘n FL. Hy’t gelag en gesê ek moet hom kom vra as ek een en twintig is. Dokter Ben, ek het gister een en twintig geword… Nou wat nou? Nee! Hy gaan vir my lag.

 

Wat van Lalie? Ons is beste buddies al van Graad Een af. Maar ek het drie maande laas van haar gehoor. Nee, sy gaan dink daar’s iets fout as ek haar uit die bloute bel.

Ek het nie krag vir haar histe…

 

Ek… is… só moe…

 

Aaahhh! Die son het opgekom en dis darem nou lekker warm in my kamer, nie so vrieskoud soos deur die nag nie. Die pyn is weg! Ek voel sommer ligter.  Wie staan daar by die deur? Dis Oumie!

 

Oumie Magriet, jy’t gekom! Ek het altyd geweet ek is meer as jou naamgenoot. Jy was nog altyd die een wat geluister het. Onthou jy die keer toe ek so gehuil het nadat Abel de Jongh ons drie weke kys gebreek het? Jy het my styf vas gehou, oor my hare gevryf, my voorkop gesoen en my gewieg tot die histerie uiteindelik net ‘n snik geword het. Die sagte reuk van jou Youth Dew parfuum was ‘n kalmeerpil. Dit was goed vir my. Jy was goed vir my.

 

Ek is so bly jy is hier. Kom ons gaan stap ‘n entjie. Ek het baie om te vertel.

 

Ek was stout Oumie…

 

*************************************************************************************

 

PS: Die storie stap saam met my die afgelope paar weke al. En toe ek gister met groot skok en hartseer in die Beeld lees van die UJ student wat dood gevind is in haar koshuiskamer na ‘n agterstraat aborsie, het die behoefte om “Die Hemel is Rooi” te skryf, my net oorweldig…

 

God, ek bid vandag dat elke vrou mag kies, sonder vooroordele, met die ondersteuning en die beskikbaarheid van toepaslike seksuele en reproduktiewe gesondheidsdienste. Die onkondisionele liefde van ‘n naaste sal ‘n groot bonus wees, dankie. AMEN.

My hart bewe

Pandora is klaar! Ek gaan sê hallo vir ‘n bekende groep opgewonde ondersteuners buite die teater. Julle groepie stap verby. Ek het nie kans gekry om hallo te sê nie. Ek draai na links, vir ‘n oomblik weg van my geselskap en skree ‘n amper te laat ‘dankie’ in julle rigting. Jy stap nader. “Ek wil jou ‘n druk gee” sê jy. Ek maak my arms oop, en ons hou mekaar styf vas. “Sê my wat’s jou naam” vra ek, effe oorweldig deur die intimiteit van die oomblik. Ek hoor maar ek luister nie. Jy hou my hande styf teen jou breë bors vas. Ons sê niks, kyk diep. Dan fluister jy “Dankie, dankie…”. Jy raak weg in die donker. Net ‘n skielike leemte en die reuk van duur aftershave bly agter. Ek sluk swaar en ek weet, God weet – my show het ek vir jou gehou.