“Ligter en Ligter”

Vrydag is Mydag! Maar voor ek bietjie myself gaan bederf, dink ek met ‘n dankbare hart terug aan my ambivalente week, met een dag spesifiek in gedagte:

Dinsdag het ek 130 km per uur gejaag na Devon, so 30 km anderkant Springs, nie so ver van Secunda af nie. My Smart karretjie kan net ‘n maksimum van 140 km per uur ry…  Die padwerke deur Midrand het my trip met ‘n halfuur verleng, maar ek was steeds in ‘n rekord tyd by my eindbestemming.

 

Daar gekom, begin ek ‘n werkswinkel vir 12 werk- en vuisvose vrouens fasiliteer, by ‘n gemeeskapskliniek wat se naam ek nooit sal kan uitspreek nie, wat nog te sê onthou! Dis maar ‘n somber atmosfeer. Ek verstaan. Daar’s nie veel om oor happy te wees nie?!

 

Ek pak die helder kleure felt uit. Vandag gaan ons ‘n hartjie maak, vir dit ‘n helder deurskynende beskermende cover gee, en dit vul met allerhande kleure opgeknipte stukkies felt and “bling” balletjies, en ‘n druppeltjie lekker ruik olie, want ons harte verdien die beste… Johanna, my kollega wat my versoek het om my Lig te kom deel, vertaal sover ek praat. Die koppe knik en glimlagte ontwikkel stadig soos ‘n foto in ‘n donker kamer.

Ek help die vrou regs van my, sonder om heeltemal oor te neem. Sy is diep in haar vyftigs. Sy kry net nie die skêr lekker vasgehou nie. Ek besef sy het heel moontlik nog nooit geleer hóé nie! Nog ‘n side effect van apartheid… Sy smile vir my.

Die harte is maar krom en skeef, volgens my standaarde, maar snaaks genoeg, die vertrek raak meer en meer lig. Maak perfeksionisme enigsins saak, wonder ek.

‘n Uur vlieg verby.  Die hartjies en hul cover, deurskynend maar beskermend, is aan mekaar gewerk met helder borduurgare.  Dit nadat ‘n paar maar gesukkel het om die natgelekte gare deur die klein ogie van die naald te kry.  Almal gesels lekker.  Dis intiem.  Ek help bietjie hier, bietjie daar.  Dit word meer en meer lig.  

Een van die jonger meisies se hand is gebreklik, en sy kan nie self haar hartjie maak nie, maar dis gelukkig geen probleem nie, die gogo, die ouma lanks haar, maak vir haar een op haar aanbeveling.  Ek let op dat sy nie verwytend is nie, en ek dink so by myself, ek sou dalk gewees het – dis darem nie lekker om nie te kan saam speel nie?!

Stukkie vir stukkie word hul harte gevul.  Ons moet mooi kyk na ons hart, verduidelik ek verder.  Ons moet nie sommer enigiets en enigiemand daar laat ingaan, veral nie dié wat ons seer maak nie.  Johanna vertaal.  Hulle knik hulle koppe, verstaan die metafoor al te goed, mishandelling en geweld iets waaraan hulle so gewoond is soos dié wit vrou aan haar ondervloerse verhitting.

Die vertrek is warm en lig.

Ek drup ‘n druppeltjie geranium essensiële olie binne in elkeen se hart. Oooh en aaah! Nice! Trots en verheug!  Smile, smile smile!

Ek word ‘n paar keer bedank terwyl hulle die coconut tert, jam rol en lemoene wat ek, ter nagedagtenis, saam gebring het, verorber.  Nee, ek moet julle bedank, my lewe is voller omdat ek vandag met julle ‘n space kon deel…

 

Dis juis dit – ek word nie betaal vir dié werk nie, nie in rande nie, maar die ondervinding het vir my ongekende energie gegee.  God het my gestuur.  God gee vir my terug in oorvloed. 

 

Dit was net een area waar ek die afgelope week my Lig moes laat werk.  Gister het my Lig ‘n man van sy fyn uitgewerkte selfmoord plan ontsien.  God het my gestuur.  Ek word nie betaal daarvoor nie, maar ek lewe in oorvloed.  Ek vertel julle later van dié experience, ek is nog heeltemal te rou…

 

“Trane onder die brug”

Ek is besig. Besig met ‘n moerse job  – op soveel vlakke.

Ook besig om my gevoelens te verwerk.
Hartseer het aan my lyf kom vassit en nou karring dit aan my siel. 

Ek weet dit want ek is ongewoon emosioneel, wil sommer in trane uitbars terwyl ek Bubbles speel op my foon. Bubbles, soos Sudoku, 

help my om af te skakel, wanneer my kop vol goeters is en my hart seer is, of ek gewoon net verveeld is.
Die afgelope paar dae is ek weer aan mense se stories blootgestel. 

Nie net enige mense nie, nee, my tipe mense -gays, lesbians, bisexual, transgender en intersex mense – LGBTI individue. Ek is versoek om as konsultant, vir een van die grootste organisasies wat inligting oor HIV en Gender Based Violence 

(wat is die gepaste afrikaanse woord hiervoor?) versprei in SA en verskeie ander Afrika lande, ‘n groot uitdagende projek te doen. 

Om ‘n brug te bou…

Dis die moerse job.

Dit behels om diensverskaffers in die HIV en GBV veld, en LGBTI’s self, uit te vra oor hul belewenis van mekaar, hul persepsies, 

hul uitdagings en verwagtinge.Ek het binne die afgelope 5 dae oor die 100 vraelyste per epos uitgestuur, 47 terug ontvang (amazing!), 

‘n fokus groep bespreking met 8 gay mans gefasiliteer en 6 persoonlike onderhoude gevoer. 

Ek het ook begin met die literatuur studie. Ek is amper klaar met die analise en verslag.

Ek is moeg. Ek is geraak. Ek is hartseer. Ek wil net huil.

Miskien is dit omdat ek ongewoon hard werk (ek is nie meer gewoond daaraan nie…).
Miskien is dit omdat sommige van die stories net eenvoudig my in my solar plexus in moer en my laat agtertoe steier en val en voel  ek wil net bly lê en voor my uitstaar, verwese.

Vandag is ek nie kwaad nie. Soms maak dit wat ek sien en hoor my kwaad, maar vandag, nee, vandag is ek net só sad!

Twee stories spesifiek wil my nie los nie. Dis nie nuwe stories nie. Dis net weer seer om hulle te hoor.
En as dit my, wat na 21 jaar soveel pyn dinge gehoor en gevoel het, só raak, hoe dan raak dit nie die houers van die stories nie?

So drie jaar terug het ek haar die eerste keer ontmoet. Ek moes beraad. Sy was stukkend. Geskop tussen die bene deur ‘n vrou 

wat haarself ‘n gelowige noem. Op haar gevloek en skree dat sy ‘n abominasie vir God is en dat sy haar sal straight skop. 

Soveel so dat sy erge inwendige beserings opgedoen het. Die glo ek genees nog steeds vandag, soos haar hart en siel ook doen.

Sy het met aankoms by my kantoor swaar geloop, swaar gaan sit en swaar opgestaan. 

Binne die hele drama, weier haar ma haar liefde ondersteuning, iets in die lyn van “jy wil mos”

Fokkit! 

‘n Meisie het in sulke tye haar ma nodig!
Toe al het my hart gebreek vir haar.

Vandag hoor ek dat, na 3 jaar, het geen polisie beampte nog haar gekontak oor die “vordering” van haar saak nie. 

Dit nadat sy destyds, uit frustrasie vir die alewige gesloer, met ‘n persoonlike navraag, moes toekyk hoe vyf manlike beamptes in uniform, middagete om haar oop leêr geniet, oop op die plek waarhaar lyflike beserings beskryf word, prentjies en al. Dit nadat die stasie bevelvoerder belowe het hy sal persoonlik aandag gee aan haar saak. 

Net ‘n katgeveg het een wat gedink het  hy weet destyds gesê…

Dis ook dieselfde polisiestasie wat my 6x van bakboord na stuurboord gestuur het. Ek wou net toestemming vra om hulle te betrek by 

dié data insameling wat my tans so oorweldig. Na ure se gesukkel met deursit en terugbel (ek het selfs ‘n draai in die verlofkantoor gaan 

maak), kom ek uiteindelik by die stasiebevelvoerder uit, weer ‘n nuwe onwillige stem!

Eish sê sy, sy weet nie na wie om my te verwys nie. Nee kolonel, verduidelik ek stadig in engels, ek soek net toestemming by jou om met 

‘n paar van jou onderdane ‘n onderhoud te voer oor hul opinies, attitude, behoeftes rondom LGBTI informasie en dan sodoende te 

bepaal hoe om te help sodat hulle ‘n beter diens kan lewer. 

Nog ‘n eish… Sy vra my om eerder ‘n e-pos te stuur, wat niemand tot op hede nog beantwoord het nie!

Vandag wil ek net huil! 

Miskien is dit die gevoel van magteloosheid?

Die tweede storie is die reaksie van ‘n interseks persoon.
Sy het op haar vraelys geskryf dat sy haarself nie as manlik of vroulik identifiseer nie, al sê die staat sy is vroulik. 

Sy verkies om haarself ‘n Joodse aseksuele persoon te noem. Soos sy as mens tans is, word sy nie deur die Suid Afrikaanse reg erken nie! 

Dis verskriklik – geen erkenning deur die wet – geen beskerming deur die wet!

Alhoewel erg was dit nie nuwe nuus nie.

Maar wat kom vassit het, was die volgende “Ek weier enige mediese behandeling, al sal dit my dood beteken!” Dat iemand al so verneder,

so misbruik, so gemutileer is deur mense van die mediese beroep (my beroep!), mense wat veronderstel is om te genees, te versorg, 

te beskerm! Dat sy eerder sal doodgaan as die moontlikheid om blootgestel te word aan ‘n pyn groter as enige fisiese lyding?

Ek sukkel om vandag oor myself te kom.
Vandag wil ek net huil.
Miskien voel ek skuldig?

En dan is daar die bekende trauma berader, met kwalifikasies so lank soos my arm (ok, dis nie só lank nie my arm…). Sy het ook al 

boeke geskryf. Sy is ‘n christen…

Nee laat weet  sy my, sy het deur die vraelys gegaan en sy is nie ‘n geskikte kandidaat om dit te voltooi nie… 

By haar trauma sentrum word ALMAL dieselfde benader… 

Snaaks tog, my gut het vir my gesê dis nie die hele waarheid nie…

Haar totale ongemak het ordentlik in haar koue respons vir my gegil.

Vandag wil ek net huil.

Miskien is dit omdat ek weereens besef dat daar nog só baie is om te doen, veral onder dié wat hulself gelowiges en genesers noem…

Ek weet en aanvaar ek is ‘n brugbouer, maar soms, net soms wil ek vir ‘n oomblik, net ‘n oomblik, net onder daai brug gaan skuil, 

en my seer hart uit my lyf uit huil.

PS Verskoon asb die foute in die blog – dis half twaalf in die aand en ek kry nie die donnerse spasies en paragrawe reg nie – vergewe my! Ek gaan nou slaap… tata!

“Lesbes”

My werk is uitdagend – op verskeie vlakke. Ek dink soms dat as ek nie so vas geglo het dat ek God se werk doen nie, ek al lankal handdoek sou ingooi.

 Ek het ‘n oggend ritueel. Een van die frases wat ek drie maal herhaal, is “God, laat U wil geskied”. Dit herinner my, so deur die besige dag, wanneer dinge nie uitwerk soos ek dit graag wou hê nie, dat daar ‘n Groter Plan is. Daaraan is ek herinner nadat die reëlings vir die bekendstelling van ‘n nuwe LGBTI studente organisasie, genaamd Flamboyant, by TUT se Soshanguve kampus, verlede Vrydag swaar deur afrikatyd beïnvloed is. Wat 12h00 moes begin het eers 14h 30 afgeskop. Ek was mos in my verlede in die Army… Ek verpes  laatwees, dus probeer ek altyd betyds wees, ten minste 10 minute voor die aanvang van die event. Ek was ‘n gasspreker, deel van ‘n paneel van sogenaamde experts wat gevra is om ‘n groep bronstige jongmense, van verskeie seksuele oriëntasies en identiteite, toe te spreek.

Ek sit en wag vir aksie. Gelukkig kom sit Tebogo langs my. Hy is ook deel van die paneel. Hy gee my ‘n gemoedelike drukkie, ons het mekaar maande laas gesien. Ons lag en gesels, praat soms meer ernstig, oor die lewe in die algemeen, oor mense en mag, oor die misbruik van mag, oor balans en wanbalans, oor manlikheid, oor vroulikheid, oor politiek, oor pyn, oor diskriminasie teenoor ons eie, oor projeksie, oor spiritualiteit, oor gender, oor identiteit, oor die pyn van ‘n mislukte geslagshertoewysingsoperasie, oor transman wees in ‘n township, oor boerelesbian wees.

Twee ure vlieg verby. Ons het mekaar nodig gehad, ons het daai oomblik nodig gehad, ons het afrikatyd nodig gehad.

Ons stap op die verhoog. Ons “Oprah” het ook uiteindelik opgedaag, onvoorbereid, maar darem dáár. Voor ons sitlê meer as honderd opgewonde student op plastiek stoele. Die MC trippel vir oulaas rond en kom genadiglik tot stilstand en begin praat. Sjoe, lanklaas het iemand se swak organisasie vermoë my so moeg gemaak!

Oprah vra ons om onsself voor te stel. Vêr links verduidelik Tish dat sy Kaleidoscope, ‘n sambreel organisasie van ek dink 17 LGBTIQA studente organisasies in SA, verteenwoordig, sowel as Wits Activate, Wits Universiteit se gay en lesbian organisasie. Langs haar praat Edwin, ‘n jong swart man van Mamelodi en ook een van die peer educators van OUT, wat ek mentor. Dan kom Koisan aan die woord, ‘n arrogante PAC lid met duidelik baie mag. Hy sitlê ook graag en loer onder sy (onwettig gegapste) Army kêps uit. Hy is militant. Dan kom Kgomotso links van my, met ‘n sexy hees stem, aan die woord. Sy is glad nie op haar bek geval nie, ‘n DJ van die vroegoggend radio show op die kampus. Sy het ook ‘n program op gemeenskaps radio en is ‘n belydende christen. Dan is dit my beurt ek is Delene van Dyk, ‘n professional Dyke. Die gehoor giggel. Meer van hulle as van my gewoonlik oorwegenede straight gehore, weet wat die woord Dyke beteken. Regs van my stel Tebogo homself voor – direkteur en founder van Transgender & Intersex Africa.

Die eerste vraag word direk aan my gerig. Wat beteken seksuele oriëntasie, gay, lesbian, bisexual, transgender en intersex? 

Die mikrofoon is die een falliese objek waarmee ek met die tyd saam heel gemaklik in die hand geraak het… Uit die staanspoor sê ek dat ek als behalwe transgender sal verduidelik. Tebogo sal oor trans issues praat. Ek verduidelik die definisie van seksuele oriëntasie, wat ek seker al ‘n duisend maal van tevore verduidelik het. Per definisie, is dit tot wie ‘n persoon aangetrokke is, op meer as een vlak, menende fisies, emosioneel, spiritueel, intelllektueel en seksueel, met die onderskeiding tussen die drie oriëntasies dan die seks van die aangetrokke persoon. Ek verduidelik dat aangetrokkenheid en identiteit baie meer kompleks is as wat oor die algemeen geredeneer word. Seksuele oriëntasie, selfs homoseksualiteit, is, per definisie beperkend, en plaas mense in bepaalde boksies van verwagtinge. Ek besef dat ek dit nog ‘n paar keer gaan moet herhaal, al is die gehoor oorwegend gay en lesbian.  Ek verduidelik ook dat interseks, soos transgender, niks met seksuele oriëntasie te doen het nie. Interseks is ‘n biologiese variant. ‘n Interseks persoon word met interner of eksterne geslagsorgane gebore wat nie duidelik is nie, of soos sommige sê, tweeslagtig voorkom. Ook is nie een interseks persoon se lyf presies dieselfde as ‘n ander nie. Ook vedruidelik ek dat die woord hermafrodiet polities inkorrek is, en om dit te gebruik, sal interseks mense erg verontreg en verneder. Interseks, soos transgender, het niks met seksuele oriëntasie te doen nie. ‘n Interseks persoon kan enige seksuele oriëntasie hê.

Tebogo verduidelik transgender na aanleiding van sy persoonlike ervaring. Hy was gebore met die lyf van ‘n meisie, maar het vir solank hy kan onthou, soos ‘n seun gevoel.  Hy was vasgevang was in die verkeerde lyf. Hy weet al reeds vanaf 5 jarige ouderdom dat hy ‘n man is, al was hy gebore met  vroulike geslagsdele. Toe hy puberteit bereik, het hy sy borste opgebind. Hy het aanvanklik gedink hy was ‘n lesbian, want hy was nie bewus van die korrekte trans taal nie. Maar eintlik was hy net ‘n man, vasgevang in ‘n meisie se lyf, aangetrokke tot vroue. Sy ouers het hom ten volle ondersteun, tot vandag toe nog. Hy is hul seun, en hulle is trots op hom. Hy is in die proses van geslagshertoewysing. Hy verduidelik ook dat die term transgender, ‘n sambreel term is vir transseksualiteit, iemand soos hy, ‘n transman. Die term sluit ook transvestiete in – iemand wat cross dress, (of soos dit so mooi in Afrikaans gestel word, ‘n fopdosser). Hy sluit af deur te bevestig dat trans individue enige seksuele oriëntasie kan hê, aangesien transseksualiteit gaan oor die verhouding wat die transpersoon met hul eie lyf het, en ‘n seksuele oriëntasie, oor die verhouding met ‘n ander.

 Die falliese objek word oorgegee aan die gehoor. Nou kan hulle vrae vra.

 ‘n Jong man in die gehoor maak ‘n opmerking oor heteronormatiwiteit.  Ek kry die gevoel hy besef nie dat niemand anders weet vaarvan hy praat nie. Ek vra die gehoor wie het al van die term heteronormativiteit gehoor. Net drie handjies kom stadig onseker op. Dis die jong man en 2 van sy maters. Hulle is student aktiviste. Ek verduidedelik weer van die pappa, mamma, 2.4 kinders, hond en kat en wit picket fence en sê grappendergewys dat die wit picket fense in hierdie land in barbed wire verander het.

Angstig giggel die gehoor. Dis ‘n groot woord en ‘n groter konsep om te verstaan. Ek verduidelik verder.
Die heteronormatiewe model is eksklusief, al glo mense dit is eintlik inklusief.  As jou lewe nie binne die pa, ma, 2.4 kids, hond en kat en wit picket fence prentjie val nie, word jy uitgesluit uit die hoofstroom uit. 

Gay of straight, almal wil behoort aan. Dis seker die mens se grootste behoefte, ons is kudde diere, of ons dit wil aanvaar of nie.  Dus, kyk ons, almal van ons, nevermind ons seksuele oriëntasie, na die lewe deur die heteronormatiewe bril, en probeer ons ons lewens daarvolgens lei. Ek bevestig die jong man se opmerking oor top en bottom en butch en femme. Iemand moet die “pappa” wees, die “butch”, die “top” en iemand moet die “mamma”, die “femme”, die “bottom” wees. Soveel so dat die samelewing, ja, selfs die gay gemeenskap, ook só na mekaar se verhoudings kyk.  En bewaar dié gay of lesbian wat uit die heteronormatiewe boks wil breek?! Hoe ironies?! Dus verduidelik ek, ons ALMAL kyk na die lewe deur die oog van die penis… Geskok giggel die gehoor, maar ‘n groot gedeelte skud hul koppe stadig. Die lig gaan aan…

 Edwin probeer die konsep van geinternaliseerde homofobie verduidelik. Dit is wanneer gay mense die skuld en skaamte wat na hulle geprojekteer word, internaliseer, hul eie maak, sê hy slim. Ek is trots op hom. Verder, dit word in praktyk gesien wanneer een gay ‘n ander sleg sê, omdat dié dan té vroulik is, of aan die ander kant, té butch is, dus nie gay ‘genoeg’ nie. Aan die ander kant, verduidelik hy, is geinternaliseerde homofobie ook evident as ‘n gay persoon homself haat vir wie en wat hy is, en dan homself blootstel aan hoë risiko gedrag, soos om te veel te drink en dan onbeskermde seks te hê.

 Nog vrae en antwoorde word gedeel, en lesbes…

 Sowaar as vet, word die vraag weer gevra… So hoe het twee lesbians seks? Nou, soos ek al vroeër verduidelik het, word die vraag, sonder uitsondering, altyd gevra wanneer ek sensitization trainings doen. Ek moet erken dat ek nie die vraag verwag het by ‘n oorwegende gay gehoor nie, maar ek het ook later besef dat daar ook straights in die gehoor was, dus sal dit natuurlik oppop, selfs miskien eerder dan híér.

Die gehoor giggel, sommige lesbians maak sis en tsk geluide. Hoe durf hy, lees ek op kwaai gesigte. Kgomotso langs my gryp die geleentheid aan om haar ekshibisionistiese persoonlikheid ten toon te stel. Sy trap binne in die lokval! Ek het al lankal geleer hoe om die vraag te antwoord sonder om enige meganika te verduidelik, maar ek los haar. Ons elkeen verdien ons 5 minute van glorie.

Ek is butch, en daarom is ek ‘n “top”, verduidelik sy, en ek voel hoe sy arrogant lekker kry hier langs my. Sy verduidelik hoe sy orale seks met haar partner geniet. Ek krul op in my koue plastiek stoel. Ek wil opgeraap word! Wat ‘n vernedering, om so blootgestel te word. Om jouself so bloot te stel, maar nee, Kgomotso dink nie so nie! (Soos ek hier skryf, sms sy haar e-pos adres vir my en is dit nie ironies nie – daar is die woord “phenominal” in – histeries snaaks…) Sy borduur voort oor haar seksuele voor en afkeure, ai!

Ek vra vir Oprah of ek asseblief ietsie kan sê. Nee, kak hiermee, hierdie is ‘n geleentheid om te leer, nie ‘n plek vir ‘n straight man om ‘n ereksie te kry nie! (en ‘n lesbian om haarself te verkoop nie…)

Ek kyk die man in die oë, en besluit net daar om vir Jakob Regop tot in erektiele disfunksie in te praat. Jy kyk nou na die lewe deur die oog van die penis, meneer. Vir jou moet daar ‘n penis en ‘n vagina wees, anders is daar nie seks nie, né?  Verstaanbaar, dis die impak van die heteronormatiewe model. Maar jy weet dat ons nie seks tussen twee mense kan reduseer tot slegs geslagsdele nie nê? Hy knik vir my. Hy het nie meer so ‘n skaapglimlag op sy gesig nie. Ek is nou op ‘n roll – elke mens is verskillend, verduidelik ek verder (hierdie is my intellektuele kos, mense…) Ons het verskeie “body parts” wat gestimuleer kan word, en so kan elkeen van ons seksuele plesier ervaar, verskillend, hang af van die lekker plekkies op en in ons lywe, wat gekielie, gestreel, gesuig of gelek word. Dit het niks met ons identiteit te doen of vir wie ons lief is nie. Dis soveel meer. Ek gee ‘n paar voorbeelde. 80% van vroue kan nie ‘n orgasme bereik deur vaginale penetrasie nie. 25% van gay mans beoefen nie anale penetrasie as deel van hul seksuele repertoire nie. Anale penetrasie is nie net ‘n gay seks ding nie. Meer en meer straight paartjies het anale seks, en dan is dit nie net vroulief wat die ontvanger is nie. Binne die anale kanaal van ‘n man is daar iets wat die prostaat genoem word. Wanneer dit gestreel of gekielie word, is dit ‘n lekker plekkie, maak nie saak wie  of hoe die kieliewerk gedoen word nie!  (Let wel, alhoewel ek engels praat, word “lekker plekkie” in Afrikaans gesê). Almal lag. Die man se oë rek meer en meer. Ek stoom voort. Deur na die lewe te kyk en te glo die penis is die alfa en omega binne die konteks van seksuele omgang en plesier, is beperkend, nie net vir paartjies wat nie die betrokke liggaamsdeel besit nie (ek bedoel ‘n regte een van vlees en bloed), maar ook vir straight paartjies. Dis darem net té veel verwag van Jakob… wat nie altyd kan of wil regop nie…

Ek kyk na Kgomotso en eindig my tirade met ‘n glimlag en sê – dit geld ook vir lesbians, butch of femme!

Daar is ‘n lewendige buzz onder die gehoor. Iemand wil by Tebogo en die DJ, ‘n transvrou, weet hoe het hulle seks. Ek roep vir Oprah. Moet asseblief nie toelaat dat hulle die vraag antwoord nie, sis ek streng. En ek wonder, gaan sy nou nes Oprah wees en vir sensasionele waarde die vraag toelaat? Gelukkig toe nie! Ek wou weer my hand opsteek en sê dat die lyfpolitiek van trans mense baie sensitief is, en dat die gehoor definitief nie reg is vir so ‘n intense gesprek nie. (Half barbaarse studente…)

Die tyd is verby, maar die gehoor wil nog weet van gays en godsdiens. Koisan kry  uiteindelik ‘n kans om iets te sê. Hy is ‘n ateïs. En straight. Hy glo godsdiens verdeel mense. Hy glo godsdiens vertrap mense se regte. Sy organisasie op kampus het baie mag en ook baie geld, sê hy trots. Hulle sal Flamboyant help om op die been te kom, maak nie saak wat hul lede se godsdienstige of seksuele oriëntasie is nie. Sy organisasie diskrimineer nie, sê hy trotser. Hy sitlê steeds, en loer vir die gehoor, met ‘n groot arrogante smile.

Kgomotso verduidelik dat sy ‘n wedergebore christen is en dat die kerklike broers en susters van haar gemeente haar aanvaar net soos sy is. Sy is glo baie geliefd (dít betwyfel ek nie…) in haar eng gemeenskap.

Ek verduidelik dat daar christen leiers is, soos Biskop Desmond Tutu, wat Jesus se liefde vir elke mens beklemtoon en baie uitgesproke is teen die diskriminasie van mense op grond van geslag, geloof, status, seksuele oriëntasie etc. Dat dit eerder die diskriminasie is wat onchristelik is.

Die tyd is klaar. Die paneel is opgebruik, maar kry elk ‘n kans om ‘n laaste woord met die gehoor te deel. Die ander s’n kan ek nie mooi onthou nie, ek dink ek het net laat gaan, en nie meer ingeneem nie. Maar ek onthou Koisan s’n. Hy sê, half geirriteerd, hoekom sit ons hier en praat oor hoe mense van dieselfde geslag seks het! Dis ‘n skande! Ons moet praat oor hoe ons die homofobiese gemeenskappe gaan leer van toleransie en onkondisionele aanvaarding! (Sjoe, dié waarheid komende van ‘n ongelowige….)

Ek praat stadiger, maar doelgerig en eindig met:

 Having a penis does not make you a man, having breasts do not make you a mother and being heterosexual does not make you “normal”.

Oppad huis toe besef ek moegemosioneel, hoe geseënd ek is, omdat ek is wie ek is, weet wat ek weet (en nie weet nie) en doen wat ek doen.

Ek weet dit is net té groot om van ‘n mens alleen te kom, dit móét van ‘n Hoër Hand wees.

Ek besef ook dat ek ‘n helse job het wat vir my wag…

 

“Bloed op Hande”

Ek kan nie jou naam onthou nie.

Nie eers jou gesig nie.

Al wat ek kan onthou.

Is hoe jy my laat voel het. 

Veral die rare oomblike.

Toe jy my toegelaat het.

Om deur jou arrogansie,

aan jou brose siel te raak.

Of was dit eerder myne? 

‘n Geknakte ego? 

Joune?

Myne?

Dit moes jou siel gewees het.

Wil ek graag glo.

Jy was op jou persoonlike hoogste.

Het kontak met realiteit verloor.

Jy het my geraak. 

By my gepleit.

Om te kan bly. 

Ek het probeer verduidelik.

Sonder impak.

Ek het nie die aansoek gedoen nie. 

(Ek was nie verantwoordelik nie!)

Jy het geskree.

Ek haat jou. 

Ek wou huil.

Het net koud professioneel ander pad gekyk. 

Jy was rou, en histeries. 

Ek was verlig, en veilig. 

Weg is jy!

Ek het jou gesien.

‘n Paar dae later.

Soos die duiwel dit wou hê.

Ek het nooit gegaan,

na waar jy tóé was. 

Dit was nooit nodig nie.  

Jy het my probeer ignoreer.

En omdat jy moes,

my oomblikke later ‘n vuil kyk gegee. 

Voor ek huiwerig kon nader stap,

het jy jou vuis deur die ruit gemoker. 

Jou hand, jou talentvolle kunssinige strykers hand!

O God!

Byna vermorsel deur jou eie waansin,

en gebrek aan grense. 

Of was dit myne?

Net daar verseker jy vir jouself nog twee weke ekstra.

In Groen Dakkies. 

Ek het jou nie weer gesien nie. 

Tot maande, miskien jare, later.

Toe jy weer opgeneem is. 

‘n Insinking. 

Soos verwag.

Dié keer is jy laag.

Laag en onderdanig.

‘n Skrille kontras. 

Hierdie keer is jy sagter.

Ek voel nog dieselfde.

Jy kry pille wat jou bietjie kan styf maak.

Verduidelik ek, met deernis.

Roep my onmiddelik.

As jy vreemd voel. 

Jy het dit gedoen.

Te lank gewag.

Ek kry jou.

Jou lyf stokstyf met ‘n nek in spasma. 

Jy giggel angstig.

Hoekom het jy nie vroeër geroep nie?

Ek, gemaak kwaai, bekommerd.

Spuit die (ver)(op)lossing saggies in.

Dadelike slap. 

Jy was nie hier nie.

Sonder verwyt. 

Jy kon iemand anders geroep het.

Ek half histeries, vol skuld. 

Nee, ek wou net vir jou hê.
Dit was meer as ‘n dekade terug!

Ek wonder vandag.

Waar is jy?  

Lewe jy?

Of was die vervlegde grense en geskroeide lyne uiteindelik ook jou einde?

Delene se pro pic

Geneem deur Robert Hamblin

 

 

Kyk uit vir dié foto…

waar dit is,

staan ek op my seepkissie,

reg om ietsie te sê …

“Ek kan maar doodgaan…”

Vir die rekord – dit is WINTER!

Met dik klere in drie lae, twee fleecy kombersies styf om my lyf, en die verwarmer ‘n half meter links van my, voel dit steeds of my pype se murg gevries is.

Dit is glo 15 grade daar buite.

Dit is 1 Junie 2011.

Ek lees vanoggend van die vyf goed waaroor mense spyt is op hul doodsbed, gedeel deur Bonnie Ware, wat glo lank in ‘n hospice gewerk het. Vir my was dit ‘n barometer van my lewe – presies soos dit vandag is.

 1. Ek wens ek het die moed gehad om ‘n lewe te leef, eg aan myself, nie ‘n lewe wat ander van my verwag het nie.

Dit is glo die grootste spyt. Is dit nie hartseer dat die meeste mense eers op hul einde besef hulle het nog soveel onvervulde drome nie? 

‘n Paar jaar terug het ek besef dat ek presies weet wat ek nié in die lewe wil hê nie, eerder as om te weet wat ek graag wóú hê. Dit was vir my ‘n keer punt. Ek het besef dat ek net ‘n lewensdroom kan uitleef, as ek weet wat ek wil hê uit die lewe. En dis wat ek besluit het:

Ek wil in oorvloed en dankbaarheid leef.

Ek wil my eie waarheid leef.

Ek wil naby aan God leef.

Ek wil meer intuitief leef.

Ek wil dramavry leef.

Ek wil met grense leef.

Ek wil my eie unieke self wees.

Ek wil gelukkig wees.

Ek wil geliefd wees.

Ek wil lief wees.

Ek wil meer doen en minder dink.

Ek wil myself omring met opregte en positiewe mense en dinge.

Ek wil ‘n rotsvas intieme verhouding hê.

Ek wil my passie uitleef en vir soveel moontlik mense leer van menslike seksualiteit.

Ek wil praat oor dié dinge waaroor mense nié wil praat nie.

Ek wil gee sonder verwagting.

Ek wil my eie werksure kies.

Ek wil nee sê wanneer ek so voel.

Ek wil mense se lewens raak.

Ek wil ‘n boek skryf.

Ek wil famous wees.

Ek wil kreatief wees.

Ek wil meer lag as huil.

Ek wil oorsee travel.

Ek wil lig leef.

Ek wil Lig wees.

 

Vandag is dit my realiteit.

 

Ek kan maar doodgaan…

 

2. Ek wens ek het nie so hard gewerk nie.

 Meeste mense wat ek ken werk hulle gatte af. Dit meestal vir ‘n “goeie” inkomste, ‘n “goeie” adres en kar, ‘n “goeie” en gemaklike lewe. Of om ‘n “goeie” lewe vir hul kinders te verseker. Ek weet baie min van hulle is regtig happy. En hulle kinders ook nie!

Ek glo, ek glo net vreemd, sê ek nou die dag vir my sussie. Behalwe vir my anderse geloofsoortuigings,  glo ek ook nie aan die tradisionele konsep van aftrede nie. Ek glo nie aan die betaal van duisende rande se polisse vir die lewe na die laaste werksdag nie. Ek glo as mens jou passie, jou lewensdoel uitleef, hoef jy nooit “af te tree” nie. Ek wil doen wat ek nou doen tot ek in vreugde en vrede dood neerslaan. In elk geval wil ek nóú die wêreld vol travel, terwyl ek nog sonder ‘n stok in die hand by ‘n koppie op en ‘n ruïne af, kan stap. Ek wil lewe vir vandag. Ja, ek het ‘n paar polisse vir my ou dag, maar nie genoeg nie sê die wat glo weet.

Maar, ek het genoeg geld om elke jaar oorsee te travel. Ek werk ook nie my gat af nie.

Ek is happy. Dit is my realiteit.

 

Ek kan maar doodgaan…

 

3. Ek wens ek het die moed om my gevoelens te deel.

Meeste mense bly glo stil om die vrede te bewaar. Ek kon dit nog nooit verstaan nie? Hoe kan daar vrede wees as daar ‘n oorlog binne ‘n persoon broei?  Daai oorlog woed homself wel later uit, en dikwels nie deur gesprekvoering nie. Nee, mense se lywe kak af, want daai anger en resentment word erge lyfpyne, selfs kanker.

Meeste mense deel in elk geval wat hulle dink, nie wat hulle voel nie…

Ja, ek probeer diplomaties wees wanneer ek oor moeilike dinge praat. Ek is darem ‘n Weegskaal. Of so dink ek. Lifi sal sê dat ek soms geen takt het nie.

Maar ons práát. Oor dit wat saak maak.

En julle weet ek praat graag oor dit waaroor mense nié graag praat nie. Oor dit wat seer maak.

Ek blog.

Dit is vandag my realiteit. 

 

Ek kan maar doodgaan…

 

4. Ek wens ek het in kontak gebly met my vriende

 Ek dink nie hulle het bedoel deur Facebook nie…

Gereeld sien ek myself op my doodsbed. Ja, ek weet dit klink so bietjie weird…

Anyway, in my prentjie, lyk ek happy. Om my bed sit my geliefdes en ons gesels en lag lekker. Soms voel ek moeg en lees iemand net vir my. Ek is nooit alleen nie. Selfs van my vriende diep uit my verlede kom kuier. Daar is altyd iemand. As die een loop kom sit die ander, bring vir my ‘n koppie vanilla chai tee, of Lindt tjoklits, of ‘n lekker koppie sop, vryf my moeg en seer bene. Niemand sit net vir ‘n paar minute en staan dan skielik verleë op nie. Hulle sit vir ure, maar dit voel nie so nie.

Ons celebrate die lewe, my lewe, ons lewens.

Niemand is sad nie.

Vandag is dit ook my realiteit.

 

Ek kan maar doodgaan…

 

 5. Ek wens ek het myself toegelaat om gelukkiger te wees

 Dit is glo ‘n baie algemene ene. Glo het baie op hul doodsbed nie besef dat geluk ‘n keuse is nie! Daar is twee keuses in my lewe waarop ek erg trots is, wat my geluk direk beinvloed.

Die een was om op te hou rook.

Die ander was dat ek besluit het om weg te breek van dogma, die begeerte om “soos ander” te wees, te dink, te glo, om so ‘n spiritueel verantwoordelike mens te word. Dis toe ek besef het dat as ek van ander verwag om my happy te maak, kan ek maar weet dat hulle my ook gaan seermaak. Die twee loop hand aan hand.

NIEMAND is verantwoordelik vir my geluk nie! Daarom kan ek vir niemand kwaad wees as dinge nie uitwerk soos ek dit wou hê nie. Vandag weet ek, as iemand my ontsel, my lewe bietjie skud, gaan kyk ek na my oorspronklike verwagtinge van die persoon. 100% van die tyd was die verwagting, hoewel onbewustelik, dat die ander persoon my lewe vir my sou “beter” of “makliker” maak, of dan, my geluk sou onderhou en of bevestig.

My geluk is niemand se plig nie, nie eers die een met wie ek getrou het nie. Ek verwag niks van haar nie, ek glo net dat ons saam verantwoordelik is vir ons verhouding se geluk en groei. Al ken sy my al ‘n paar jaar, weet sy steeds nie wat in my kop aangaan nie. Ek het geen reg om van haar te verwag om ‘n gedagteleser te wees nie. Dit is nie hoekom sy in my lewe is nie!

Dit klink hard, in praktyk is dit nie so erg nie. Die liefde groei daar waar dit nie beperk word deur verwagtinge (reëls) en verwyte (bokbek) nie.

Dit is nie altyd so maklik nie. Ek weet.

Dit kos daaglikse bewustheid. Dit is my realiteit.

En steeds…

 

Ek kan maar doodgaan…