“Radio Stasie Afrika”

Ek skryf min die laaste tyd, want ek is só lekker besig. Ek het al voorheen gesê hoe ek my werk geniet, en ek wil dit weer sê. Ek is rêrig mal oor wat ek doen en ek voel so blessed, maar dit het my amper 20 jaar gevat om by dié punt te kom!

So ‘n paar jaar terug het ek tot die besef gekom dat ek dit meer en meer geniet om met mense te gesels, oor dié dinge waaroor mense nie kan of wil praat nie. Daar het ‘n natuurlike behoefte ontstaan, van die hoofstroom, om andersheid beter verstaan. Ek het saam met Jay begin opleiding doen, later meer formeel in die vorm van ‘n toegewyde program. ‘n Baie suksesvolle een-dag sensitization training model is net so natuurlik gebore. Ek glo God het toe al geweet hoe ek spesifiek daardie gedeelte van my werk geniet het. Ek het vir God gevra, dat as dit is wat ek moet doen, Hy my moet lei en deure vir my oopmaak.

En het die deure nie vir my oopgemaak nie?!

Een van die mees betekenisvolle gebeuretenisse, een van die baie oop deure, wat my vermoede van my lewensdoel weereens bevestig het, was in Februarie 2010. Ek is uitgenooi om as deel van ‘n Afrika delegasie, gefokus op seksuele minderheidsgroepe, ‘n seksualiteits konferensie in Addis Abeba, Etiopië se hoofstad, by te woon. Nou, die feit dat daar ‘n konferensie oor seksualiteit in ‘n ander Afrika land as Suid Afrika aangebied word, was die eerste huge miracle. Om toe nog in die Hilton Hotel opgesit te word, was die tweede miracle. En weet verseker, enige hotel in Afrika onder ‘n 4 ster gradering, is ‘n lewens bedreigende ervaring. Ek was beïndruk met die befondser.

Daar kom ons die eerste dag by die konferensie aan, gehou in die Verenigde Nasies se hoofkwartier nogal. Ons  minderheidsgroepie het soos wesies rondgestaan, ons was nie geregistreer vir die konferensie nie! Na ‘n halwe dag se gestaar en gewag, was ek nie meer so beïndruk met die befondser nie. Teen middag ete het dinge drasties vererger. Daar was glad nie genoeg kos nie. Hulle het reggemaak vir 500 mense en 1200 het glo opgedaag! Dit was per slot van sake Etiopië, het ek gedink en al die grappies van my jeug opgeroep, soos wat noem mens ‘n barcode in Etiopië? ‘n Familiefoto… Anyway, die res van die konferensie was nie veel beter georganiseerd nie. My sin vir humor het so gou suur geword soos die plat grysbruin gerolde brood wat hulle net so droog, vir die nog suurder massa mense, opgedis het.

Twee dae later vra belangrike mense ek moet hulle vergesel vir aandete in die einste Hilton Hotel. My ego wou nie so ‘n kans laat verbygaan nie. Teen daardie tyd was ek uitgehonger vir vars kos, en het oorwegend slaai verorber, vergesel met een of ander goedkoop wyn.

Ses ure later, in die middel van die louwarm Afrika nag, skiet ek skielik uit ‘n diep slaap regop en begin projektiel braak. En dis nie al nie! Ek kry maagkrampe wat my die een oomblik in ‘n sweetbol verander en die volgende oomblik laat uit pass van die pyn. So het dit deur die nag gegaan – spring op, hardloop toilet toe, weet nie wat eerste nie, gooi op of skyt? Gaan lê uitgeput, raak effe aan die slaap, net om na vyf minute die pynlike skyt-kots episode te herhaal. Tien uur die volgende oggend, nadat ek al my nood voorraad kramp-skyt-kots pille opgebruik het, bel ek hotel ontvangs, effe delirius, dringend opsoek na ‘n mediese dokter. Dié daag toe, twee ure Afrika tyd later, kalm op.

Daar sit ek, kruisbeen in die bed, laaaanklaas so vulnerable, natgesweet, bedremmeld, bedompig, ontwater en ontbloot, voor ‘n onbekende swart man, wat skaars engels kan praat. Hy verstaan dit wel goed, het ek later besef. Teen daardie stadium het ek selfs nie meer die hotel se mini bar se Pepsi, flat geklits, binnegehou nie. Ek was op! Maar saam met die totale op gevoel, gaan gewoonlik ‘n vorm van oorgee, die besef dat ek van die genade van ‘n vreemdeling afhanklik is, en die hoop dat dié man se genade die pyn en ongemak gaan tem.

Dit neem die maer donker tjoklit man presies vyf minute om die diagnose te maak wat ek al 03h00 die oggend gemaak het, Gastroenteritis. My ergste nog! Later hoor ek, “Jy eet NOOIT slaai in Afrika nie!”. Die water waarin hulle dit afspoel is glo vol goggas. Dalk was dit die goedkoop wyn? Gagga, my maag draai sommer weer net aan die gedagte.

Toe ek glo hy’s nou klaar, hy gaan vir my lewensreddende pille voorskryf en sorg dat die hotel drywer na die apteek en terug jaag, vra hy die vraag wat my toe wakker hou vir nog ‘n uur. Hy wou weet wat maak ek in Addis. Met min of geen skanse oor, fisies en emosioneel, en die besef dat ek nie veel kan verloor nie, ek is mos klaar half dood, verduidelik ek vir hom dat ek die seksualiteits konferensie bywoon en lesbians as ‘n minderheid, met hul gesondheids uitdagings, verteenwoordig. En net daar gebeur een van die grootste miracles wat ek nog ooit ervaar het.

Ek kry ‘n ongekende krag, fisies en emosioneel. Inspirasie van ‘n Ander bron. Ek erken aan hom ek is self een, ‘n lesbian. Sy wenkbroue lig. Eers lyk hy soos ‘n ghappie vis, die bekkie gaan oop en toe, maar geen geluid kom uit nie. Hy neem beheer en begin my peper met vrae, uit onkunde, uit fundamentalisme, uit nuuskierigheid. Ek antwoord elke een. Ek ruik nie meer die kots op my pajama hemp nie, ek voel nie meer die krampe nie, ek is nie bang nie (in meer as 60 Afrika lande is homoseksualiteit nog onwettig). Ek praat oor lesbians en HIV en miskonsepsies en stereotipes en heteronormatiwiteit en verkragting en liefde en haat en onverdraagsaamheid en ons is dieselfde en ons het net verskillend lief en en en…

Na ‘n uur staan hy op en oppad uit vertel hy my hoe dankbaar hy is oor al die informasie en my bereidheid om dit so eerlik met hom te deel. Hy sê hy weet nou meer en beter…

Ek glimlag net effe, toe heeltemal kragteloos, heeltemal op, en sê vir hom hy moet tog mooi kyk na Addis se lesbians. Hy smile verleë terug. Daar is ‘n vonkel in sy oog.

Dis hoe ek besef het – DIT ís wat ek moet doen, dit is wat God wil hê ek moet doen, en niks en niemand gaan my kan keer nie!

Luister gerus vanaand om 9 pm, na KAYA FM, waar ek juis oor bogenoemde lesbian issues, ge interview gaan word. Luister op DSTV, www.kayafm.co.za of 95.9 fm.

“Baie Belangrike Brief”

Aan: Delene,

Nie-amptelik wil ons jou net die volgende subtiel inlig. Wees verseker hierdie skrywe is geen ydele dreigement nie. As jy ons nie gaan herken en erken nie, gaan ons jou:

Moeg maak

stil maak

vet maak

siek maak

kwaad maak

hartseer maak

oud maak

‘n maagseer gee

laat ‘ja’ sê wanneer jy ‘nee’ bedoel

laat lieg

gedagtes oorneem

verhoudings versuur

Godverlate laat

en die beste – in die nag kom pla

Met geen (mee)gevoel

Van: Skuld, Skaamte en vennote

“On-ge-skikkk”

Ek stap op die treadmill, 5 km per uur met ‘n effe gradiënt. Ek kyk af, oor die swembad wat aanloklik blou stil lê en wag, na daar waar twee jongerige meisiekinders mekaar met strek oefeninge help. Verrassend anders as die toertjies wat ek al voorheen in die gym beloer het.

My pols is 140 en na 10 minute klim ek half lam af. Vanoggend is ek meer moeg as gewoonlik, weet nie hoekom nie? Stap met jellie bene af na benede, in die rigting van die gewig apparate en die twee blondines.

Bene, ek oefen bene vandag. Ek hou nie van bene oefen nie… Ek gaan sit op die masjien waar ek my altyd gevoelige enkels, agter ‘n dwars paal, met ‘n spons kussing om dankie tog, moet haak en sover moontlik terug druk. Dan stel ek die gewigte op 10 kg, tweede ligste opsie, en lig die kontrepsie met my onderbene op. My enkels protester meer as my bo bene, maar ek hou vol. Sestien, sewentien, agtien, kom aan, negentien, tw-in-tiggg!

Deur die sweet wat oor my gesig spat, sien ek hoe die blondekoppe eers vir my kyk, en toe vir mekaar, en glimlag. Een van daai smiles wat ek, die ontvanger van die projeksie, nie regtig wil weet wat dit beteken nie. Hulle skuif agter die pilaar tussen ons in, deel soetjies iets met mekaar, kyk weer in my rigting, en lag hardop.

Fok julle!             

Ek skuif na ‘n ander sadistiese bene oefen masjien. Ek sien hoe die blondekop tweeling klaar is met hul rek en strek truuks, geen druppel sweet te bespeur nie. Hulle nader die masjiene naby my. Ek gluur hulle aan terwyl ek skuins op ‘n masjien lê, gereed om 20 kg met my bene op te stoot. Hulle kies al die apparate waarop ek nét klaargesweet het. Hulle kyk nie meer vir my nie, te naby, te veel gewigte… lafaards!

Klaar met die oefening. Ek verander die gewigte opsie na 40kg. Gewoonlik los ek dit sommer op dit wat ek gekies het, die volgende ou kan mos weer kies en verander? Almal doen dit anyway.

Ek sit op die laaste masjien vir die dag, amper klaar. Dis ‘n maag oefening. Haak weereens my sensitiewe seer enkels om die dwarspaal. Kies 20 kg, gryp die handles bo my en buig vorentoe. Ek voel hoe my maagspiere uitgedaag word. Lanklaas aandag gegee aan dié deel van my lyf… Soos ek my bolyf telkemale reguit maak en opkyk, sien ek haar, sy sit skuins en stoot, met gebulte are en ‘n blonde koppie wat so half skeef trek, met mag en mening, aan 40 kg yster.

Ek glimlag vir haar.

Willie kom sê hy is klaar en gaan solank vir ons chai tee bestel by die restaurantjie, maar dat ek rustig moet klaar maak. Ek sê ek sien hom nou nou, amper klaar. Sestien, sewentien, ag-tienn, ne-gen-tie-nnn, tw-inn-tiggg! Maagspiere het lekker gewerk!

Ek vee my natgeswete gesig af met my pienk handdoek. Kyk af en verander ongemerk die gewig opsie na 40kg, glimlag, gly van die masjien af en gaan drink ‘n lekker koppie tee.

 

“In Memorium”

Vandag, 3 jaar terug, was die laaste keer wat ek my vriendin sien (oppervlakkig) asemhaal het. Ek kan nie sê dat ek haar lewend gesien het nie, want die laaste keer wat ek dit gesien het, was die Desember, drie maande voor die kanker haar lyf totaal verorber het.

Riani het my huis met my gedeel. Sy was geskei, ek was single en ons het altwee die weermag die einde van 2005 vrywillig, maar stukkend, verlaat. So sou ons saam ‘n konsultasie besigheid, genaamd 2nd Sight Consultancy, begin. Nadat ons vir twee maande in die nuwe jaar altwee langs die swembad, depressief en uitgebrand, in ons pajamas gesit het, en die besigheid nie so lekker gewerk het soos ons gehoop het nie, het ons begin werk, waar ons ookal wou en kon. Sy, die blou oog blondekop aardsengel, en ek, groot pêlle, mekaar se vertrouelinge reeds sedert ons studentejare in die vroeë negentigs.

Na ‘n paar maande, het ons het altwee ons energie herwin en gevoel en geweet ons was tot enigiets in staat, elkeen toe reeds op ‘n intensiewe spirituele journey. Elkeen het ‘n goeie job gekry. En ‘n nuwe partner. Dit het weer goed gegaan.  Dit was maanskyn en rose. “The Secret” was ons realiteit.

In die Augustus van 2006, ja, net na die 11 Augustus, 12h30 ongelooflike moord en dood insident, lê ek vrot van die griep in die bed. My lyf en siel kon ook net soveel vat voordat die lyfpyn en dikkop my tydelik tot stilstand gedwing het. ‘n Vriendin bel, soek dringend vir Riani, haar foon was af en sy het in die Kaap gekuier. Slegte nuus. Sy moet dringend die dokter by wie se praktyk sy werk, bel. Dit lyk nie goed nie. Ek wéét! Ek bars in trane uit, my weerstand is af…

Ek bel vir Jeanine, by wie Riani kuier. Slegte nuus, sê vir haar sy moet haar dokter bel vir die uitslae. Ons wéét!

Daarna volg die hel van saam met iemand bly wat besig is om dood te gaan aan kanker…

Mastektomie. Hospitaal. Dokters. Geld. Pyn. Hartseer. Verwyte. Soetgoed vreet. Ontkenning. Trane. Pille. Skuldgevoelens. Projeksies. Alternatiewe terapie. Magteloos. Geld. Chemoterapie. Ontkenning. Dokters. Hospitale. Afsprake. Pyn. Verwyte. Chemoterapie. Trane. Skuldgevoelens. Kwaad. Ongemak. Verlies. Hartseer. Chemoterapie. Druppels. Magteloos. Soetgoed vreet. Homeopatie. SCIO. Haarverlies. Ontkenning. Engel terapie. Verwyte. Chemoterapie. Lê. Skaamte. Pyn. Hartseer. Verlies. Dokters. Pille. Skuldgevoelens. Kwaad. Pille. Red. Lê. Kaalkop. Projeksies. Lê. Pyn. Chemoterapie. Hospitaal. Pille. Pyn. Projeksies. Lê. Ontkenning. Red. Magteloos.

Ongeskik. Onbeskof. Onsensitief. Ongekunsteld. “Wat weet jy, jy het lewe, jy is gesond?!” x 597 dae…

Ek glo nie meer in die tradisionele konsepte van hemel en hel nie.

Ek was in die gym. By die huis gekom het Jeanine in trane gewag. Ek het gewéét! Die laaste weke het Riani by haar ouers, net so ‘n entjie van my, af gebly. Daar gekom, kry ons haar salig in haar bed. Klaar met dié 36 jare se lewe. Gifappeltjie Geel – die lewer het ‘n paar weke vantevore ook opgepak. Die lewer – die mens se ‘kwaad’ orgaan. Daar was duisende engele om ons. Ek het deur die snot en trane gebid, wetend dat dit maar moeilik is vir ‘n siel om te laat gaan, om geliefdes agter te laat. Haar ego wou in elk geval nooit laat los nie, het nooit vrede gemaak nie. Ek onthou hoe ek haar die vorige week in die hospital besoek het, en sy vir my gesê het sy weet nie wat’s fout nie! Ek wou skree “Jy is besig om dood te gaan, my fok!”

Dié kwaad en ontkenning was ook myne, vir maande, selfs jare, na haar dood.

Kwaad omdat ék die punt van projeksie was.

Kwaad, omdat ek my blou oog blondekop aardsengel kameraad reeds in Augustus 2006 verloor het en baie min daarvan ervaar het tot en met haar dood.  Behalwe haar donker kant, wat my oorweldig het, dit wat haar altyd so geirriteer het in ander – ongeskiktheid, onbeskofgeit, onsensitiwiteit, ongekunsteldheid.

Ontkenning, omdat dit vir my regtig die seerste seer was om my beste vriendin oor ‘n lang uitgerekte tydperk van 597 dae te voel en sien dood gaan, magteloos. Ek het gewéét.

Tot vandag toe.

Aardsengel Riani 29 /09/1971 – 09/04/2008

“So – hoe het twee girls nou eintlik seks?”

Die afgelope 5 jaar maak ek Jan en Anna Alleman-en-vrou bewus van die unieke uitdagings waarmee LGBTI mense gekonfronteer word. Ek doen dit op verskillende platforms. Een tipe intervensie is ‘n baie suksesvolle een dag sensitiserings werkswinkel oor Menslike Seksualiteit. Dit is spesifiek gemik op gesondheidsdiens verskaffers, meestal binne die staatsdiens.

Tydens die werkswinkels, moedig ek en my kollega, liewe Jay, die mense aan om dié vrae te vra wat hulle nog altyd wou vra, maar nooit die geleentheid gehad of gegun is nie. Dit verbaas my steeds wat uitkom as daar vir mense carte blanche gegee word om oor seks en seksualiteit uit te vra en te praat… Selfs al staan die persoon in ‘n beroep waar die algemene verwagting is dat hulle alles moet weet van “die voeltjies-en-bytjies-dinge-van-die-lewe”, is Menslike Seksualiteit ‘n veld wat in die verlede en tot vandag nog, baie min aandag kry  in na-skool kurrikula.  Dan praat ek nie eers van die impak van meeste Afrikaners se Kalvinistiese verledes, gemarineer in skuld en skaamte, nie!

Sonder uitsondering, is die een vraag wat ALTYD gevra word, meestal met ‘n angsbelaaide giggel en oë wat afkyk na ‘n leë gat wat die skaamte moet help insluk  – “so  – hoe het twee girls dan nou eintlik seks?”.

Nou, jare gelede, het die vraag my net eenvoudig tot in my diepste wese geirriteer! Ek het by verskeie geleenthede die onweerstaanbare behoefte gehad om sarkasties iets te skree soos “Het jy geen &$@%*! verbeelding nie?” of “Wie dink jy het al die duisende vibrators gekoop by SEXPO?”, menende dat daar nie naastenby soveel lesbians is soos die getal vibrators wat verkoop is nie.

Maar dit was toe, voor ek nog verstaan het waar die vraag dan nou eintlik vandaan kom…

Die vraag is heel moontlik gebore uit die individu se diep gesetelde geloof in die heteronormatiewe model. Groot woord, maar eenvoudig gestel, lyk die model so:

Die pappa, die mamma, die 2,4 kinders, die hond, die kat en die wit picket fence…

Oor die algemeen, word daar rolle gekoppel, meestal gestereotipeerd, aan elke komponent van die model. Byvoorbeeld, die man sorg en die vrou versorg. Tussen die lakens of op die kombuistafel, is die man meestal die een wat penetreer en die vrou die een wat (soms onderdanig) gepenetreer word. Dus is daar ‘n “top” en ‘n “bottom”, om nou meer bekende gay terme te gebruik.

Daar is ‘n (lewendige) penis en ‘n vagina betrokke.

Dus – twee girls = geen penis = geen seks.  Oningeligtes vind dit baie moeilik om te verstaan dat seks, wat nog te sê van vervullende seks, kan plaasvind sonder ‘n penis. Op hierdie punt moet ek bysê, ek glo die straights wat die vraag so maklik vra, se sekslewe is heel moontlik vreeslik saai…

Graag wil ek verder uitbrei oor die kompleksiteit van heteronormatiwitieit, en ja, selfs meer ingewikkeld is dit as om die woord uit te spreek. Elke mens, maak nie saak van hul seksuele oriëntasie nie, aanvaar aanvanklik die model as die enigste. Tot natuurlik anders oortuig. Daar is nog geen ander erkende model wat dié model uitdaag nie, veral omdat dit die keuse is van die sogenaamde hoofstroom. As gevolg van jare se geloofs fundamentalisme, homofobie, en heteroseksisme, is ‘n selfde geslag paartjie en hul gesinslewe nog nie erken as ‘n nuwe model van keuse nie. Selfde geslag paartjies volg dikwels die heteronormatiewe model om in te pas by die norm, die hoofstroom. Geinternaliseerde homofobie, wanneer die skuld en skaamte van buite, onbewustelik eie gemaak word, speel ook ‘n groot rol.

Behalwe vir die afgelope paar jaar wat gesinne met selfde geslag ouers meer aanvaar word, deur steeds ‘n baie klein persentasie van die samelewing, kom die meeste homoseksuele mense uit ‘n heteronormatiewe huis. Dit is dus in ons lywe en koppe se vesels ingeweef. Ek onthou nog goed hoe ek op twaalf jarige ouderdom op ‘n meisie in my skool verlief geraak het. Ek het nie geweet wat dit beteken nie en het vir lank daaroor gewonder. Alhoewel ek geweet het dat gay mense bestaan, was ek glad nie bewus van wat dit beteken het nie. Dus was die maklikste verduideliking  aan myself dat ek dan ‘n seuntjie moet wees. Ek wou nie ‘n “piepman” hê nie, dus was dit nie ‘n trans issue nie. Ek was vir lank bietjie deurmekaar en bietjie té butch vir baie se smaak.

Ja, so het selfs die terme “butch” en “femme” hul bestaan te danke aan die verwagtinge van dié van ‘n man en ‘n vrou binne ‘n intieme verhouding. Net voor my voorgenome huwelik, en ja, hierdie feminis het ook van ‘n gedeelte van die heteronormatiewe instansie gebruik gemaak, het my lewensmaat se ma gevra wie gaan die man en wie gaan die vrou wees. So al is sy ‘n moderne vrou, wat sonder ‘n probleem haar gay kind al jare terug met liefde aanvaar het, het sy ook na die wêreld gekyk deur die oog van die penis. Ek het haar nie kwalik geneem nie.

Baie huwelikseremonies tussen selfde geslag paartjies lyk maar soos dié van hul heteroseksuele genote. Daar is die verlowing. Die butch vra om die hand van die femme. Daar word selfs ouers gevra. Dan die troue self. Die een in ‘n groot balrok, ingestap op die maat van die troumars, aan die hand van ‘n pa of as die pa weier, ‘n manlike vertroueling, afgegee aan die een wat voor by die preekstoel wag, in ‘n manlike snyerspak. Daarna verwys hulle na mekaar, met trots, as “my vrou”. Iets aan daai tipe verwysing laat my altyd ‘n bietjie dink aan ‘n besitting…

Daar is ook dié paartjies wat hul eie reëls maak. Soos wanneer twee buthches of twee femmes in ‘n verhouding is. Gereeld hoor ek hoe onaanvaarbaar dit is. Nogal van selfde geslag liefhebbers hulself. Weereens, pas hulle, volgens die enges, nie in die voorgeskrewe boksies nie! Mens sal nou dink dat alle homos is meer oopkop, nie waar nie?

En, daar is ook dié heteroseksuele paartjies wat die heteronormatiewe model uit daag. Hulle doen dit deur of nie te trou nie, of nie kinders of diere te hê nie, of om enkellopend te bly, of waar die pa die meer versorgende rol inneem, soos om die huishouding fisies eerder as finansieel aan die gang te hou.

Nou wat gebeur met ‘n selfde geslag paartjie as die heteronormatiewe model slaafs gevolg word? Seker nie veel nie, hang maar af van die twee vrouens se verwagtinge van mekaar. Dit kan wel konflik veroorsaak indien die mag van die penis deur een van die twee geinternaliseer word, soos wanneer die een deur die ander misbruik word omdat sy fisies en / of emosioneel minder sterk is. Of nog erger, wanneer hulle mekáár misbruik. Of as jaloesie die oorhand kry. Hierdie voorbeelde kan natuurlik ook verskeie emosionele oorsake ook hê.

Aan die einde van die dag maak dit nie saak nie! Top of bottom, butch of femme – dit is elkeen se eie keuse en voorkeur. Solank meer en meer mense bewus word dat, as dit nie vir heteronormatiwiteit was nie, dié woorde en hul gepaardgaande stereotipes en vooroordele, nie sou bestaan nie!

En ek? Ek glo ek is vloeibaar. Miskien is ek so gemaklik met vloeibaarheid omdat ek so ‘n passie het vir die verstaan van menslike seksualiteit, met al die verskillende lae, selfs die beperkte binêre en bokse daarbinne. Ek glo die probleem is nie homoseksualiteit nie, maar mense se onvermoë om Menslike Seksualiteit in sy totaliteit beter te verstaan.

Bogenoemde is my eerste skrywe vir my kolom, “Kies jou Tong”, in die nuwe gay girls’ glossy, ALICE, wat gister op die internet ge launch is en gou op die rakke gaan verskyn. Kry dit!

http://issuu.com/alicemagazine/docs/alice_full_s_/1?zoomed=&zoomPercent=&zoomX=&     \zoomY=&noteText=&noteX=&noteY=&viewMode=magazine

“My buddies”

Verlede Donderdag, rustig besig om ‘n verslag te skryf, haak ek skielik vas, sukkel om die regte woorde op die regte plek te kry. Nou, die van julle wat my goed ken, sal weet dat ek nie baie lief is vir verslae skryf en admin oor die algemeen nie. Maar ek besef dat dit nou maar een maal deel is van my werk, dus beur ek voort, vervelig, stadig, maar ek doen dit, hopelik betyds klaar voor die d-date.

Soms as ek ‘n kreatiewe blok ervaar, gaan lê ek vir ‘n paar minute op die bank, ja, die ene langs my lessenaar. Dit help. Maar verlede Donderdag het ek onrustig gebly, kon net nie ontspan nie. En net daar, besluit ek om weer by die gym te gaan aansluit. Ek wou reeds twee maande terug aansluit, maar het steeds skuldig gevoel oor my swak gym track record en die duisende rande wat ek nie uitgesweet het nie. Lifi maak toe ‘n goeie voorstel. “Hoekom stap jy nie vir twee maande aanmekaar nie, dan sal jy mos weet of jy die motivering gaan hê om weer meer gereeld te gaan gym?” So het ek en Willie 60km gestap die afgelope 2 maande en net een dag, behalwe vir die dae wat ons werksverpligtinge gehad het en ek uitstedig was, nie gaan stap nie. Daai dag het dit net te lekker gereën.

3pm stap ek arrogant by die gym se ronde swaai deur in. Verbeel ek my, of draai die ding bietjie vinnig? Dis seker op fiks mense gemik? Ek voel bietjie windverwaaid. Die plek is mos niks nuuts vir my nie! Ek het net twee jaar bietjie gerus. “Het jy ‘n afspraak?” vra die ontvangspersoon verveeld. Dink seker ‘ag fok tog, nog ‘n hopeless dikke…’ Van wanneer af het mens ‘n afspraak nodig om by ‘n gym aan te sluit, veral as dit die sewende of agste keer is? Siphiso kom aangestap, sy gesig uitdrukkingloos, half afgestomp. Ek dink ek het hom gepla in die middel van sy middagslapie. Hy voltooi die dokumente op die rekenaar, neem weer ‘n foto, ek kyk half op, probeer vir die soveelste keer my dubbelken kammofleer, en vir die soveelste keer werk dit nie.

20 minute en baie geld later is ek wéér lid van ‘n gimnasium met baie rooi dekor. Oppad uit stop ‘n ene maargat Lesego my. Hy stel voor ek doen ‘n basis evaluering, op so ‘n gedrog van ‘n masjien, net regs van die ingang. Vat glo net 10 minute. Ek stem onwillekeurig, maar steeds arrogant, in.  Dié slim masjien neem jou gewig, vetpersentasie en bloeddruk. Teen die tyd wat dit my bloeddruk neem, is die sistoliese (boonste) meting 145. Bietjie hoog , murmureer Lesego.  Dit was van die skok van die weeg, wil ek skree, dié gedrog weeg 2kg meer as die wit skuldskenker onder stof onder my bed. Ek het reeds gecope met die 111kg amper twee maande terug, nou moet ek wéér. Ek het toé al gesê nooit weer nie. Ek was seker arrogant. Maar ek dink dit wat my bloeddruk nou eintlik die hoogte in gejaag het, was die feit dat die gedrog nié my vetpersentasie kon meet nie, want my bo-arm was te GROOT vir die masjien!! Ai, die vernedering van ‘n vet mens…

Ek stap sleepvoet agter Lesego aan, hy gaan vir my ‘n eet- en oefenplan uit druk. Ek gaan sit op nog ‘n ongemaklike rooi bank en maak gereed om vir nog 10 minute te wag. Ek is nie meer so arrogant nie. Op die rekenaar skerm is nog ‘n klomp vrae. Hy begin, “so hoekom het jy die gym gejoin?” Terwyl ek die antwoord probeer formuleer in my kop, sal hy nie ongeduldig vir my sê “Is dit om gewig te verloor?” Ek het mos nou al vir julle vertel hoe ek voel oor die woord ‘verloor’, nie waar nie? Maar Lesego het nog nie my relaas gehoor nie! So vertel ek hom vir die volgende paar minute, dat dit verseker die pynlikste woord is om te gebruik in enige taal, dat dit een van die groot redes is hoekom dié (dis nou die gym) en die dieët industrie nét ‘n 2% sukses rate het. Ek eindig af deur hom uitdagend te vra of hy daarvan hou om tweede te kom, nee, besluit ek namens hom, geen mens hou van tweede kom nie, dis VERLOOR, dis nie wén nie! Bla-bla-bla-bla….

Verveeld, maar effe meer helder en in die oomblik, sê hy dankie vir die informasie, maar ek sal nog steeds die vorm moet voltooi. Skuif, sê ek vir hom, ek sal self besluit wat my redes is en die vorm sélf voltooi. Ek het verder iets gemompel van julle wat vir vet mense besluit wat hulle in ‘n gym kom doen, my fok! Ek is daar uit nadat ek vir Lesego belowe het ek sal NIE die planne gebruik nie, dankie. Hy het verlig gelyk…

Ek het “algemene gesondheid en welstand verbetering” gekies. Ek hou meer van daai woorde, dis sit gemakliker aan my lyf.

Sedert Donderdag was ek reeds twee maal in die gym, beide kere saam met ‘n “buddy”. Net soos ek ‘n buddy nodig het om te gaan stap elke oggend, so het ek ‘n buddy nodig om saam mee te gaan gym. Dit werk vir my en ek is dankbaar vir my beste buddies, Willie en Marna, wat bereid is om dié journey wéér saam met my te stap / sweet.

Die journey van my,

soveel minder pynlik

met ‘n goeie buddy naby

en / of aan my sy…

“MSM”

Nadat ek in Augustus 2006 die VCT Kliniek op die been gekry het vir OUT, was die volgende stap om die LGBT gemeenskap bewus te maak daarvan sodat hulle in hul massas kon kom en toets vir HIV. Die direkteur kom toe met die bright plan vir my om ‘n seks klub te nader en so potensiële kliënte te werf.

Dit het beteken dat ek ‘n besoek moes aflê aan die klub, ‘n verhouding moes bou met die eienaars en personeel, en ‘n beraming moes doen wat die mees toepaslike intervensie sou bepaal. So maak ek die afspraak. Dit moes voor 12h00 in die middag wees, voor die deure oopmaak vir besigheid. Op die betrokke dag, net so na 11h00, ontmoet ek toe die een eienaar en klub bestuurder voor die dik staal deur met baie slotte en ‘n kamera wat vir my loer uit die linkerkantse boonste hoek, in ‘n baie gegoede buurt van Pretoria. Die eienaar vertel dat na die polisie klopjag ‘n paar maande van te vore, hulle maar versigtig is en die sekuriteit summier opgeskerp het. Hoe ironies.

Die laaste natuurlike lig verdwyn toe die swaar staal deur agter ons toeslaan. Onmiddelik voel ek ‘n beklemming, al ly ek nie aan engtevrees nie.  Ek is half opgewonde. Ek wil-wil skuldig voel daaroor. Dis nie myne nie, dink ek. Daar waar ek gestaan het, het al duisende gestaan, in groot afwagting. Dis nie myne nie… Ek staan so half ongemaklik rond en probeer om als om my te observeer sonder om te staar. Dis nie maklik nie. Ek wou staar. “Mans kom hierheen om seks te hê met ander mans”, dink ek. Aan my regterkant  is die badkamer. Oral teen die mure is prente van kaal en half kaal mans, sommiges duidelik al baie jare deel van die klub se binnenshuise versiering. Dit het al hul glans verloor maar die impak op die eerste besoeker is steeds asemrowend, en ek bedoel dit nie in ‘n positiewe lig nie. Ek het heel moontlik op daai oomblik onbewustelik, maar angstig, besef ek het ekstra suurstof nodig, veral vir wat vir my sou wag. Hierdie was nog nét die ingangsportaal…. Ek voel die leegheid. Ek voel die gat. Dis nie myne nie.

Professioneel maak ek effe keel skoon, en sêvra beleef om op ‘n toer deur die donker doolhof geneem te word.  Ek het my nie verbeel nie, die eienaar het trots die voortou geneem. Eerste die kroeg. Ek kan dit nie stop nie, maar sien in my geestesoog mans op die kroegstoeltjies met hul kaal gatte sit. Die gaste van die klub handig glo hul klere reeds by die ingang in. Heimlik hoop ek dat hulle almal ‘n goeie selfbeeld het. Darem is dit baie donker… Maar ek weet, donkerte steek net dit weg wat jy kan sien, nie dit wat jy kan voel nie…

Ons loop verder deur die effe verligte genotgrot. Ek merk die onwillekeurige strepe teen die doolhog se afskortings, wat pikswart geverf is, op.  Die bewys van manlike ekstase wat blindelings die lug in geskiet is. “Kan jy glo ek het ses weke terug geverf en kyk hoe lyk dit al weer” sê die eienaar met halwe afkeer. Die volgende vertrek het ‘n oorgroot pikswart boksbed in, met ‘n dun matras, oorgetrek met swart plastiek, losserig daarop. Daar is ook ‘n groot TV hoog teen die muur gemonteer. “Hier kyk hulle pornmovies en het groepseks” sê die bestuurder. So gedink ja, maar wil dit nie imagine nie!

Oral is houers met kondome teen die plywood mure gemonteer. Voor ek kon beïndruk wees, sien ek die bottels vol wit Aqueous room, soos daai plastiekbottels vol mosterd, tamatiesous en asyn wat mens in ‘n onooglike Take Away wat na ou chips olie ruik, kry, wat hier en daar rondstaan. Behalwe dat die bottels grillerig vuil is aan die buitekant, die gedagte laat my maag nou nog draai, probeer ek aan die mense verduidelik dat dié vorm van lubrikeermiddel om penetratiewe seks te vergemaklik, dodelik is vir ‘n kondoom. Omdat dit ‘n oliebasis het, en soos wanneer enige middel wat olie in het, gebruik word as lubrikeermiddel, kan dit veroorsaak dat die kondoom binne sekondes skeur. My gesigsuitdrukking verander onmiddelik in ‘n vraagteken. Die eienaar verduidelik toe, half arrogant, dat lube met ‘n waterbasis, heeltemal te duur is. En ek wonder net daar wat doen hy vir ‘n corporate responsibility projek…

Soos ons aanstap, sien ek ‘n ouerige vrou wat die gebruikte kondome op die vloer by mekaar vee. Ek is bly om te sien dat die uitgestalde kondome wel gebruik word, maar terselfdertyd ontseld omdat dit ‘n vrou se job geword het om dit op te tel. Ek haal oppervlakkig asem en voel lighoofdig.

Om die volgende drie hoeke en draaie, in die volgende vertrek, sien ek die stuk rubber wat aan drie of vier kettings, uit die dak hang. Dit word ‘n swing genoem, soos ‘n swaai, en ek wonder hoeveel mans het al baldadig plesier ervaar op die ongemaklike sekskontrêpsie.

Twee draaie verder, in nog ‘n donker hoekie, is ‘n ondersoek bed, soos dié wat jy in ‘n kliniek of dokter se ondersoek kamer sal sien. Daar is ‘n TV teen die dak gemonteer wat op daardie oomblik ‘n blou movie speel. Dis te vroeg in die dag om só iets te aanskou, dink ek, en kyk weer af na die bed. Hier speel hulle seker dokter-dokter… Dit kos inspanning om nie weer op te kyk nie.

Net voor 12h00 is ek half naar en heeltemal lighoofdig daar weg om ‘n plan te gaan maak. Ek laat ontwerp ‘n besigheidskaartjie grootte kaartjie, met die kliniek se besonderhede, om dan later, saam met ekstra lube, by die ingangsportaal uit te stal. Twee weke later gaan ek hoopvol terug om te tel hoeveel kaartjies is geneem.

Net 2!

Voor ek ontsteld raak, vra ek die klub bestuurder hoeveel mans besoek die klub in ‘n week, miskien was die besigheid stil…? “Om my ‘n idee te gee”, sê hy, “vanaf ‘n Vrydag middag 12h00, tot ‘n Sondag aand, so 300!”

O! my liewe aarde!

“En, verduidelik hy verder, van daardie 300 is ten minste ‘n 100 straight, soos in getroud of in vaste verhoudings met vrouens.” Ek besef net daar hulle gaan verseker nie ‘n kaartjie neem wat vroulief moontlik later kan vind as sy die denim se sakke leegmaak voor die was nie!

En daar leer ek vir die eerste keer van MSM! Mans wat seks het met mans. En dat dié mans enige seksuele orientasie kan hê, homoseksueel, biseksueel én heteroseksueel. Voor daardie dag het ek gedink dat mans wat seks het met mans, net almal gay is, sommige is nog net in die kas, dus getroud met kinders of het girlfriends ens. Ek het toe ook die kardinale fout gemaak deur te dink dat ‘n seksuele oriëntasie en ‘n seksuele praktyk, soos anale seks, een en dieselfde is. Vandag weet ek, wat ons met ons lywe doen om seksuele plesier te ervaar, en vir wie ons lief is en met wie ons ‘n lewe wil bou, twee verskillende konsepte is. Daar kan wel raakpunte wees.

Vandag weet ek dat 25% van gay mans nié anale seks beoefen nie. Vandag weet ek, dat die vinnig groeiendste seksuele praktyk, “pegging” is. Dit is wanneer ‘n vroulike maat haar manlike maat anaal penetreer. Dan ook, bleikbaar is pornografie bra vervelig sonder dat die vroulike karakters nie verskeie male anaal gepenetreer word nie. Vandag weet ek, dat jong seksuele aktiewe meisies verkies om anaal gepenetreer te word, want dan bly hul maagdelikheid in takt en hulle kan nie swanger word nie.

Anale seks word al vir soveel jare, verkeerdelik, net  aan gay mans gekoppel. Vandag weet ek, dit is nie waar nie. ‘n Seksuele oriëntasie (bv homoseksualiteit), per definisie, beteken tot wie ‘n persoon aangetrokke voel, op meer as een vlak, nie net seksueel nie, alhoewel dit die seks van die ander persoon is wat die hoofpunt van die aangetrokkenheid is. In kort, dit is die persoon saam met wie jy ‘n lewe wil bou (as jy toegelaat word). Aan die ander kant is ‘n seksuele praktyk, in kort, hoe lank dit ‘n persoon vat om ‘n orgasme te bereik!

Mense het seks vir verskeie redes. Ja ook mans, ook straight mans. Elke mens ervaar seksuele plesier op  verskillende maniere. Ek kan net dink hoeveel konflik dit in ‘n heteronormatiewe huwelik kan veroorsaak as pappa vir mamma vra om hom van agter af te plesier, nogal met háár vibrator of ‘n lekker koue wortel…

Maar mans het ook mos ‘n “lekker plekkie”, soos ‘n vrou se G-Kol. Dis net jammer dat skuld en skaamte veroorsaak dat baie mans dit nie op ‘n gesonde manier kan verken nie.

Of hulle betaal R50,00 en besoek ‘n MSM seksklub oor middagete…

Let wel: Ek weet party van julle wil hê die storie moet ‘n April Gekke Grap wees, maar helaas, dit is nie…