“Stadig”

Ek is stadig vandag. Ja, ek het lanklaas geblog, julle dink seker ek is al vir 3 weke lank stadig…

Ek het stadig opgestaan, stadig tandgeborsel en sweetpak aangetrek, nog half gevrek in buurman se kar geklim, gym toe. En moegverveeld vertel van ‘n frustrerend Saterdag ervaring. Selfs op die treadmill kon ek nie lekker bykom nie. Laasweek se buite-aksie-weens-‘n-bedonnerde-sinusitis het my energie vlakke heeltemal gezap. Ek sukkel nou nog om van die stof uit elke holtetjie in my kop ontslae te raak.

Terug van die gym af – steeds stadig. Ek sou nou kon dink dat die bietjie oefening energie sou genereer. Nee, steeds half paralatic klim ek stadig in die stort. Die water spuit stadiger as gewoonlik oor my lyf, of so voel dit. Ek skrop myself – stadig, droog af – stadiger.

Dit was nou als al ‘n uur en half terug, en nou sit ek hier voor my rekenaar. Ek weet nie wat ek gedoen het in dié tyd nie, behalwe tee en toast gemaak – stadig.

Miskien weet my lyf en siel iets, soos dat dit vandag ‘n blou-pms-maandag kan word. So dis maar beter om stadig te wees. Ek is darem nie meer so heeltemal gevrek soos vroeër vanoggend nie, ek skryf al ietsie, al is dit ook maar ‘n stadige affêre.

Ek dink ek het soos ‘n speedbike gejaag die afgelope 3 weke, en nou is die petrol op. Ag wat, dis nou ook ‘n kakkerige metafoor… My lewe was vol, maar geseënd, so om te kla sal arrogant wees. Ek het baie geskryf, so 180 bladsye, maar ongelukkig nie aan ‘n boek van my keuse nie. ‘n Groot job vir ‘n groot NGO, wat ek aanvanklik gedink het my groot betaal, tot ek besef het hoeveel ure, en ek bedoel dae en dae se ure, ek daarin sou belê. Ek dink dis die adrenalien rush van die magtige spoed waarmee ek die projek probeer afhandel het, wat my tot vandag se gevrekte staat geforseer het.
Ag wat, laat ek nou ophou spekuleer oor my spoed vir die dag, en aanvaar dat ek vandag stadig gaan wees en heel moontlik nie so produktief soos my ego graag wil hê nie. Aanvaar… Eintlik moet ek ‘n stadige dag waardeer, siende dat dié oujaar sy gat gaan sien oor 4 maande!

James Blunt het ongelooflike energie, veral vir ‘n ou wat eintlik “slow and mellow songs” sing. Sy konsert Vrydagaand was verfrissend. Ek wens ek kon net bietjie kry van dít wat hy in 90 minute voluit regkry. En hy en sy talent is net eenvoudig sexy!

So tussen die geroesemoes word ek ook my eie show by Centurion Teater aangebied… Die ongeloof en hoë dosisse kortisoon en efidrien het my hipomanies gelaat vir 3 dae en 2 nagte. Sonder slaap, met ‘n kop vol snot en idees, het my one-woman-interactive show begin vorm kry, meestal in die vroeg vroeg oggend ure.

Hoe dit presies gaan lyk, werk ek nog aan, so saam met God en die Universe. Maar die naam gaan heel moontlik ‘Pandora se Doos’ wees. Nou dat ek so bietjie navorsing doen oor die tong-in-die-kies naam, vind ek wonderlike dinge uit van vele Pandoras en hul dose. Alhoewel nuuskierige Pandora die eerste vrou in die Griekse mitologie is, en haar doos eintlik ‘n kleikruik was, is daar ‘n veel interessanter Pandora in die afrikaanse geskiedenis. Siener van Rensburg se kleindogter. Pandora van Rensburg was Suid Afrika se eerste burlesque danseres. Sy het met haar klein dansgroepie die voorste boere linies gaan entertain, so terwyl hulle teen die Kakies en afrika stof baklei het. Sy was so suksesvol dat die skinderstories eilande soos St Helena, Bermuda en Ceylon ingesluit het. Die pienk motor vir plaaslike travels was glo nie net ‘n rumor nie… So het ‘n kitaarboks vol volstruisvere saam met haar getoer. Dié boks het as Pandora se Doos bekend geword.

Pandora se Boere Burlesque was meer as net halfkaal meisies wat hul lywe wellustig op ‘n verhoog skuur op die maat van musiek. Dit was ryk aan komedie en musiek wat haar gehoor laat skaterlag het. Nou dink nou mooi, in daai tyd van Oom Paul – sexy dun geklede vrouens, as seksuele aggressors, gekombineer met parmantige komedie, geskryf en uitgevoer deur ‘n vrou – ondenkbaar! Tog het die boere kommando’s in hul massas opgeruk om die ‘warm’ opvoerings te sien. So groot was die behoefte aan kaartjies, dat sy vir president Kruger en sy generaals ‘n spesiale optrede moes doen, in die stalle agter sy huis in Pretoria.

Maar ironies genoeg, was Pandora van Rensburg se grootste legacy, die groot skuif in gender representation wat sy veroorsaak het, wat glo vir altyd die rol van die vrou op die Suid Afrikaanse verhoog verander het. Die prentjie van ‘n vroulike lyf, nie weggesteek agter die samelewing se ‘aanvaarde norms van fatsoenlikheid’ nie, met kragtige maar speelse spel, het die kollig geplaas op die vraag van die vrou en haar ‘plek’ in die samelewing.

Ek like vir Pandora van Rensburg – en haar doos vol vere….. En dan het ek nog nie eers van kwaai Zeus se nuuskierige Pandora vertel nie – en haar skuldgevoelens – en die hoop… Ek like haar ook…

Dus sal Delene se one-woman-show, Pandora se Doos, heet. En deur my vertellinge die aand, als oor Seksualiteit en al die S-woorde wat daarmee gepaard gaan, gaan die gehoor die geleentheid kry om hul wou-nog-altyd-weet vragie anoniem in Pandora se Doos te pos, en ek gaan dit antwoord… Of probeer – ek weet ook nie als nie… En ons gaan lag dat die trane loop… en bietjie meer van onsself en ander leer, al maak Pandora se sêgoed soms seer…

So – klim uit julle kaste – en in julle massas – kom deel in die excitement van Pandora se Doos, Donderdag 10 November 2011, 19h00 – Centurion Teater – R120,00 per persoon. SLEGS VOLWASSENES! Kom drink ‘n glasie wyn en eet van Willie se lekker kos by on Stage Restaurant.

Skielik voel ek nie meer so stadig nie… al is dit nou net 12h00…

“My liefde vir vroumense”

En dit het niks met my seksuele oriëntasie te doen nie. Of dalk iets, maar net bietjie. Omtrent alles wat ek in die lewe geleer het, is deur die toedoen van ‘n vrou.
Jare se terapie – agv ‘n vrou.
My grootste trane – oor ‘n vrou.
Die meeste gelag – saam met ‘n vrou.
My laat dink – meestal ‘n vrou.
My werk – oorwegend vir en met ‘n vrou.

Gister was Vrouedag hier in Suid Afrika. Vir my ‘n luilekker skryf dag. Net begin blog, toe stoot ‘n krisis my uit my skryfstoel. Die krisis? Dié van ‘n geliefde – ‘n vrou.

Ek het vandag, 6 maande gelede begin blog. Uit dankbaarheid vir my eie lewensveranderende journey, en respek vir al die rolspelers, wil ek vandag se skrywe opdra aan die vrouens wat my lewe raak. Ons is hier op aarde om by mekaar te leer, veral as die lewe vol ‘tsunamies en onkruid’ is.

Hierdie is vir jou… die een wat

… elke dag vroeg opstaan en haar geliefdes versorg.
… nie waardeer word nie.
… met siekte gekonfronteer word.
… misbruik word.
… leeg voel.
… niks voel.
… oorweldig voel.
… alleen voel.
… moeg en moedeloos is.
… verslaaf is.
… afhanklik is.
… wil doodgaan.
… in ‘n liefdelose verhouding is.
… ander misbruik.
… ver van haar geliefdes is.
… ‘n ma is.
… ‘n enkelma is.
… ‘n ma van tieners is.
… ‘n geliefde verloor het.
… vir ander se regte baklei.
… na ander luister.
… die siekes versorg.
… rigting gee.
… ander se huise skoon maak.
… net ‘n koppie rys oor het.
… koud slaap.
… ‘n skerp tong het.
… nie praat wanneer sy moet nie.
… sukkel om haar gevoelens te verwoord.
… vasgevang is in “wat sal die mense sê?”
… sukkel om haar leed met ander te deel.
… nie kan of wil fokus op die positiewe nie.
… sukkel om te glo.
… insig het.
… swot.
… nie haar lewensdoel uitleef nie.
… vasgevang is in die donkerte van haar eie vreesvolle gedagtes.
… met ‘n groot keuse gekonfronteer word.
… dink die wêreld skuld haar.
… hard is op haarself.
… hard is op ander.
… swaar dra aan haar verlede.
… ‘n wrok koester.
… nie kan of wil vergewe nie.
… nie kan of wil aanvaar nie.
… onbereikbare verwagtinge van haarself en ander het.
… dink sy doen goed en reg, maar kom haarself en ander te na.
… seer maak omdat sy seer is.
… nie weet sy maak seer nie.
… seer maak en dit weet.
… in die kas is omdat sy glo dis donkerder daarbuite.
… nie haar eie of ander se seksualiteit verstaan nie.
… al jare met ‘n geheim saamleef.
… haarself happy lieg.
… bang is vir die ouderdom.
… dink die antwoord lê in ‘n dieët of skalpel.
… bang is vir die spieël.
… dink speel is net vir kinders.
… kan lag.
… kan huil.
… nie weet hoe powerful sy regtig is nie.
… glo sy is in beheer.
… glo sy is nie in beheer nie.
… doen wat sy lief voor is en lief is vir wat sy doen.
… haarself versorg, op alle vlakke.
… ‘n rolmodel is.
… bewus is van haar eie grense.
… ander se grense respekteer.
… God se Lig en Liefde onkondisioneel uitleef.
… lief is vir haarself, net soos sy is.
… lief is vir my, net soos ek is.
… glo.

Mag ons almal vandag Lig en Liefde intens ervaar.