“Flourish”

Love and hate cannot hold hands

bridges are built
guided by the Light

fear of fear
leaves holds and spots

nobody’s out to hurt me
believe in my plan
people need humour

guided by the Light
bridges are built

Love and hate cannot hold hands

Words by Delene van Dyk. Arranged by Toni Stuart

 

Bogenoemde gedig is gebore uit ‘n sessie van “vrye skryfwerk” – intiem gedeel deur ‘n groepie vry vroue, om ‘n tafel,  op ‘n yskoue Maandag in Muizenberg.

“Bo en Onder”

Ek stap uit my huis uit in my tuin in. Vir die eerste keer dié winter kýk ek. Ek vries ook nie onmiddelik nie. Het die Hoëveld Winter die trekpas gegee? Ek wil so hoop. Ja ek sien die grou, maar daar is nou die wete dat dit nie meer lank is voor Lente en haar bloeisels intrek nie.

Toe sien ek dit. Fok, nee!

Toe Herfs kom hallo sê, besluit ons om die vier vrugte boompies, simmetries in ‘n vierkant geplant, eerder elk met ‘n sementring te omarm. Voorheen het ons amper bejaarde Zulu tuinman dit goed gedink om die vierkante rondom elke boompie so met die tyd saam in oneweredige skewe reghoeke te sny. Dié is veral ‘n seer oog wanneer mens van die boonste verdieping af kyk. Dit lyk vaagweg soos my standerd sewe lanbouprojek. My deur grootte aartappelland het letterlik skeef geloop, met ‘n stukkie groen hier en daar.

Ek het probeer verstaan, hy het nie meetkunde gehad nie en geen rede om ‘n perfeksionis te wees nie. Ook het hy nog nooit van die boonste verdieping afgekyk tuin toe nie…
Na ons die sementringe geposisioneer het, het ons die oorblywende oop stukke grond, met emmers bousand, geleen by die nuwe buurman, opgevul. Die idee was dat die gras tot teenaan die ring sal groei, en dus die aanvanklike simmetrie sal herstel. Dit sal meer ooglik wees. Easy peasy.

Nee, toe nou nie vir meneer die tuiningeneur nie.

Steeds, sny hy getrou die (donnerse) randjies. Na week twee kom ek dit agter. Ek gaan tussen die vier boompies staan en probeer na hom deurdring. Hy smile en skud sy kop heen en weer. Ek weet hy verstaan níks nie. Toe buk ek af en op my knieë langs die een boompie pluk ek aan die gras en met ‘n swaai beweging, druk ek teen die sementring vas. Soos hy, skud ek my kop, meer befoeterd, en spoegsê “No cutting, no cutting!” Met ‘n rasperlag bevestig hy, “yes, yes”. Ek is ingenome.

Die afgelope maand het die gras maar sukkel-sukkel gegroei, stadig maar seker. Dis ok, want dis mos winter. Ek het net die bont petunias raak gesien. En wat ‘n veerkragtige plant is dit nie?

Vanoggend het ek verby die petunias gekyk, links, na die vier vrugte boompies, na die vier sementringe en die gras wat sukkelend na die ring toe beur.

En ek sien die bekende gleuwe, skewe reghoeke en ‘n opgefokte landbouprojek.

Beste Pêlle

Hulle het die aandskof gedeel. In ‘n boekwinkel in die Brooklyn Mall. Sy kon goed organize en hy het baie van baie boeke af geweet. Saam was hulle ‘n span. Ek het gereeld gespot , “Sy’s ‘n regte faghag!” Dan het Stef net teruggesteek met “En jy’s ‘n regte bleddie jaloerse fairy, Braam!” Dan lag ons lekker. Ons was ook ‘n span, hy goed met die boeke en ek goed met die koeke. Braam en Stefaan, ‘n rekord van 15 jaar saam, het ons vriende altyd gesingspot.
Ek het lankal vrede gemaak met die Stef-en-Janie-ding. Ons was vriende van studente dae af, lank voor sy en Boer getroud is. Dié man, so groot soos ‘n Springbok voorry, het sy bynaam al op skool gekry. Nie omdat hy ‘n boer was of sou word nie, maar omdat hy so graag ene wou wees maar nie kon word nie.
Boer het van sewe tot drie bekostigbare kombuiskaste vir mense ingesit en van driedertig tot sewe en oor naweke in ‘n kwekery in Centurion gewerk. Hy het elke aand laat by die huis gekom, en moeg, maar vergenoegd. Hy het so mooi vir sy blou-oog-blonde-engel gesorg.
Ek het dikwels by Boer gekuier wanneer ons partners laat gewerk het. Janie, soos Stef, het vyf maal per week, na tien in die aand, deur die voordeur reguit in haar bed in geval. Dan skree sy, “ek is opgebruik!” en ons giggel, die ‘op’ blaas sy so uit haar maag, so asof dit haar laaste asem is. Dan bring Boer vir hulle van sy lekker Spaggball en ons kuier saam in hulle groot dubbelbed tot lank na twee.
Ja, ons vier, beste pêlle.
Maar toe gebeur dít wat by my bly soos daai Sondag in Junie op Ceres, veertig jaar gelede, toe my boetie my in die swembad gegooi het.
Ek het gaan fliek en toe vir Stef gewag om op te cash. Dit was maandeinde. Hy en Janie het later as gewoonlik gewerk. Altwee was opgestres en het aan mekaar gehap soos ‘n twaalfjarige tweeling op die agtersitplek van ‘n drie-deur Uno oppad Kaap toe.
Hy sê toe dat hy sommer saam met haar gaan ry, ek moet volg. Ek kan verstaan dat hy haar nie vroualleen wou laat ry nie.
Ek volg hulle deur Fonteine sirkel, in Eufeeslaan op, links op die Ou Johannesburg pad. Janie ry vinning. Ek trap my petrolpedaal plat om by te hou. Sjoe, ek het vergeet hoe donker dit hier is. Ek het nog nooit van die Ou Joburg gehou nie, veral daar waar die pad split vir die wat in ry stad toe, of kies om reguit te ry na die Voortrekker Monument.
En toe gebeur dit.
Janie se Corolla styg op by die S-draai en vlieg, ‘n paar meter hoog, vas in ‘n bloekomboom. Die karretjie vou styf om dié boom wat al ‘n hele paar karre só verwelkom het.
Ek stop. Ek ruik petrol, bloekom en dood. Stef lê ‘n paar meter van die wrak af, sien ek verlig deur die stof in die flou lig van my kar se ligte. Ek val langs hom neer. Stef, Stef, Stef! Sy mooi gesig is gespaar. Dankie Here! Sy linker been lê snaaks langs sy lyf. Toe praat hy, swaar, asof daar ‘n blok lood op sy bors lê, “Janie…” Ek kon nie vir hom sê wat ek gesien het agter die stuur van die Corolla nie. “Wees rustig, die ambulans is oppad, jy sal oraait wees”, sê ek. Ek vryf oor sy sagte hand. Ek kan hom nie duidelik sien nie, my bril wasem op. Die groot druppels plas ‘n modderpoel langs sy stukkende been.
“Help… haar…”, kreun hy.
“Sy verwag… my kind…”

“Self Dood”

“Als is te veel. Ek wil nie meer nie. Ek gaan vanaand al my slaappille drink” sê hy stadig en droogmond. Die koue kruip onder my blaaie in en gaan sit langs my hart vas. Die hitte van die warm somerdag help niks. “En jy sê vir niemand nie!” dreig hy verder. Droë spoeg spat nêrens, gaan lê net wit in die krakies van sy mondhoeke.
God Help!
As jy moet gaan, moet jy gaan Pieter, maar kom ons praat eers oor joune. Dít is altyd meer pynlik as dié van ander. Wat maak die verlies dan só groot en die koebaai sê so moeilik? Mag ‘n mens hartseer wees as jy jouself wil dood maak?
Wanneer ons geliefdes verloor, oorweldig die pyn van verlies. Nog groter is die projeksie in die verganklikheid van die self, onse gedagte aan onse eie dood.
Sy gesig is ‘n grysvaal opgebruikte padkaart, soutwater loop saggies oor die landskap, oor die walle van die riviere, deur die langgras, langs die afdraai pad af tot teen die dyke.
Dit druk op my bors. Dit smoor my hart. Ek sluk ‘n groot hap lug. Ek knip my oë. Ek gee toe. Die houtbankie bewe. ‘n Onkeerbare tsunami begin te woed.
God Help!
Ek kyk af na die kliniekhoendertjies. Sorgeloos energiek, al pikkend en aan die skoffel. Ironies.

Skielik die besef.

Depressie. Die feite.
‘n Donker gat het jou persoonlikheid subtiel weggevat. Al vir jare, miskien al ‘n dekade. Al wat oorgebly het is die angs, kwaad, pyn, hartseer, selfhaat, verwerping, projeksies en verwyte. ‘n Vreesvolle en gevreesde Pieter. Jou brein is nou soos ‘n spons, als wat inkom, val sommer dadelik regdeur. Medikasie en terapie werk eers na ses weke. Jy is nou eers drie weke op behandeling. Jy is nou nog net so siek soos tot voor jou opname in die kliniek. Die enigste verskil is dat jy nou die energie het om ‘n plan uit te dink en dit deur te voer. Dis al. Fokkit.

Begeesterd neuk ek voort. Baie min mense verstaan regtig die siekte. Gee jouself, jou terapie, jou medikasie nog drie weke, smeek ek. Wees saggies met jouself, probeer verstaan waar die donkerte vandaan kom. Dis nie jy nie, dis die siekte. Dis al.
Die soutwater breek deur die dyke, van beide kante.
‘n Bleek, koue, klam hand kruip verby die pakkie Stuyvesant en sluit oor myne.
Ek sien ‘n flou liggie.
God.
Is.
Groot.

“Pure (lees) Plesier”

“Hoekom lees jy dit?” vra my broer terwyl ek besig is om salig te ontspan met my neus diep in so ‘n klein bloupers boekie. “Wat bedoel jy?” vra ek hom half uitdagend. “Jy is dan ‘n lesbian!?” sê hy verontwaardig en beterwetend. Sien, vir ontspanning, lees hierdie lesbian, Mills & Boon (Modern nogal), of ‘pompboekies’, soos ek en my eerste lover se ma dit gedoop het. Ons het altwee dié pompboekies nét gelees wanneer ons saam elke Februarie vir twee weke lank by die see gaan afskakel het. Alhoewel daardie verhouding net ses seevakansies lank gehou het, het ek steeds daarna voortgelees aan dié vorm van nuttelose vermaak en ontspanning.

Ja, ek weet sommiges sal sê dit is ‘n bietjie kommin. Maar ek gee nie om nie! Ek hou van die storielyn. Dis eenvoudig. Man ontmoet vrou (hy het ALTYD baie geld), hulle kan of mag nie by mekaar wees nie, interne en eksterne konflik, eerste keer seks, nog skuldgevoelens, patriargie word uitedaag, verdere konflik, onwrikbare aangetrokkenheid, nog lekker seks, nog ‘n laaste bietjie verwerping, die langverwagte Stella oomblik (light bulb moment), liefdesverklarings en ALTYD ‘n perfekte einde. Dit vat niks van my nie. Inteendeel, om deel van die fantasie te wees, gee my, snaaks genoeg, energie.

Dié plesier, moet ek erken, was vir baie jare nie sonder skuldgevoelens nie. Net soos vir my broer, het die genot wat ek put uit ‘n boek met ‘n uitsluitlik heteroseksuele tema en ja, hetero seks tonele, nie vir my sin gemaak nie! Ek weet ek is lief vir ‘n vrou, ek wil graag ‘n lewe bou met ‘n vrou, maar tog put ek vreugde uit die gedagte aan pompboekie penetratiewe seks. Ek het selfs destyds gewonder of ek nie dalk biseksueel is nie!

Dit laat my nou nog verder terugdink. Toe ek uit die kas geval het in die vroeë negentigs, voor die tyd van die internet en e-pos, het my sussie vir my ‘n lang brief gestuur van ver oor die see. Dit was die tyd toe Suid Afrikaanse jongmense hulself gaan vind het in Londen. Ek weet nie of dit gewerk het nie… Terug by sus se brief. Daarin verduidelik sy vir my dat, soos sy my ken, ek ‘n uitstekende vrou vir ‘n man sal maak. Nadat ek vir ‘n paar dae gehuil en eers die subtiele verwerping verwerk, en my trots bymekaar geskraap het, het ek vir haar terug geskryf en verduidelik dat sy reg is, ek kán vir ‘n man ‘n baie goeie vrou wees, maar belangriker as dit, dat ek nie glo ‘n man gaan so goed wees vir my nie!

‘n Paar jaar terug het ek die geleentheid gekry om twee weke te spandeer saam met die grootste internationale akademiese geeste in die veld van menslike seksualiteit. Meestal gryskop antropologie professors van Amerika, Australië, Nederland, Indonesië en Indië. Die beste tye saam was natuurlik tydens ‘n tee breuk. En daar, onder ‘n boom, langs die hotel se louwarm swembad, in ‘n erg humiede Hanoi, Viëtnam, kry ek ‘n Stella oomblik! Dit was toe kleine prof Eve Blackwood, baie bekend as antropoloog sedert die vroeë tagtigerjare, en oop oor haar homoseksualiteit, met trots, sonder enige ongemak, haar insig oor seksuele fantasieë met ons deel. Sy het vertel, met ‘n dun Indonesiese kersie sigaret tussen die bleekwit vingers, dat dit vir haar heel natuurlik is om teenoorgestelde geslag seksuele fantasieë te koester.

Verligting spoel oor my toe ek besef, daar is ander (grotes) soos ek, ek is steeds ‘n ware lesbian! Ten spyte van die feit dat sommige van die gedagtes wat my seksueel kielie, nie noodwendig in lyn is met my seksuele identiteit nie.

Daar is daagliks nuwe konsepte binne die konteks van menslike seksualiteit, waaraan ons, soms gedwonge, gewoond moet raak. Van die nuutste is MSM en WSW. Beide is afkortings vir seksuele praktyke, genaamd mans wat seks het met mans, en vrouens wat seks het met vrouens (women having sex with women). Die klem is op die werkwoord, seks. Dus sal ‘n gay man as ‘n MSM en ‘n gay vrou as ‘n WSW kwalifiseer. Maar wat hierdie konsepte so interessant maak, is dat daar heteroseksuele mans en vrouens is wat ook as ‘n MSM of WSW kwalifiseer.

Dus, ‘n seksuele oriëntasie is tot wie ‘n individu aangetrokke is, op meer as een vlak. Ja, die seks (wat in die broek is) van die ander persoon, is die vertrekpunt vir die fisiese aangetrokkenheid, maar daar is aangetrokkenheid op intellektuele, emosionele, en spirituele vlakke. Hier is seks nie die werkwoord nie, maar slegs ‘n aspek van die totaliteit en kompleksiteit van die (liefdes!) verhouding. In kort, dit is dié persoon met wie jy ‘n lewe wil bou, as jy toegelaat word, of die behoefte het.

MSM en WSW is, in kort, hoe lank dit ‘n lyf neem om saam met ‘n selfde geslag lyf ‘n orgasme te bereik. En hier praat ek nie van ‘n identiteit of verhouding nie. Nie van saam intrek nie. Net seks! Ek glo die term ‘bi-curios’, mag hier van toepassing wees. Verkeerdelik word die seksuele praktyk van ‘n homoseksuele oriëntasie, gekoppel aan dié individue wat hul selfde geslag aangetrokkenheid nét fisies uitleef, maar hul heteroseksuele identiteit (bv. gelukkig getroud met kinders) behou. Dit is nie noodwendig “closet gays” soos daar só maklik gestereotipeer word nie. MSM en WSW is die bewys dat ons seksuele identiteit of oriëntasie nié noodwendig ooreenstem met ons seksuele praktyke en / of fantasieë nie.

In die fliek “The kids are all right”, word die vloeibaarheid (en kompleksiteit!) van ‘n gay vrou se seksualiteit baie goed uitgebeeld, verseker met ‘n goeie dosis deernis. Jules, die een karakter, briljant vertolk deur Julian Moore, het ten tye van haar en Nic (Annette Benning) se agtien jaar lange lesbiese verhouding, verskeie kere seks met ‘n baie aantreklike manlike karakter gehad. Dis al. Net seks. Natuurlik is die redes nie so eenvoudig nie en ‘n ware drama ontvou! Sy word uitgevang en Nic se verwytende (verstaanbaar) ondervraging is uitmergelend. Op Nic se kwaai vraag of sy nou eintlik biseksueel is, het sy moeg, maar oortuigend, nee! geantwoord.

Dan is daar, net om dinge nog meer kompleks te maak, my “Twee Tequilas Te veel Teorie”. Volgens my 3T Teorie, is enige hoogs geintoksikeerde persoon in staat om met énige ander seks te hê, maak nie saak wat hul identiteit of tipe aangetrokkenheid is nie. En ja, ek besef dit is ‘n debateerbare punt!

Die mens is ‘n seksuele wese, ongeag elkeen se seksuele oriëntasie. Seks en seksualiteit is kompleks en meer nog, gemarineer in eeue se skuld en skaamte. Dan is daar ongelukkig universele verwagtinge van ‘n persoon met ‘n spesifieke homoseksuele oriëntasie, dat hulle binne die stereotipe heteronormatiewe gedragslyne móét pas. En verder is daar ‘voorgeskrewe reëls’ wat daardie lyf tussen die lakens (of in die publieke toilet) met’n spesifieke voorgeskrewe ander selfde seks lyf mag of moet doen. Dit is ook maar net nóg gaymensgemaakte mites en stereotipes. Wat meer belangrik is om te onthou, is dat toestemmende volwassenes seks het vir verskeie redes. Diegene wat skeef (verskoon die ‘pun’) daarna kyk, projekteer meestal hul eie onaanvaarde gedagtes en gedrag.

Net verlede week vra ‘n terapeut my, aan die begin van ‘n sensitiserings opleiding sessie, “So Delene, wat dink jy van ‘n aantreklike man met ‘n mooi lyf, voel jy nie aangetrokke tot hom nie?” Eers aan die einde van die sessie, toe die toepaslike inligting oor menslike seksualiteit gedeel is, verduidelik ek vir haar, “Ek is mal oor enige mens met ‘n mooi lyf, en ja, ook mans, maar belangriker nog – ek het geen behoefte om ‘n lewe saam met hom te bou nie!”

Vir nou verkies ek ‘n monogame verhouding. Ek verkies ‘n lewe sonder drama. Per slot van sake, dit hang mos maar af van die reëls wat die twee (of drie!) partye binne die verhouding self gemaak het…

Nou waar’s daai Mills & Boon van my…?!

Bogenoemde is my bydrae tot ALICE, die gay girl’s gossy, tweede uitgawe nou beskikbaar op http://issuu.com/alicemagazine/docs/issue02

“Sê eers vir my, het julle my gemis?”

“Sê eers vir my, het julle my gemis?”

Ek sien haar glimlag nog hier vlak voor my. Haar oë dans en die lekkerkry daarin kielie my, ek móét smile. Dis die woorde waarmee Riana Scheepers ons groepie prosa wannabe’s elke middag gegroet het. Elke dag, van die vyfde Winterskool van die Eenheid van Kreatiewe Skryfkuns van UP, verlede week. Ek sou só graag dit weer wou hoor!

Dit was ‘n ervaring wat my op soveel vlakke geraak het. Ek kan net nie meer na myself, stories, woorde en skryf kyk soos voorheen nie. Iets het gebeur, ek kan nie regtig sê wat nie. Al wat ek weet is dat daai “iets” gróót is! Riana het ons gewaarsku dat ons hier teen die derde aand moontlik aan Stendhal Sindroom kan lei. Dis wanneer jy so oorweldig word deur die blootstelling aan skoonheid en kuns, dat dit jou depressief (of ‘n bietjie mal) laat. So het daai blues ook vir my getref, wragtag teen die Woensdag aand. Dit het my nog nie heeltemal verlaat nie, alhoewel dit meer en meer plek maak vir ‘n kinnerlike opgewondenheid.

Ook die ander skrywers, Henning Pieterse, Joan Hambidge, Veronique Tadjo, Deon Maas, Alexander Strachan, Aryan Kaganof, David Medalie, Jeanette Ferreira en Leon de Kock, het van hulself en hul werk met ons gedeel. By elke een het ek iets geleer. Ek het meestal soos ‘n kind in ‘n 3D Disney fliek gevoel.

Maar dis in die middag sessies, saam met Riana, wat ek meer van myself as skrywer geleer het. Ja, ek is nie meer net ‘n storieverteller nie! Ek onthou hoe ek aan die begin van die blog gesê het ek is nie ‘n skrywer nie. Ek was net bang vir kritiek. Nie dat kritiek nou minder van ‘n uitdaging is nie. Ek het net besef dat ek móét skryf, of ek nou wil of nie! Ek sal maar net moet leer om kritiek as skrywer te hanteer.

In die middae het Riana ons verskeie oefeninge laat doen. Dit het ons vertroud gemaak met woorde, sinkonstruksie en teks en die gebruik daarvan binne die kortverhaal. Ja, die kortverhaal, wat ek nou verseker weet ook my genre is. (Tot ‘n paar weke terug het ek nie geweet wat genre binne die konteks van skryf regtig beteken nie…)

Ek het geleer dat ek in die hede moet skryf. Daar’s te veel “ge’s” in Afrikaans as mens in die verlede tyd skryf. Ek het geleer dat ek nie vir altyd net oor my eie belewenisse kan skryf nie. Ook dat daar ‘n storie móét wees. Ek gaan my stories moet fiksionaliseer (is daar so ‘n woord?) Ek het geleer wat die verskil is tussen “telling” en “showing”. Ek het geleer dat clichés net so onaanvaarbaar is soos ‘n uitroepteken en ontoepaslike byvoeglike naamwoorde. Ek het geleer dat die titel net so belangrik is soos die eerste sin. Joan Hambidge het gesê jy moet ‘n vel soos ‘n renoster op speed hê wanneer dit by kritiek kom. Al die ander skrywers het iets soortgelyk gesê.

Van Woensdag middag af het ons mekaar se 100 woord kortverhaal, titel ingesluit, bespreek en kritiek gegee. Ek skryf Charlotte. Niks is verander nie, behalwe dat die woord ‘minirok’, een woord geword het.

Ek sluit af en deel dit graag met julle. Lewer gerus kritiek – ek moet mos leer?!

Charlotte deur Delene van Dyk

Vanaand gaan ek wen. Als perfek in plek, ook die oorbelle, my ore nog brandseer van die nuwe gaatjies. Dit pas by my stywe rooi minirok, glimmend – in die dowwe lig staan ek en vryf trots oor my kurwes. Vir oulaas kleur ek my lippe in, bloedrooi, ek vat my tyd. Hy kan wag, ek doen al vir jare. Diep asem, ek maak die woonsteldeur oop. “Hallo, Daan?”
Twee dae later staar ek na my rekenaarskerm en voel ‘n bekende warmte in my nek. Baas Daan fluister, “Dankie Charlieboy, daai girl was rooiwarm”.
Ek glimlag. Eerste prys!