“Rituele vir die wolke”

Ek sit op die oomblik tussen ‘n klomp slim mense ( en kondome) by ‘n TOP2BTM Prevention Treatment and Care MSM (Men who have Sex with Men) Symposium in ‘n grênd hotel aan een van die voete van Tafelberg. Dis ‘n regte grou wintersdag daar buite, maar hier binne is die gesprekke warrrrmmm! Van die meer interessante sessies het gehandel oor die gebruik van tegnologie in die voorkoming van HIV en ander STI’s (Sexually Transmitted infections) in MSM’s en die stories, blêddie hartseer, van MSM sekswerkers, geestesgesondheid van MSM, Transgender sexual health en MSM jeug.  

 Maar voor ek verder vertel van my ervaring as ‘n lesbian aktivis en feminis in ‘n vertrek vol testosteroon belaaide, baie slim MSM’s en ‘n bietjie straights (maar ook baie slim), laat my toe om my vlugervaring, van Johannesburg Kaap toe, twee dae terug, te deel…

 Dis 10h00. Ek is en-route tussen Johannesburg en Kaapstad in ‘n rooi vliegtuig ‘n paar duisend voet in die lug. Die seatbelt liggie is af en ek druk my Ipod se oorfone in my ore. “Flight Attendant”, die eerste liedjie op die Eat, Pray, Love soundtrack speel. Hoe ironies. “I’m such a pretty boy… heaven knows the lengths I go to please them everyday – they don’t even know when I’m down… such a pretty boy…”

Nog ‘n slagoffer. Hoe ironies.

 Ek is nog besig om te herstel van die adrenalien rush wat ek ‘n uur terug nog ervaar het toe my skoonma my lughawe toe gebring het… amper laat, darem toe nie. Na soveel jare se gereelde vlieg en blootstelling aan lughawens en die windeverwaaide mense daarin, het ek, ek skat om te probeer grounded bly (wat onmoontlik is sedert mens letterlik duisende meters bo in die wolke is, teen ‘n fenominale spoed), ritueeltjies ontwikkel.

 Derde liedjie, “Thank you for letting me be myself again…” gaan sit lekker intiem langs my siel…

Ek skryf nou soos ‘n wafferse skrywer / joernalis / snob in my eerste Moleskine notaboek. Ek het nog altyd gedink ek verdien nie iets so grênd nie, skryf maar my stories op goedkoop Pep Stores tipe boekies. Vandag glo ek ek verdien die beste, soveel dinge het vir my verander vandat ek van myself begin hou het.

Waar was ek nou weer? O ja, die kinnerlike rituele en adrenalien rush… So, om die adrenalien vrystelling in my lyf so laag as moontlik te hou, doen ek dinge wat ander moontlik kan irriteer. Weet jy wat doen verhoogde adrenalien vrystelling aan ‘n mens? Hoe meer adrenalien, hoe meer kortisol word in die bloedstroom vrygestel, wat dan die immunsisteem aftakel, wat dan kans gee vir vieslike verkoue of lyfstyf griep goggas om uit te broei. Dit word aangehelp deur massas ongesonde passasiers in ‘n baie klein spasie van ‘n vliegtuig wat se temperatuur en lugdrukke chronies verander. Dit als ‘n dodelike kombinasie om ‘n sluimerende virus uit te nooi om vir ‘n week lekker te kom uitkamp in jou fragiele lyf.

 Skielik kry ek koud, moet seker die baadjie, wat ek uitgetrek het toe ons gewag het  in die warm vliegtuig om op te styg, weer aantrek. Ek luister na ‘n boheemse liedjie met ‘n Indiese gevoel, “Kalyaugavaradana” – kan dit nie eers behoorlik uitspreek nie…

 Waar was ek nou weer? O ja, adrenalien en ‘n plan…

 So, om my stres vlakke so lag as moontlik te hou, het ek rituele…

1. Ek check my vlugdetails ‘n dag voor die tyd – dit is absoluut noodsaaklik, veral vir vlugte na ander Afrika lande.

2. Ek pak my tas reeds die vorige aand. Ek hou die kleiner goedjies vir eers een kant.

 Fok die turbulensie is skielik erg, my handskrif is die bewys. Ek voel effe seesiek. Snaaks.

‘n Aantreklike man, mid veertig, koop ‘n energy bar en check die voedingswaarde na sy eerste hap. Ek wonder of hy dink dis lekker, check dan die inhoud, of dink hy dit proe nie so lekker soos verwag nie, en soek vir iets gaga op die lysie, of check hy hoeveel kilojoules hy inneem? Hy het gestem, ek sien die evidence van die semi-permanente ink op die basis van sy linker duimnael. Intussen kalmeer hy twee onmoontlike emosionele terroriste van ongeveer twee en vier jaar oud op die sitplekke langs hom.

Langs my wil die man ‘n koppie koffie betaal met ‘n tien dollar noot. Geen foreign currency, sê die Trollie Dollie. Ek het gesien dit staan op die menu geskryf. Dis nie net Suid Afrikaners wat nie kan lees nie, dink ek. Hy pluk ‘n R100 noot uit. Ek loer oor my bril vir die Trollie Dollie. Sy probeer hard, maar kry dit op die ou end nie reg om die oë-rol-na-bo reaksie weg te steek nie. Daar staan ook op die menu hou asb die regte bedrag reg…

Die aantreklike pappa eet ook nou ‘n hot cross bun. Duidelik was die carbs in die energy bar nie ‘n issue of genoeg nie…

Waar was ek nou weer? O ja, adrenalien en irriterende ritueeltjies en klein goedjies. Die klein goedjies sluit verder in ‘n duur slot (‘n absolute MOET when travelling in Africa), my kamera, selfoonlaaier, Rescue Remedy, my Ipod, allerhande voorkomende pille en brille…

Nou kry ek weer warm, ai! Gelukkig kan ek by die lugregulering knoppie bo my kop uitkom. Gewoonlik verrek ek iets in my lyf, terwyl ek onelegant, maar so ongesiens moontlik, met my kort vet arm die projektiele lugstroom wat oor my styf gejelde kroontjie blaas, probeer reguleer.

 Waar was ek nou weer? O ja, no 2, klein goedjies…

 Nog klein goedjies sluit in ‘n botteltjie AIRMUNE, wat ‘n multi vitamien immuun booster bruis tablet is, hulp teen die vicious viruse wat saam vlieg in die klein spasie rondom my. Ek maak seker dat ek een neem ‘n paar uur voor ek vlieg.

AS DAAR NOU EEN DING IS OP ‘n VLIEGTUIG WAT MY HEELTEMAL BEFOK LAAT (behalwe om in ‘n middel sitplek te land), IS DIT WANNEER DIE PASSASIER IN DIE SITPLEK VOOR MY, OP ‘n KORT VLUG (dus enige vlug binne SA) HUL SITPLEK NA AGTER VERSTEL, MEESTEL VIR ‘n KORT SLAPIE OF OM KOERANT TE LEES!!!!!!!

Anyway, (ongeskikte donner voor my vir eers vergete) ritueel no 4. Dit is die belangrikste intervensie ter voorkoming van ‘n adrenalien rush. Ek sorg dat ek ten minste 90 minute voor die vlug, in boek. Ja, selfs vir binnelandse vlugte. So verseker ek ook dat ek nie in die gevreesde middel seat beland nie. Meeste mense is bekommerd oor been spasie… ek is bekommerd oor heup spasie… Ek verkies ‘n sitplek langs die paadjie, sodat my ekstra 50kg kan oorhang in die paadjie in.

Die kere wat ek wel ‘n middel seat gekry het, soos die 6 ure vlug terug vanaf Addis Abeba verlede jaar, moes ek en my bure ongemaklik intiem ons liggaamsdele en liggaamsreuke deel – terrible! Ek was so beangs – heelpad bang hulle kon agterkom dat ek al vir 3 dae skyt na ‘n bizarre gastro wat ek in die Hilton Hotel opgetel het. (Sien die storie “Radio Stasie Afrika” dd 20 April 2011).

So het ek, onder die duiwel se begeleiding, daardie oggend ‘n bietjie baked beans geëet vir ontbyt. So ‘n uur voor die vlug. Ek het nie gedink aan die moontlike gevolge nie, was net dankbaar dat my lyf iets kosserig kon akkommodeer (en ek is so lief vir baked beans).

So blaas ek op net voor ek myself gaan insqueeze tussen die twee dames medepassasiers. As ek nie so vasgesit het nie, kon ek sweer ek sou soos ‘n helium ballon teen die dak van die vliegtuig dobber en net daar vas anker. So natuurlik, om bietjie van die erge ongemak ontslae te raak, en letterlik af te blaas, los ek ‘n ligte windjie.

O fok! Ek kry so ‘n funny gevoel in my onderstel, en besef – dis ‘n natte!!

Toe ons uiteindelik land, na 5 ure, en ek oortuig is ek het myself heeltemal beskyt en heel moontlik ‘n “nappy rash” of note ontwikkel, terwyl ek gesmile het vir my buurvrouens en bleek saam gesels het oor HIV en vroulike kondome, staan ek stadig op… loer skuldigskaam na my sitplek… Ek kon nie tydens die vlug opstaan en toilet toe gaan nie, ek was heeltemal te bang vir wat moontlik vir my gewag het , nee wat, als sit lekker vas, kon dit nie blootstel aan suurstof nie, dit kon ‘n biologiese reaksie veroorsaak wat ek geen beheer oor sou hê, nie, nee wat, sit styf, bid maar, haal diep asem, praat kak, smile, kry ekstra water…

Goddank, niks! Geen nat streep te bespeur op die sitplek! Ek trek, so ongesiens moontlik, my hemp so ver moontlik oor my boude, verseker dat daar ‘n nat skaamstreep op my sitvlak wys. Ek snuif saggies. Gelukkig geen klankie te bespeur nie. Ek besef dat na drie dae se geskyt, is die konsistensie gereduseer tot so ‘n reuklose gryserige water, amper soos die van ‘n cholera pasiënt…

So stap ek moeg en half gedisoriënteerd, maar dringend deur die doeane. Ek móét nóú by ‘n toilet uitkom. Lifi wag opgewonde buite. Ek gee haar ‘n vinnige piksoen en my tas, en trippel met ‘n pynlike saamgetrekte poepol na die naaste toilet, net om verlig uit te vind – dit was toe nooit ‘n natte nie?! So het ek vir meer as 5 ure beangs gewonder – VERNIET!

Die donner hier voor my lê nie eers meer nie, gesels te heerlik met sy buurman, beduie sy storie grafies en die 20 sentimeter tussen my voorkop en sy sitplek raak met tye 10. Ek kan verstaan dat wapens verhoed word op vliegtuie, en dit het niks met terrorisme te doen nie.

Waar was ek nou weer? No 5. 

5. Ek maak seker dat ek genoeg tyd het, na inweeg, om nog ietsie tee en drink voor die vlug, aangesien meeste van my befondsers deesdae geld spaar deur vir my ‘n vlug te bespreek op ‘n helder rooi, oranje of groen vliegtuig. Op die kleurvolle vliegtuie, kry mens nie kos verniet nie. Dus, glo ek, as ek voor die vlug versadig is, is ek nie tempted om van die duur high carb kak op die vliegtuig te koop nie.

6. Ek sorg ook dat ek van die eerstes is om in die tou te staan om die vliegtuig in te stap, anders, veral op die vlugte wat deur besigheidsmense gebruik word, is daar nie genoeg plek vir my tas in die overhead compartment nie. Dit het al twee keer met my gebeur dat my ongesluite handbagasie weggeneem is omdat die spasie bokant my sitplek deur ‘n ongeskikte medepassasier opgeëis is, want ek was laat.

Die speelpakkies wat hulle vir die kinders gee, lyk so lekker om mee te speel. Ek wil ook ene hê…

 Ons land oor ‘n half uur.

7. Een van die belangrikste voorbereidings voor enige vlug, is om my flight socks te dra. My enkels en onderbene swel deesdae reeds met die gedagte aan ‘n nuwe dag, wat nog te sê van 2 tot 3 ure stil sit, ingeryg soos ‘n sardien in ‘n blik,  gemarineer in lugdruk veranderinge en die blootstelling aan ongeskikte mense en bot Trollie Dollies. Die kouse help darem dat ek nog my enkels kan voel, buig en beweeg met aankoms.

Ek het die laaste week besef dat ek by ‘n vaskulêre spesialis moet uitkom. Dié is nou lankal nie meer net ’n bietjie edeem van die hitte en dikgeit nie… en denial is not just a river in Egypt.

Hoe nader ek aan 40 kom, hoe meer gooi my lyf tantrums. Klein goedjies, simptome, het skielik ‘n groter issue geword. Ook die skielike pigmentasie êrens in my regter oog. Klein goedjies wat gefix moet word, anders maak dit my dof en verhoed dat my lig helder skyn.

 Ek wens ek het al langer terug van myself begin hou, dan sou ek verseker nie  myself so misbruik en net laat gaan het nie.

 Maar genoeg van self sabbotasie – daarom al die rituele in my (vlieg) lewe.

 11h20 – Hallo Slaapstad!

“IDAHO”

Vandag is IDAHO dag – International Day Against Homophobia and Transphobia. Per definisie beteken homofobie die irrasionele vrees, haat en aversie teen homoseksuele mense en hul leefstyl. Gereeld moet en in my lyn van werk hoor dat homoseksualiteit sonde, on-christelik of teen God se Wil is.

 Ja, selfs verlede week toe ek op SAFM ge-interview is, juis oor die uitdagings wat LGBTI mense ervaar in ‘n homofobiese heteroseksistiese samelewing, sal daar wragtag ‘n man inbel en vir ons een van die drie die-bybel-sê-so sinnetjies, net daar, op lug, uit die Bybel lees! Die omroeper het haar vreeslike vererg en hom erg gekonfronteer. Dit het nie gewerk nie. Want hy glo wat hy glo en hy gee nie om wat ander glo of dink (of voel!) nie.

 Is dit nie ironies nie. Nie so lank terug nie, in dié brose land van ons, was apartheid ook geregverdig uit die Bybel. Rasisme het ongelooflike pyn en lyding vir duisende-miljoene mense veroorsaak. Die horibale effek daarvan gaan nog vir baie jare die land se toekoms radikaal beinvloed. Dis ‘n groot gedeelde pyn. En dit omdat ‘n klein groepie blanke mans met wit baarde destyds besluit het hulle is beter as ander, verdien die beste en gaan dit staaf uit die Bybel. Ja, ek besef dis meer kompleks as dit, maar ek glo dis die bottom line. Die Bybel is gebruik, die konsep van sonde, soos ook nou, in terme van homoseksualiteit, om mense te onderdruk en hul mense regte van hulle op ongelooflike onmenslike maniere te ontneem en of te skend.

 Die brutale verkragting van ‘n swart kind, ‘n jong vrou, ‘n pa (of oupa) se eie meisiekind, kleinkind, ‘n lesbian, ‘n transvrou, ‘n vroulike gay man? Hul koppe vermorsel met ‘n baksteen? Hulle huise afbrand? Hulle in die publiek verneder en slegsê?  Hulle ontneem van basiese dienste? Ensovoorts.

 Hoe de fok kan iemand dit uit die Bybel regverdig?

 Ja, dit is die effek (en mag) van rassisme, seksisme, heteroseksisme, homo- en transfobie. Sommige mense mag dalk dink deur vir iemand uit die Bybel te preek, sal dit hul skuldig genoeg laat voel om hul sogenaamde “sondige” natuur agter te laat, maar al wat hulle eintlik doen is om haat, onmin, vrees en pyn te saai. Elke keer as iemand die k-woord of m-woord of isistabane sê, of sê homoseksualiteit is sonde, of ‘n grappie maak soos God het Adam en Eve gemaak, nie Adam en Steve nie, of darem bietjie meer verlig wil voorkom en sê selfde geslag paartjies kan saam wees, solank hulle net nie seks het nie, ensovoorts, stuur jy ‘n boodskap uit aan die (meestal oningeligte en soms barbaarse) mensdom wat iemand se erge pyn veroorsaak, selfs so erg as hul verkragting of dood. Ja, dis hoe magtig die tong is!

 Haat en vrees is NIE van God NIE!

 En steeds wil daar soveel mense my anders probeer oortuig…

 Vandag is IDAHO – vertel vir soveel mense as moontlik hoe homofobie en transfobie, net soos apartheid van die verlede, mense van ‘n seksuele minderheidsgroep se pyn en selfs dood kan veroorsaak.

 Vind meer uit, leer iets nuut van homoseksualiteit, transseksualiteit en menslike seksualiteit in geheel.

 Nooi ‘n LGBTI persoon vandag vir koffie.

 Seën ons.

 Só sal jy jou irrasionele vrese oorkom.

 Dít is God se Wil. Dít weet ek verseker.

“Ek praat graag…”

Ek praat graag oor menslike seksualiteit en die kompleksiteit daarvan. Luister gerus na Morning Talk op SAFM om 09h00 vanoggend, waar ek en ander gaan gesels oor homophobic violence, hate crimes, corrective rape en homoseksualiteit oor die algemeen.

Later sal ek vertel hoekom hierdie ongenaakbare dade ons almal raak, en hoekom ons ALMAL daaroor moet praat.

Luister gerus ook weer vanaand, waar ek weer saam met Elna McNtosh en ander op KAYAFM gesels oor verseker dieselfde issues as bogenoemde. Luister op DSTV, www.kayafm.co.za of 95.9 fm.

Kom ons maak almal ons ore oop en ons stemme dik!!!!

“Spikkels op my bril”

Dis 3 maande later en is ek nou al ligter?

Ja, ek was meer as 15 keer by die gym die afgelope maand.

Ja, ek het meer as 300kg se gewigte gedruk, getrek, gestoot en gelig.

Ja, ek het meer as 20km gestap en getrap.

Ja, ek eet nie meer ryk en vetterige kos nie.

Ja, ek drink meer water.

Ja, ek het fisies 3kg afgeskud.

Maar als hierbo is net ‘n bonus.

Want hoe verduidelik ek die belangrikste – dat ek ligter van gees is?

My stories het my soveel introspeksie laat doen, het vir my ‘n deur oopgemaak na my dinge, my pyn, my lag, my stuff. Ek het by myself gaan kuier en dit word meer en meer lekker. Dit is intiem, dit is snaaks, dit is seer. Ek voel gekoester daar. Ek het my eie beste vriendin geword. Ek like myself. En dis ‘n lekker plek om te wees. Ek geniet dit so, ek gaan graag terug. Soms is ek net daar. Doen niks, skryf niks, kuier luilekker binne in my eie space. Daar leer ek meer en meer van myself, waarvan ek hou, of dit nou kos, goeters of mense is, en waarvan ek eerder moet wegbly, of dit nou kos, goeters of mense is.

Daar het ek besef hoe baie ek daarvan hou om stories te vertel. Dat wanneer ek die storie die wêreldwye web in stuur, dit nie meer myne is nie. Dat die storie goue vlerke kry en gaan lig maak daar waar dit nodig is.

Daar het ek besef dat ek meer en meer net dit wil doen waarvan ek hou, dit wat goed is vir my siel. Ek speel in my kruie en vetplant tuin, ek preserver goeters, ek is by Marna, ek spandeer kwaliteit tyd saam met familie en vriende, ek luister musiek, ek is kreatief. Ek spandeer tyd by my huis, by my diere. Ek gym. Ek maak lekker kos. Ek slaap lekker. Dis kosbaar. Dis my verantwoordelikheid. Dis al.

Dikwels terwyl ek sekere stories skryf, hardloop my trane oor my ronde wange. Ek huil selfs as ek dit later weer lees. Soms, ‘n paar uur na ek geskryf het, sien ek eers die spikkels op my bril. Ek word elke keer herinner dat die sadness deel is van wie ek is en dat ek dit moet koester. Dit oorweldig my nie meer nie. My donkerte laat my lig toe om helder te skyn.  

Ek word lig.

Ek is Lig.

“20 jaar later”

Die grootste gedeeldte van my grootword jare op Moorreesburg, ‘n koring produserende boere gemeenskap in die Boland, was ek en die rooikop met die blou oë en groot bek, pêlle. Veral na haar ouers van hul plaas naby Koringberg, die buurdorp, Moorreesburg toe getrek het. Ons het albei in Loopstraat gebly, verseker die steilste straat in die dorp. Dit moes eintlik Kruipopstraat geheet het. Hulle het aan die onderpunt van die straat en ons so in die middel se kant gebly, so 400 baie steil meter uit mekaar. Sy het altyd gesê ek moet eerder by haar gaan kuier, want dis makliker vir my om afdraend te loop, as vir haar om opdraend te sukkel. Sy het belowe om dan saam met my terug stap, stadig kuier-kuier bult-op tot halfpad. Dan het sy altyd so lekker gekry omdat ek so naïef was en geval het daarvoor. Oppad na haar huis toe, het ek verby ons roostuin gestap, en so in die verby, vir haar ‘n roos gepluk. Ons het ‘n spesiale verhouding gehad.

So moes ek besluit, in my standerd nege jaar, 1988, waar ek sou gaan verpleging swot. Ek was 3 jaar oud toe ek geweet het wat ek eendag wil word… Dus was my toekoms- en studie keuse makiliker, ek moes net die regte opleidingsinrigting kies (of hulle vir my). Vroeër daardie jaar het ek ‘n Army kamp in die Sederberge bygewoon. Ten spyte van my nagmerrie ervaring daar, het ek besluit om aansoek te doen vir die vier jaar verpleegopleiding van die toé SAGD (dit was lank voor 1994, toe die Suid Afrikaanse Geneeskundige Diens Verpleegkollege se naam verander het na SAMHS Nusing College – South African Military Health Services). My Loopstraat vriendin het saam met my aansoek gedoen. Ek dink nie sy het regtig geweet wat sy met haar toekoms wou doen nie. Ons het beide keuring gemaak en omdat daar nie ‘n direkte trein van Moorreesburg na Pretoria was nie, het ons vroeg in 1989 Transvaal toe gevlieg, vir beide ‘n eerste opwindende ervaring, om voor ‘n keurraad te verskyn.

Daar word beide van ons suksesvol gekeur en so begin ons saam op 1 Januarie 1990, op die destydse Voortrekkerhoogte, as KO’s (kandidaat offisiere), altwee baie bly dat ons darem mekaar ken daar in die vreemde, 1600km van ons bekende ouerhuise. Ons was 18 jaar oud en het gedink ons was reg vir die huge uitdaging.

En was dit nie ‘n ongelooflike uitdaging nie?! Die aanpassing by die militêre kultuur, die nuwe oorweldigende vreemde studie inhoud en praktiese ervarings in ‘n militêre hospitaal, ten tye van die onrustigheid van dié belangrikste politieke tyd van ons land se geskiedenis, met al die issues wat daarmee gepaard gegaan het, was als groter as groot. Ek onthou so goes, ons was gereeld uit die koshuis gejaag, soms op die mees ongure tyd van die dag en nag, as gevolg van ‘n bomdreigement. Die dosente het geen simpatie met ons gehad, veral as ons gejaag is die aand voor ‘n groot toets of eksamen die volgende dag, nie.

Die vryheid van vêr van die ouerhuis wees en eie salaris verdien, toe net so oor die R400,00 per maand, was ook iets groot om aan gewoond te raak. Ons het pêlle gemaak met die Nasionale Dienspligtes, veral die Medics wat in die koshuis net langs ons s’n gebly het. Die lewe was opwindend. Ons het gekuier. Ons het leer rook en drink. Ons het baie gerook en drink.  Die lewe was tough, maar exciting.

So maak Gemmer nie haar eerste jaar klaar nie. Ek dink sy het al haar vakke gedop behalwe Sosiologie. Ek moes twee vakke her (‘n afkorting vir ‘n hereksamen) en het Sosiologie gesleep tot die volgende jaar. Ek kon nie verstaan hoekom ek net ‘n totale blank geslaan het in die Soc eksamen nie, dit het nog nooit voor daai eksamen (of selfs daarna), met my gebeur nie. Ek het darem die ander twee vakke se her-eksamens geslaag en 1991 met my tweede jaar begin, effe geirriteerd dat my ander pêlle met Soc 201 begin het, en ek nog met Soc 102 opgeskeep was. Min het ek toe geweet hoekom dit so belangrik was vir my om in 1991 nie Soc 201 te doen nie…

Gemmer het ‘n one liner korporaal geword en in ‘n admin afdeling van die SAGD gaan werk. Sy kon nie meer in ons koshuis bly nie en het so ‘n paar kilometer verder in die onderoffisiere se barakke in die Hoogte gaan bly. Ons het mekaar baie minder, maar wel van tyd tot tyd, nog gesien. Haar ouers het ‘n paar maande vantevore vir haar ‘n tweedehandse rooi Renault 9 gekoop, en ek het gereeld soggens, terwyl ek reggemaak het vir klas, haar in die straat tussen die koshuise en die gholfbaan sien verby ry werk toe. Sy het in die Pretoriase middestad gewerk.

Die tyd gaan mos maar vinnig verby, so sê kla almal. Skaars het ons tweede jaar begin, en dis eksamen tyd in Mei. Dieselfde tyd het Gemmer half impulsief besluit om vir haar ma te gaan verras vir Moedersdag. Sy sou met haar kar deurnag afry, vergesel van twee jong mans luitenante wat sou help met die petrol geld. Ek het nog gedink dis darem ver vir so ‘n kort tydjie. Daar was een of ander vakansie dag destyds op die Vrydag, wat dit ‘n kort langnaweek gemaak het. Die Donderdag oggend kyk ek nog by die venster uit en sien die bekende rooikop in die bekende rooi karretjie verby ry. Ek het haar beny vir haar vryheid en die feit dat sy glad nie meer nodig gehad het om die druk van die eksamen te ervaar nie.

Gemmer is vroeg die volgende oggend net duskant Worcester in ‘n motorongeluk dood. Sy het glo verkoue medikasie gebruik en aan die slaap geraak agter die stuurwiel. Sy het nie haar veiligheidsgordel gedra nie, is uit die rollende motor geslinger en die rooi kar het oor haar gerol. Sy is oppad hospitaal toe in die ambulans dood. Sy was 19 jaar oud.

Vir ons almal was dit ‘n traumatiese verlies. Ons was so jonk! Dit was my eerste groot verlies van ‘n geliefde…

Toe ek die destyds Kommandant gaan toestemming vra om die begrafnis te gaan bywoon in Moorreesburg, die daaropvolgende Dinsdag, vertel sy my dat ek onder geen omstandighede ‘n eksamen sal en mag mis nie (dieselfde Kommandant het ons ook staatsmatrasse genoem)! Vreesloos en adrenalien belaaid, daag ek haar uit, “Ek skryf nie dié eksamen nie, ek sleep die vak, Kommandant”! Sy het iets gebrom van jy moet maar self sien kom klaar, ek gaan jou nie help met ‘n vliegkaartjie nie!

Ek het toe met die Lugmag se Flossie gevlieg Kaap toe, betyds vir die begrafnis, om die kis te help dra, sonder haar hulp.

Ek krap nou die dag in ‘n laai en kry ‘n klein boekie waarin ek as jongmens my eie en ander se gedigte neergeskryf het. En ek kom op hierdie ene af, geskryf twee jaar na haar dood, na ‘n droom wat ek tot vandag helder kan onthou.  Ter nagedatenis aan my rooikop-blouoog-grootbek-vriendin, Elzaan Lochner, beter bekend as Gemmer:

9 Mei

twee jaar

later – domdepressief

in eensaamheid in

waar’s jy nou

wieweetwonderwaar

weet ek – dáár

veilig.

Blou oë vonkel

in my gedagtegrot

met groot genot.

Dit was nie

net ‘n droom –

was dit?

Rooi op grys

‘n blom te laat

gepluk te gou

ek mis jou!

Dis vandag, 9 Mei 2011, 20 jaar later.

“Ha…aa…aaas”

Erens in die mid 90’s, word ek en my toe eerste lover, uitgenooi vir aandete by ‘n destydse vriend. Hy verwelkom ons trots in sy groot ou Lynwoodweg woonstel, nog met plankvloere en imposante staalplafonne. Sy metgesel, vir daardie aand, het vroeg reeds oor ‘n sjerrie met sy praatjies probeer beïndruk. Mandela se paramedic – nogal! Ek het die indruk gekry ons moet die kosbare vrye tyd saam met hom waardeer. Ek verstaan hoekom ‘n sjerrie (of ‘n hele paar) opgedis word by kuiers met onbekendes.

Die Vriend deel toe, steeds met trots, die inhoud van die spyskaart. Die hoofgereg is ‘n bredie. Maar nie sommer enige bredie nie. Dis ‘n haasbredie! Toe was ek nog nie so bewus van wat in (en uit) my mond gaan nie. Die Lover kon ook nie die kans laat verby gaan om een of ander skerp opmerking te maak nie. Dit het nie Die Vriend ontsenu nie.

Na nog 15 minute se kakpraat, val ons opgewonde, tog effe angstig, weg! En ja, dit wás werklik eksoties. Maar helaas, dis al wat ek kan onthou, want dít wat toe 5 minute later gebeur het, sal vir altyd die ware smaak van die haasbredie oorweldig.

Die Lover het ‘n geskiedenis van asma. ‘n Sensitiewe Siel. Wou eintlik oor die algemeen nie regtig asem haal nie. Eers later, na die lewe-en-dood-drama, sou ek uitvind dat binne die eksotiese haasbredie, daar ‘n baie meer eksotiese tipe mushroom, die soort wat by sommige sensitiewe eters asemhalingsonderdrukking kan veroorsaak, was.

Met groot verstarde bokkie oë, hyg sy, “Ek…kry…..nie…..asem…….!”. Ek kyk verbouereerd na Superman. Hy hardloop sonder woorde by die flat uit. Useless, dink ek, en nogal ‘n Mandela Medic! ‘n Minuut later is hy terug. Ek is verlig! Nee sê hy, hy het geen asma pompie in sy Superman-red-die-belangrikste-man-in-SA-mediese-sak nie. Fokken useless dink ek, ek hoop nie Mandela kry ‘n asma aanval op Superman se skof nie!

Die Vriend is ook nie van enige hulp nie. Hy is net ‘n psigiater, en verklaar verder dat hy net baie slaappille en Valiums in sy besit het. Hy het ook nie asemhaling vreeslik gerespekteer nie, onthou ek nou.

Ek help haar na my beige Ford Escort, wat darem nie te ver geparkeer staan nie. Ek spring sonder om regtig te groet agter die klein stuurwiel van die sport model in. Slaan die deur met ‘n ongekende krag toe. Ligte aan. Ek onthou. Ek druk die knoppie, die hazards is aan. Ek trek weg, vol adrenalien, en jaag af in Lynwoodweg, Brooklyn se kant toe, die verkeersligte darem in my guns.

Lover moes gaan na ‘n spesifieke hospitaal in Pretoria, want Lover het ‘n baie spesifieke mediese fonds gehad. Ek het eers later, weereens na al die drama, besef, nood is nood, en alle hospitale moet ‘n pasiënt in nood help, maak nie saak van hul mediese voordele of gebrek daaraan nie. So jaag ek verby die Little Company of Mary Hospitaal in Groenkloof, my linkerhand al die pad op my lover se koelklam arm, my oë van tyd tot tyd op haar mond. So probeer ek haar asemhaling monitor. Sy raak weg, besef ek toe al histeries, by Fonteine Sirkel.  By Die Fonteine se hek, in die draai in Eufees Laan op, gooi ek die Ford Sport in tweede, en trap die petrol pedaal tot teenaan die staal, deur ‘n rooi lig, maar ek is desperaat.

Lover is weg! Deur die helder straatligte sien ek die klam grys gesig, uitdrukkingloos, salig. Sy reageer nie meer op my gegil nie. Drie minute later stop ek voor die groot automatiese deure van Bekende Ongevalle, effe verlig. Die personeel ken haar goed en sal haar weer red.

Ek gaan sit in die afskorting langs die een waar hulle haar behandel , die voorreg van mense ken. ‘n Staf verpleegster stap verby en knipoog simpatiek. Ek is hiper waaksaam, luister intens na al die geroesemoes. ‘n Drip is op! Suurstof! Drugs! Sy kom by! My trane stroom! Sy ís by! Ek is ongelooflik bly!

Allerhande vrae word gevra om al die moontlikhede vir die skielike asemnood te ondersoek.  Lover prewel die antwoorde saggies, moeg en met moeite. “Wat het jy geëet vanaand?” vra die een wat dink hy weet. “Ha..aa…aaas” fluister Lover. “Wat?!” sêskree Meneer-Dokter-Al-Wetend ongeduldig. Heeltemal bewus van haar psigiatriese geskiedenis, sêskree hy verder, “Het jy pille gedrink?!”

Langsaan glimlag ek en weet, nie hierdie keer nie…

Liezelief – hierdie is vir jou, mag jy terugkom en self kom celebrate.

19 Januarie 1971 – 6 Augustus 2004.

“Ontdooi”

Vandag voel ek soos in die dae toe ek nog slaappille gedrink het – is wakker, maar kom eers toepaslik by hier teen 11h00 se kant. Ek weet nie of dit vanoggend se grys miswolk is wat homself kom gemaklik maak het in my gemoed of die afgelope 10 dae se niks doen, wat die swaarste weeg nie. Ek sukkel om te ontdooi… Ek voel styf en stadig, nie net in my lyf nie!

My Sus het my twee keer die afgelope 10 dae half teleurgesteld gevra wanneer blog ek dan nou weer. Voor ek kon opgewonde raak omdat iemand my stories darem mis, sê sy nee, dis oor ‘n mens moet klaar maak waarmee ‘n mens begin het! Ek hoor vir Calvyn…

Wel ek het niks begin of klaargemaak die afgelope tien dae nie. My lewe was taamlik saai, net soos ek dit wou hê. En ek hanteer die skuldgevoel wat ongenooid langs my ego kom lê, met grasie. Maar om my, in die ganse heelal, het oorweldigend baie gebeur. Baie beginne en eindes. Goed wat ek nie altyd mooi verstaan of wil verstaan nie.

Mense het weer aandag gegee aan liewe Jesus se opstanding en dood deur meestal laat te slaap en baie paaseiers te verorber. Ander het Malls toe gegaan. Die wat oorbly het kerk toe gegaan.

Suid Afrikaanse politici het glad nie gerus nie, die verkiesing is om die draai en hulle het net ‘n kort tydjie oor om hul liegstories ten duurste te verkoop aan mense wat nie geld het nie.

Iemand wat ek ken se ma is in haar slaap in Australië saam met ander afgemaai deur ‘n besete buurman met ‘n volgelaaide haelgeweer.

Die Britse koningshuis het ‘n moerse party gehou en glo het ‘n derde van die wêreld se mense die troue van twee wonderlike en waardige mense meegeleef met behulp van hoë definisie en allerhande moderne tegnologie. Die bruid se sussie se boude het meer Tweets gekry as die bruid se rok of prinses Beatrice se sjampanje pienk krap op haar voorkop. Daar is glo nou weer hoop vir monargie.

‘n 24 jarige lesbian van KwaThema aan die Oos-Rand, Noxolo Nogwaza, is verkrag en gestenig.

Die Bloubulle het gewen, seker die rooi truie.

Charlize Theron se ouma, haar vermoorde pa se ma, is dood.

Obama het Osama gekry! Sy miljoen dollar mansion in Abottabad, Pakistan, het in ‘n bloedbad verander. Volgens berigte het hy een van sy vroue as ‘n menslike skild teen die amerikaanse koverte magte se koeël reën gebruik. Miskien is dit sensasie, miskien is dit propaganda, ek weet nie. Wat ek weet is dit – Bin Laden is tot martelaar verklaar…

203 mense is dood op SA paaie. 1016 motoriste is gearresteer vir meestal bestuur onder die invloed van alkohol en roekelose en nalatige bestuur. Daar is gerugte dat wetgewing so gaan verander dat ‘n mens glad nie mag bestuur as jy enige alkohol ingeneem het nie.

Die hele heelal is geraak, en ek het maar net ‘n paar insidente genoem. Soms is dit ‘n nuwe begin, soms ‘n baie hartseer einde. Soms ‘n begin sonder ‘n einde. Soms ‘n einde sonder ‘n begin. Ek weet nie. Dis al wat ek weet. En ek weet ons het ALMAL baie liefde nodig.

Ek wil vandag se blog eindig met Martin Luther King, Jr se skerp en toepaslike vertaling:

“Ek rou oor die verlies van duisende kosbare lewens, maar ek sal nie juig oor die dood van een persoon nie, selfs al is dit die vyand. Om haat met haat te vervang, vermenigvuldig haat, wat net meer donkerte gee aan ‘n nag reeds sonder sterre. Donkerte kan nie donkerte verdryf nie, slegs lig kan. Haat kan nie haat verdryf nie, net liefde kan dit doen.”