In die wolke – sonder bagasie

My laaste ALICE “Kies jou Tong” artikel:

Nee, ek ervaar geen gevoel van euforie, manie of selfs verliefdheid nie. Ek is net op ‘n vliegtuig, oppad Kaap toe.

Dit is die begin van die liefdesmaand, sigbaar in die manier waarop Liefde kommersieël en subtiel vir Kersfees van die winkelrakke afboelie.

Om liries te raak oor die liefde sal ek vir Sappho en haar susters los. Dit is nie dat ek sinies is nie. Dit is moeilik om in die wolke te wees as die verliefdheid my sisteem verlaat het. En dit het. Jare terug al. Vandag is ek net lief, die ‘ver’ vêr in die verlede.

Maar ek onthou dit vaagweg. Ek is onlangs herinner toe ‘n deelnemer in een van my werkswinkels my uitdagend vra hoe dit voel om verlief te raak op ‘n vrou. Die plooi op haar voorkop het ‘n frons geword, en toe iets in die vorm van ‘n vraagteken. Verbeel ek my of ruik sy hoendermis? Ek glo nie in sarkasme nie, maar moes die oorweldigende versoeking om iets sarkasties uit te spoeg, erg bedwing. Ek wou graag met my skerp geoefende tong iets terugsteek.

Ek vra “Wanneer was die laaste keer wat jy verlief was, op ‘n man of ‘n vrou, ek maak nie aannames nie?”  Verontwaardig sê sy “Op ‘n man ja – natuurlik!” Vir jou is dit dalk natuurlik, nie vir my nie, dink ek verveeld. Ek vra meer opgewonde “Wat het jy gevoel?” Ek wag vir die glinster in haar oë, die veraf uitdrukking van ‘n oomblik se herinnering en lekkerkry. ‘n Minuut tik-tok verby en niks gebeur nie!

En ek besef, ag shame, sy weet nie hoe dit voel om verlief te wees nie. Sy het dit heel moontlik nog nooit ervaar nie? En al wat sy weet is dat sy iets moet voel, en dat die iets vir ‘n man moet wees.

Begeesterd haak ek af, “Dit is soos om net twee blokkies hoë-GI Weetbix te eet, en nooit deur die dag weer honger te word nie. Dit is wanneer alle breinaktiwiteite geminimaliseer is tot ‘n enkele gedagte aan háár. Dit is om rose te ruik in ‘n vertrek sonder blomme en oop vensters. Dit is daai ongekende geduld wat jy het, selfs met taxidrywers, maar die ongeduld in die tye van afwagting tot die herontmoeting. Dis wanneer niks anders saak maak behalwe om by haar te wees nie. Dit is om “I drove all night” op jou kasset letterlik op te luister, net anderkant Laingsburg al, oppad terug Pretoria toe. Dit is om in die oomblik te leef, sonder ‘n worry oor môre, of wat die mense gaan sê…”

Die dame se gesigsuitdrukking het nie verander nie.

Die vraag wat gay girls my die meeste vra, van toe tot nou, is snaaks genoeg nie hoe het twee girls seks, soos die meeste straights wil weet nie, nee, dis “Waar ontmoet ek ander (nice) gay girls?” En voor ek kan antwoord “Daar waar jy dit die minste verwag”, word ek met die realiteite gebombardeer soos – ek gaan nie na gay clubs toe nie, of – meeste van my vriende is straight, of – ek neem nie deel aan spansport nie…

Ek kyk bietjie anders na die lewe. Ek glo ‘n mens kan ’n geliefde in die supermark ontmoet, terwyl altwee vir dieselfde blikkie baked beans mik.  Maar dié insig en wysheid was my nie altyd beskore nie.

Ek het geleer.

Dit is arrogant van my om ‘n ander toe te laat om intiem lief te word vir my as ek nie lief is vir myself nie.  Dit het ek besef tydens die slapelose nagte van my laaste break-up, toe ek kaalgat myself betraand probeer vind het in die bodem van ‘n bottel rooiwyn, op die bank vir twee, in my leë huis met sy groot paaiement. Na weke se wroeg, trane en honderde druppels Rescue Remedy, was die liggie aan die einde van die tonnel nie net meer dié van die aankomende trein nie.

Ek het geweet.

Ek like nie myself nie. Het ek al ooit, het ek gewonder. Het ek nie maar deur ander, veral my lovers, se oë gekyk en gehoop ek is OK genoeg nie?  Ek het besef ek wou nie meer net OK wees nie. Met die vashou aan daardie vae liggie het my reis van emosionele en spirituele groei begin.

“Sal jy jouself date?” vra my kollega nou die dag. Sewe jaar terug sou ek gesê het “Is jy mal? Nooit!” Vandag is dit ‘n ander storie.  Vandag hou ek van wie ek is, van wie ek myself toegelaat het om te word.  Dié selfliefde is nie ‘n selfsugtige selfbeheptheid, ‘n narsissistiese selfbelang nie.  Dit is eenvoudig ‘n wete. Dit is ‘n geloof. Dit is ‘n bewustheid dat my honger vir die lewe net gestil kan word met dít wat vir my ware energie gee en dat ek net dit kan gee wat ek in oorvloed van het.  In elk geval is daar ‘n geweldige tekort aan liefde in die wêreld.  Hoe meer ek vir myself omgee en my grense in plek het, hoe meer kan ek gee, en hoe minder verwag ek (ook wetend dat dit nie altyd maklik is nie).  Ek trek tog aan dit wat ek is.

Katherine Centre skryf in haar boek, Everyone is Beautiful: People are always beautiful when you love them. Ek glo dit is van toepassing op die self, en dan ‘n ander. Ek glo ook dit is ‘n mooigeit wat verby die fisiese gaan.

Eers toe ek my les geleer het, en besef het wat dit beteken om myself te aanvaar en lief te hê, net soos ek is, het ek my Groot Liefde ontmoet.  Toe nou nie in die winkel by die baked beans blikkie rak nie, nee, by ‘n sokkiejol – nogal. En so, sonder verwagting, oordadige verliefdheid of bagasie, het ons liefdesreis saam begin.

Die Matras

Muiznes, die nuut oorgedoende 31 vierkante meter snoesnes by die see, moet ‘n nuwe bed kry. Die beplanning is dat die nuwe Seally sy opwagting moet maak dieselfde dag as die nuwe opgewonde eienaars. Dus, stap ons twee dames die winkel binne, so om en by 3 weke voor die datum van aflewering.

Ons word arrogant vriendelik ontvang deur ‘n jong blonde man wat lyk of hy eerder op die strand by Surfer’s Corner hoort, as in ‘n stil bed-en-matras-winkel in Centurion op ‘n Saterdag oggend.

Mens kan eintlik bel en ‘n bed bestel, maar hoe weet mens hoe die nuwe duur matras dan voel? Mens moet mos eers bietjie op dit lê? Ons kry een wat ons lywe en sak pas, sommer die eerste bed by die ingang van die winkel.

So spreek Lifi ons behoefte/s selfhandhawend, tog met ‘n tikkie aggressie uit. Surferdude sê hy dink nie die bed kan 1600km verder in die Kaap afgelewer word nie. Lifi strip haar moer en kap hom iets heeltemal aggressiefs toe en eis om met iemand te praat wat weet wat aangaan.

‘n Vriendelike slimmer man sê die aflewering is heeltemal moontlik, hy moet net seker maak dat daar voorraad is in die groot stoor in die Kaap. Lifi grom iets na Surferdude se kant. Ek herinner haar dat dit nie nodig is om ongeskik te wees nie.

Terwyl ons sit en die admin voltooi, help Surferdude ander kliënte van die bed tot op die grond. Hulle verlaat die winkel vinnig.

Twintig minute later is als betaal en gereël. Tevrede stap ons deur se kant toe. Surferdude kom groet. “Geniet die bed” sê hy en glimlag groot.