“Sê eers vir my, het julle my gemis?”

“Sê eers vir my, het julle my gemis?”

Ek sien haar glimlag nog hier vlak voor my. Haar oë dans en die lekkerkry daarin kielie my, ek móét smile. Dis die woorde waarmee Riana Scheepers ons groepie prosa wannabe’s elke middag gegroet het. Elke dag, van die vyfde Winterskool van die Eenheid van Kreatiewe Skryfkuns van UP, verlede week. Ek sou só graag dit weer wou hoor!

Dit was ‘n ervaring wat my op soveel vlakke geraak het. Ek kan net nie meer na myself, stories, woorde en skryf kyk soos voorheen nie. Iets het gebeur, ek kan nie regtig sê wat nie. Al wat ek weet is dat daai “iets” gróót is! Riana het ons gewaarsku dat ons hier teen die derde aand moontlik aan Stendhal Sindroom kan lei. Dis wanneer jy so oorweldig word deur die blootstelling aan skoonheid en kuns, dat dit jou depressief (of ‘n bietjie mal) laat. So het daai blues ook vir my getref, wragtag teen die Woensdag aand. Dit het my nog nie heeltemal verlaat nie, alhoewel dit meer en meer plek maak vir ‘n kinnerlike opgewondenheid.

Ook die ander skrywers, Henning Pieterse, Joan Hambidge, Veronique Tadjo, Deon Maas, Alexander Strachan, Aryan Kaganof, David Medalie, Jeanette Ferreira en Leon de Kock, het van hulself en hul werk met ons gedeel. By elke een het ek iets geleer. Ek het meestal soos ‘n kind in ‘n 3D Disney fliek gevoel.

Maar dis in die middag sessies, saam met Riana, wat ek meer van myself as skrywer geleer het. Ja, ek is nie meer net ‘n storieverteller nie! Ek onthou hoe ek aan die begin van die blog gesê het ek is nie ‘n skrywer nie. Ek was net bang vir kritiek. Nie dat kritiek nou minder van ‘n uitdaging is nie. Ek het net besef dat ek móét skryf, of ek nou wil of nie! Ek sal maar net moet leer om kritiek as skrywer te hanteer.

In die middae het Riana ons verskeie oefeninge laat doen. Dit het ons vertroud gemaak met woorde, sinkonstruksie en teks en die gebruik daarvan binne die kortverhaal. Ja, die kortverhaal, wat ek nou verseker weet ook my genre is. (Tot ‘n paar weke terug het ek nie geweet wat genre binne die konteks van skryf regtig beteken nie…)

Ek het geleer dat ek in die hede moet skryf. Daar’s te veel “ge’s” in Afrikaans as mens in die verlede tyd skryf. Ek het geleer dat ek nie vir altyd net oor my eie belewenisse kan skryf nie. Ook dat daar ‘n storie móét wees. Ek gaan my stories moet fiksionaliseer (is daar so ‘n woord?) Ek het geleer wat die verskil is tussen “telling” en “showing”. Ek het geleer dat clichés net so onaanvaarbaar is soos ‘n uitroepteken en ontoepaslike byvoeglike naamwoorde. Ek het geleer dat die titel net so belangrik is soos die eerste sin. Joan Hambidge het gesê jy moet ‘n vel soos ‘n renoster op speed hê wanneer dit by kritiek kom. Al die ander skrywers het iets soortgelyk gesê.

Van Woensdag middag af het ons mekaar se 100 woord kortverhaal, titel ingesluit, bespreek en kritiek gegee. Ek skryf Charlotte. Niks is verander nie, behalwe dat die woord ‘minirok’, een woord geword het.

Ek sluit af en deel dit graag met julle. Lewer gerus kritiek – ek moet mos leer?!

Charlotte deur Delene van Dyk

Vanaand gaan ek wen. Als perfek in plek, ook die oorbelle, my ore nog brandseer van die nuwe gaatjies. Dit pas by my stywe rooi minirok, glimmend – in die dowwe lig staan ek en vryf trots oor my kurwes. Vir oulaas kleur ek my lippe in, bloedrooi, ek vat my tyd. Hy kan wag, ek doen al vir jare. Diep asem, ek maak die woonsteldeur oop. “Hallo, Daan?”
Twee dae later staar ek na my rekenaarskerm en voel ‘n bekende warmte in my nek. Baas Daan fluister, “Dankie Charlieboy, daai girl was rooiwarm”.
Ek glimlag. Eerste prys!

1 Comment (+add yours?)

  1. Eve
    Jul 06, 2011 @ 15:52:24

    Excellent!!! Sorry, geen kritiek.

    Reply

Leave a comment